Verordening insake Kredietbeheer en Skuldinvorderingsbeleid


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake Kredietbeheer en Skuldinvorderingsbeleid, 2005

Om gevolg te gee aan die munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderings-beleid en die implementering en uitvoering daarvan, soos vereis ingevolge artikel 98 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, Nr. 32 van 2000 en om gevolg te gee aan die verpligting ingevolge artikel 96 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, Nr. 32 van 2000 om alle gelde in te vorder wat aan die munisipaliteit verskuldig en betaalbaar is.

1. Woordbepaling

Tensy onbestaanbaar met die sinsverband beteken—"belasbare eiendom" eiendom waarop die munisipaliteit ’n belasting ingevolge die bepalings van die Eiendomsbelastingswet kan hef;"belastings" ’n munisipale belasting op belasbare eiendom;"belastingsbeleidverordening" die munisipaliteit se belastingsbeleidverordening, gepubliseer in die Provinsiale Koerant;"beleid" die munisipaliteit se beleid insake kredietbeheer en skuldinvordering, uiteengesit in die bylae van hierdie verordening;"burgemeester" die uitvoerende burgemeester van die munisipaliteit;"diens" enige munisipale diens soos omskryf in die Stelselswet en enige ander diens wat die munisipaliteit lewer soos uiteengesit in die beleid;"Eiendomsbelastingwet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Eiendomsbelasting, Wet Nr 6 van 2004;"gebruiker" ’n persoon wat aansoek gedoen het en ’n ooreenkoms met die munisipaliteit gesluit het vir die lewering van ’n diens deur die munisipaliteit of enige ander persoon wat ingevolge enige ander verordening van die munisipaliteit aanspreeklik is vir die betaling van ’n diens;"hulpbehoewende" ’n skuldenaar wat dit nie kan bekostig om vir die lewering van basiese dienste of belasting te betaal nie;"MFB" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, Nr 56 van 2003;"munisipale bestuurder" die persoon wat deur die raad ingevolge die Strukturewet aangestel is;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas.;"raad" die munisipale raad van die munisipaliteit;"skuld" enige geld wat aan die munisipaliteit verskuldig is vir die lewering van ’n diens, en sluit dit gelde in wat verskuldig is ten opsigte van eiendomsbelasting, behuising en enige ander gelde aan die munisipaliteit verskuldig;"skuldenaar" einige persoon wat geld aan die munisipaliteit verskuldig is;"skuldooreenkoms" ’n skriftelike ooreenkoms tussen die munisipale bestuurder en ’n skuldenaar ingevolge waarvan ’n skuldenaar toegelaat word om voorwaardelik agterstallige skuld te vereffen;"Stelselswet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet 32 van 2000);"Strukturewet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998);"tariefbeleidverordening" die munisipaliteit se tariefbeleidverordening, gepubliseer in die Provinsiale Koerant;"vervaldatum" by gebrek aan enige uitdruklike ooreenkoms en ten opsigte van—(a)belastings, behalwe belastings wat afbetaal word, die eerste dag van Julie van die finansiële jaar waarvoor sodanige belasting bepaal is, en(b)enige diens en belastings wat afbetaal word, die datum wat op die rekening aangedui word en deur die munisipale bestuurder bepaal is as die laaste datum waarop die rekening betaal kan word;"voorafbetaalmeter" ’n meter wat programmeer kan word om teen voorafbetaling die vloei van hoeveelhede energie in ’n elektriese stroomkring toe te laat.

2. Oogmerk

Die doel van die kredietbeheer- en skuldinvorderingsmeganismes en -prosedures in hierdie verordening is om te verseker dat alle gelde wat aan die munisipaliteit verskuldig en betaalbaar is, insluitende die volgende, gevorder word—
(a)gelde, kostes of tariewe ten opsigte van enige diens;
(b)belasting;
(c)diverse gelde, kostes of tariewe; en
(d)kostes en rente op enige uitstaande bedrag.

