Verordening insake Strande


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake Strande, 2005

Om aktiwiteite op strande en openbare grond aangrensend aan strande te beheer en te orden.

1. Woordbepaling

In hierdie verordening, tensy teenstrydig met die sinsverband, beteken:—"gemagtigde beampte" ’n werknemer van die Raad wat deur die munisipale bestuurder aangestel is om die magte van ’n gemagtigde beampte ingevolge die bepalings van hierdie verordening uit te oefen, en ’n lewensredder;"getypoel" ’n poel wat op die strand of in die see opgerig is en uitsluitlik ontwerp is vir baaidoeleindes;"kennisgewing" ’n kennisgewing wat deur die Raad, die munisipale bestuurder of ’n gemagtigde beampte opgerig is of vertoon word;"lewensredder" ’n persoon wat in daardie hoedanigheid deur die munisipale bestuurder aangestel is en sluit in ’n persoon wat as ’n lewensredder geregistreer is;"munisipale bestuurder" die persoon wat deur die raad ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998) aangestel is;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"Raad" die munisipale raad van die munisipaliteit;"see" daardie gedeelte van die see waarin normaalweg gebaai word en sluit in die water en die bedding van ’n getyrivier of getystrandmeer;"strand" die water en die land tussen die laagwatermerk en die hoogwatermerk en enige aangrensende grond wat aan die munisipaliteit behoort en waartoe die publiek toegang het, maar sluit dit uit enige doelgeboude formele openbare geriewe soos bepaal word ingevolge die Raad se Verordening insake Openbare Geriewe;"vaartuig" ’n boot, jet-ski of ander vaartuig, en"voertuig" ook ’n sleepwa, woonwa of ’n implement.

2. Toepassing van hierdie verordening

(1)Hierdie verordening is van toepassing op enige staatsorgaan.
(2)Die bepalings van hierdie verordening doen nie afbreuk aan die bepalings van enige ander wetgewing nie.

3. Verbode handelinge

Niemand mag—
(a)afval, vullis, bottels of enigiets wat ’n oorlas of gesondheidsgevaar mag skep, op die strand of in die see plaas of laat uitloop of begrawe nie;
(b)die strand of die see betree en daar vertoef terwyl so ’n persoon aan ’n aansteeklike of besmetlike siekte ly nie;
(c)terwyl so ’n persoon op die strand of in die see is—
(i)onwelvoeglike, aanstootlike of onfatsoenlike taal besig nie, of
(ii)hom of haar aanstootlik, onbehoorlik of wanordelik gedra nie, of
(iii)opsetlik of weens nalatigheid enigiets doen wat ongerief aan ander persone wat van die strand of die see gebruik maak, kan veroorsaak, of wat moontlik die vrede kan versteur nie.
(d)sonder die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag bepaal, ongeag of dit vir vergoeding of wins is, ’n vermaaklikheid, sportaktiwiteit, ontspanningsaktiwiteit of besigheid of handel van watter aard ookal op die strand of in die see bedryf nie;
(e)sonder die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag bepaal, ’n luidspreker, ’n openbare luidsprekerstelsel of iets dergeliks op die strand of in die see gebruik nie;
(f)sonder die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag bepaal, op die strand of in die see ’n advertensie vertoon of toelaat dat dit vertoon word nie;
(g)’n modelvliegtuig, vlieër of soortgelyke toestel laat vlieg of ’n spel speel wat moontlik besering of ongemak aan toeskouers of ander persone op die strand of in die see kan veroorsaak nie;
(h)’n spel met ’n harde bal speel nie in ’n gebied waar sulke spele verbied word deur ’n kennisgewing, of
(i)bedwelmende drank gebruik nie in ’n gebied waar sulke gebruik verbied word deur ’n kennisgewing.

4. Baaiery

(1)Die Raad kan baaiery óf permanent óf tydelik in enige deel van die see of ’n getypoel verbied.
(2)’n Gemagtigde beampte kan baaiery in enige deel van die see of ’n getypoel verbied vir solank as die toestand van die see onveilig geag word.
(3)’n Permanente verbod kragtens hierdie verordening word by wyse van ’n kennisgewing aangedui en ’n tydelike verbod deur enige ander herkenbare en verstaanbare teken aan beide uiteindes van die verbode gebied.

5. Beskadiging van eiendom

Niemand mag—
(a)’n kennisgewingbord, kennisgewing of ander kenteken wat deur die Raad, die munisipale bestuurder of ’n gemagtigde beampte aangebring, opgeplak of geplaas is, verskuif, skend of andersins daaraan peuter nie, of
(b)peuter aan of misbruik maak van, of skade aanrig aan enige gebou, gemakshuisie, skuilplek, kleedkamer of ander gerief wat vir die gebruik van die publiek op die strand verskaf is nie.

6. Diere op die strand

(1)Niemand mag—
(a)in stryd met ’n kennisgewing, ’n hond wat onder sy of haar toesig is, op die strand of in die see of in ’n getypoel laat gaan of daar laat vertoef nie;
(b)waar die aanwesigheid van honde nie verbied word nie, ’n hond wat onder sy of haar toesig is, op die strand of in die see laat gaan of daar laat vertoef nie, tensy so ’n hond behoorlik daarvan weerhou word om ergernis aan enige ander persoon of persone te veroorsaak;
(c)’n hond wat onder sy of haar toesig is, op enige gebied aangrensend aan die gebied tussen die hoog- en laagwatermerke laat gaan of toelaat dat dit daarop gaan, tensy so ’n hond aan ’n leiband is nie, of
(d)behalwe met die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag stel, ’n perd of ander dier wat onder sy of haar toesig is op die strand of in die see laat gaan of toelaat dat dit daarop of daarin vertoef nie.
(2)’n Gemagtigde beampte kan enige hond of ander dier wat nie of skynbaar nie onder die beheer van ’n persoon is nie, skut.