3. Dienslewering

(1)Enige persoon wat van ’n diens gebruik wil maak moet daarom aansoek doen op die voorgeskrewe amptelike vorm.
(2)’n Aansoek vir ’n diens moet by die munisipaliteit gedoen word ingevolge die bepalings van die betrokke verordening wat die verlangde diens reguleer of ingevolge hierdie beleid indien die betrokke verordening nie so ’n bepaling bevat nie.
(3)Enige persoon wat nie meer van ’n diens gebruik gaan maak nie moet die munisipale bestuurder skriftelik daarvan in kennis stel op die amptelike stakingsvoms.

4. Diensooreenkoms

(1)Tensy anders bepaal in ’n verordening beoog in artikel 3(2), of enige ander toepaslike wetgewing, moet ’n persoon wie se aansoek om ’n diens goedgekeur is met die munisipaliteit ’n ooreenkoms aangaan vir die lewering van sodanige diens.
(2)Tensy anders bepaal in ’n verordening beoog in artikel 3(2), mag die munisipale bestuurder ’n ooreenkoms namens die munisipaliteit aangaan met die persoon wat ’n diens verlang.
(3)Behalwe waar anders bepaal in hierdie verordening, mag geen diens gelewer word totdat ’n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die gebruiker aangegaan is nie.

5. Kostes vir dienste en belasting

(1)Alle gelde, kostes of tariewe betaalbaar ten opsigte van dienste, insluitend, maar nie beperk nie, tot die betaling van aansluitingskostes, vaste kostes, of enige bykomende kostes en rente op uitstaande bedrae, word deur die raad bepaal in ooreenstemming met—
(a)artikel 75A van die Stelselswet; en
(b)die munisipaliteit se tariefbeleidverordening.
(2)Die belasting betaalbaar deur die eienaar van belasbare eiendom en rente op uitstaande bedrae, word deur die raad bepaal in ooreenstemming met—
(a)hoofstuk 2 van die Eiendomsbelastingwet, en
(b)die munisipaliteit se belastingsbeleidverordening.

6. Deposito’s

(1)Deposito’s is slegs betaalbaar in die geval van water- en elekrisiteitsdienste; met dien verstande dat geen deposito betaalbaar is nie indien ’n voorafbetaalmeter vir die besondere diens installeer is.
(2)Deposito’s is vooruitbetaalbaar vir die lewering van nuwe dienste of die heraansluiting van dienste.
(3)Die raad bepaal die bedrag van deposito’s vir die verskillende kategorië verbruikers in sy jaarlikse tariefvasstelling.
(4)Die munisipale bestuurder kan die bedrag van enige bestaande deposito aanpas, soos bepaal in die beleid.

7. Renteheffings

(1)Die munisipale bestuurder moet maandeliks rente hef en vorder ten opsigte van enige skuld wat na die vervaldatum uitstaande is vanaf die eersvolgende werksdag van die maand wat volg op die vervaldatum.
(2)Vir die toepassing van subartikel (1), word ’n gedeelte van ’n maand geag ’n volle maand te wees.

8. Skuldinvorderingsverantwoordelikheid

(1)Die munisipale bestuurder moet alle gelde wat aan die munisipaliteit verskuldig en betaalbaar is, in ooreenstemming met die Stelselswet, die Eiendomsbelastingwet, hierdie verordening en ander toepaslike wetgewing, invorder.
(2)Geen afwyking van die beleid is toelaatbaar sonder dat die beleid gewysig word nie.

9. Ooreenkoms om agterstallige skuld te betaal

(1)Die munisipale bestuurder mag in ooreenstemming met die bepalings van die beleid, ’n skuldooreenkoms met ’n skuldenaar aangaan.
(2)’n Skuldenaar wat weier om ten opsigte van enige agterstallige skuld ’n skuldooreenkoms aan te gaan, word hanteer volgens die voorskrifte van die beleid.
(3)Indien ’n dispuut ontstaan oor die bedrag van die agterstallige skuld, moet die skuldenaar, tot tyd en wyl die dispuut uit die weg geruim is, steeds voortgaan om gereelde betalings ingevolge die skuldooreenkoms te maak.