7. Reddingstoestelle

Niemand mag—
(a)uitgesonderd ’n gemagtigde beampte, behalwe in tyd van nood, enige reddingstoue of -boei of ander reddingsapparaat wat op die strand of in die see aangebring is of in stand gehou word, aanraak, hanteer of op enige wyse gebruik of beskadig nie;
(b)die werking van ’n reddingstoestel of -apparaat verhinder of belemmer terwyl dit op die strand of in die see in gebruik is nie.

8. Voertuie en lugvaartuie

Niemand mag—
(a)behalwe waar dit deur ’n kennisgewing toegelaat word, ’n voertuig op die strand bestuur of parkeer nie;
(b)teenstrydig met ’n kennisgewing, ’n voertuig wat deur ’n dier getrek word, ’n fiets of ’n voertuig wat deur die wind aangedryf word, op die gedeelte van die strand tussen die hoog- en laagwatermerke bring, daarop ry of dit bestuur nie, of
(c)behalwe in ’n noodgeval of met die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag bepaal, ’n vliegtuig, insluitend ’n mikroligte vliegtuig, of enige toestel wat op die beginsels van ’n vlieër of valskerm werk, op die strand bring of land nie.

9. Beheer oor vaartuie

(1)Die Raad kan—
(a)deur kennisgewing ’n plek of plekke op die strand afsonder vir die tewaterlating, landing, op die strand sleep, hou, verhuur of huur van vaartuie;
(b)deur kennisgewing ’n plek of plekke afsonder vir die uitsluitlike gebruik van verskillende soorte bote of vaartuie, of vir slegs die gebruik van vaartuie wat aan lede van bootklubs behoort;
(c)die gebruik of hantering van enige vaartuig of soort daarvan van sekere gedeeltes van die strand verbied, en kan onderskeid maak tussen vaartuie wat behoort aan of gebruik word deur lede van bootklubs en dié wat behoort aan of gebruik word deur nie-lede van sulke klubs;
(2)Niemand mag ’n vaartuig in stryd met subartikel (1) van hierdie verordening te water laat, aan land bring, op die strand sleep, hou, verhuur of huur nie, tensy dit in ’n noodgeval gedoen word of om lewensreddingswerk te verrig.
(3)Niemand mag ’n vaartuig vir langer as 24 uur sonder toesig op die strand laat nie, tensy dit deur ’n kennisgewing toegelaat word.
(4)’n Gemagtigde beampte kan ’n vaartuig skut wat in stryd met subartikel (3) sonder toesig op ’n strand gelaat word.
(5)Niemand mag—
(a)’n vaartuig, roeiplank of branderski gebruik of hanteer op ’n wyse wat gevaarlik is vir of ergernis aan enige persoon op die strand of in die see veroorsaak nie; en
(b)’n vaartuig, roeiplank of branderski in die see gebruik waar dit deur ’n kennisgewing verbied word nie.

10. Beheer oor brander- en seilplankry

(1)Die Raad kan branderry of seilplankry in enige deel van die see verbied, hetsy permanent of tydelik.
(2)’n Gemagtigde beampte kan branderry of seilplankry verbied op grond daarvan dat dit onveilig is of waarskynlik ongerief vir of besering van ander gebruikers van die strand of die see of rusverstoring kan veroorsaak.
(3)Enige permanente verbod word by kennisgewing aan albei kante van die verbode gebied aangetoon en ’n tydelike verbod deur enige ander herkenbare en verstaanbare teken aan beide uiteindes van die verbode gebied.
(4)Niemand mag branderry of seilplankry in stryd met ’n verbod soos beoog in subartikels (1) en (2) nie.

11. Beheer oor kampering op die strand

Behalwe in ’n gerief soos deur die Raad vir die doel voorsien of met die skriftelike toestemming van die munisipale bestuurder, mag niemand op enige deel van die strand ’n tent of ander vaste struktuur opslaan of daarop kampeer nie.

12. Beheer oor hengelaars

Niemand mag—
(a)teenstrydig met ’n kennisgewing visvang of hengel nie;
(b)waar visvang of hengel nie verbode is nie, op so ’n manier ’n lyn of gereedskap ingooi of swaai dat dit iemand anders in gevaar stel of ergernis aandoen nie, of
(c)enige aas, hengelgerei of vullis op die strand laat nie.

13. Beheer oor vure

Niemand mag op die strand vuurmaak nie, hetsy by wyse van ’n gastoestel of andersins, behalwe op sodanige plekke wat vir die doel deur middel van ’n kennisgewing deur die Raad afgesonder is.

14. Baaigebiede

Die Raad kan deur middel van ’n kennisgewing enige gedeelte van die strand of die see, met inbegrip van ’n getypoel, uitsluitlik vir baaiery of sonbaaiery afsonder en reserveer.

15. Delegasie

Die munisipale bestuurder mag enige bevoegdheid of plig wat ingevolge die bepalings van hierdie verordening aan die munisipale bestuurder toegeken is, skriftelik aan ’n amptenaar van die munisipaliteit delegeer.

16. Misdrywe en strawwe

’n Persoon wat—
(a)’n bepaling van hierdie verordening oortree;
(b)nalaat om ag te slaan op ’n kennisgewing;
(c)nalaat om aan ’n opdrag van ’n gemagtigde beampte te voldoen, of
(d)’n gemagtigde beampte weerstaan of inmeng met die uitvoering van so ’n beampte se pligte
is skuldig aan ’n misdryf en kan by skuldigbevinding ’n boete opgelê word.
▲ To the top