10. Beperking of staking van dienslewering

(1)Die munisipale bestuurder kan die voorsiening van water, gas of elektrisiteit beperk of afsny, of die voorsiening van enige ander diens aan die perseel van ’n gebruiker staak, wanneer sodanige gebruiker
(a)versuim om betaling voor of op die vervaldatum te maak;
(b)versuim om aan ’n skuldooreenkoms te voldoen;
(c)’n diens wat beperk of afgesny is, sonder magtiging heraansluit;
(d)peuter met of ’n diens of ’n meter omseil; of
(c)versuim om te voldoen aan ’n voorwaarde van dienslewering wat deur die munisipaliteit opgelê is.
(2)Die munisipale bestuurder kan enige diens wat beperk of gestaak is heraansluit en die voorsieningsvlakke herstel, alleenlik—
(a)nadat die agterstallige skuld, insluitend rente en die koste vir staking en heraansluiting, indien enige, ten volle betaal en aan enige ander voorwaarde van die munisipaliteit voldoen is; of
(b)nadat ’n skuldooreenkoms met die skuldenaar aangegaan is.
(3)Die munisipale bestuurder kan enige diens beperk of staak in die geval van enige agterstallige skuld.

11. Kosteverhaling

Die munisipale bestuurder mag die volgende koste wat deur of namens die munisipaliteit aangegaan is, verhaal—
(a)werklike onkoste en adminstrasiegelde waar betalings aan die munisipaliteit deur middel van verhandelbare instrumente deur banke dishonoreer is toe dit vir betaling aangebied is;
(b)regs- en administrasiekostes, insluitende prokureur- en-kliëntkoste, rente op agterstallige bedrae, invorderings-kommissie en opsporingsgelde wat aangegaan is vir die verhaling van skuld;
(c)die werklike koste wat aangegaan is vir enige optrede om betaling van die gebruiker te versoek of om die gebruiker per telefoon, faks, e-pos, brief of ander wyse aan te maan;
(d)afsny-, wanbetalers- en heraansluitingsfooie, waar enige diens gestaak is as gevolg van die nie-nakoming van hierdie verordening, en
(e)enige verliese wat die munisipaliteit mag ly as gevolg van peutering met munisipale toerusting of meters.

12. Konsolidasie en kreditering van rekeninge

Die munisipale bestuurder kan—
(a)die afsonderlike rekeninge van ’n skuldenaar konsolideer, en
(b)’n betaling wat deur so ’n skuldenaar gemaak is, teen enige rekening van so ’n skuldenaar krediteer; en
(c)enige betaling van ’n gebruiker eerstens toewys aan die kostes gemeld in artikel 9, daarna aan enige rente wat opgeloop het, en daarna aan die uitstaande bedrag.

13. Beslaglegging

(1)Die munisipale bestuurder kan, ten einde skuld in te vorder en, as ’n laaste uitweg, by ’n bevoegde hof aansoek doen om beslag te lê op die roerende en onroerende eiendom van ’n skuldenaar.
(2)Die munisipale besturder kan by ’n hof aansoek doen om ’n bevel om op enige huurgeld wat ten opsigte van enige belasbare eiendom betaalbaar is, beslag te lê, vir die gedeeltelike of volledige verhaling van eiendomsbelasting wat vir meer as drie maande na die vervaldatum uitstaande is.

14. Betalings

(1)Enige bedrag aangebied vir die delging van skuld word aanvaar by enige kontantkantoor van die munisipaliteit of kantoor van ’n gemagtigde agent.
(2)’n Aanbod as synde volle en finale vereffening van skuld, wat minder is as die uitstaande bedrag, word teen die skuldenaar se rekening gekrediteer sonder aanvaarding van die aanbod.
(3)Slegs amptelike kwitansie van die munisipaliteit word erken as delging van skuld.

15. Hulpbehoewendes

’n Skuldenaar wat hulpbehoewendheid kan bewys, word behandel soos in die beleid uiteengesit.

16. Wysiging van beleid

(1)Die burgemeester moet tydens die opstel van die jaarlikse begroting die proses om die beleid te wysig, indien nodig, ingevolge die MFB koördineer.
(2)Enige wysiging aan die beleid moet goedgekeur word wanneer die jaarlikse begroting ingevolge die MFB oorweeg word en moet as ’n wysiging tot hierdie verordening gepubliseer word.

17. Delegasie

Die munisipale bestuurder mag enige bevoegdheid of plig wat ingevolge die bepalings van hierdie verordening aan die munisipale bestuurder toegeken is, skriftelik aan ’n amptenaar van die munisipaliteit delegeer.

18. Terugbetaling van onverskuldigde betalings

(1)Waar enige bedrag as gevolg van ’n feite- of regsdwaling deur of ten behoewe van enige persoon aan die raad betaal is terwyl sodanige bedrag nie regtens aan die raad verskuldig is nie, moet die munisipale bestuurder op skriftelike aansoek binne ’n tydperk van twaalf maande vanaf die betaling van sodanige bedrag sodanige bedrag terugbetaal.
(2)Ondanks die bepalings van subartikel (1) mag die munisipale bestuurder sodanige bedrag aanwend ter volle of gedeeltelike vereffening van enige ander bedrag wat op die datum van sodanige aansoek deur sodanige persoon aan die raad verskuldig en betaalbaar is en die balans (indien enige) van sodanige bedrag na sodanige vereffening aan sodanige persoon terugbetaal.

19. Strafbepaling

Enige persoon wat—
(a)die munisipale bestuurder of ’n amptenaar van die munisipaliteit in die uitvoering van sy of haar pligte ingevolge hierdie verordening weerstaan of hinder;
(b)met die munisipaliteit se toerusting of die verbruik van dienste inmeng;
(c)met die munisipaliteit se toerusting peuter of enige seël op ’n meter breek;
(d)die bepalings van hierdie verordening of die beleid oortree of nalaat om daaraan te voldoen, of
(e)nalaat om aan ’n kennisgewing wat ingevolge hierdie verordening uitgereik is, te voldoen,
is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete.

Schedule

Deel 1 – BELASTING

1. Wanneer verskuldig en betaalbaar

Alle belastings wat aangeslaan word soos deur die raad bepaal, word verskuldig en betaalbaar op die vervaldatum vir sodanige belasting; met dien verstande dat enige belastings wat aangeslaan is ten opsigte van onroerende eiendom wat belasbaar geword het na die vervaldatum, verskuldig en betaalbaar sal word op die datum waarop die aanslag daarvan op die eienaar gedien word.

2. Aanspreeklikheid vir betaling

Die eienaar van belasbare eiendom is op die vervaldatum in die finansiële jaar waarvoor die belastingkoers vasgestel word, verantwoordelik vir die betaling van alle belastings wat daarvolgens opgelê word; met dien verstande dat in die geval van eiendom wat belasbaar word na die vervaldatum, die eienaar verantwoordelik sal wees vir die betaling van sodanige belastings op die datum waarop dit belasbaar word.

3. Jaarlikse betaling

(1)Indien enige belasting, behalwe belasting wat in paaiemente afbetaal word, onbetaald bly na ’n tydperk van vier maande vanaf die datum waarop die belastings verskuldig en betaalbaar geword het, word rente daarop gehef vanaf die dag wat volg op die datum waarop die tydperk verstryk.
(2)Indien enige belasting, behalwe belasting wat in paaiemente afbetaal word, onbetaald bly vir ’n tydperk van vier maande nadat sodanige belasting verskuldig en betaalbaar geword het, moet die munisipale bestuurder—
(a)betaling van die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is binne ’n tydperk van veertien dae vereis, en
(b)indien die belastings na afloop van die gemelde tydperk van veertien dae steeds onbetaald is, regstappe instel vir die verhaling daarvan.

4. Betaling in paaiemente

(1)’n Eienaar van belasbare eiendom kan alle belastings ten opsigte van sodanige eiendom in paaiemente afbetaal. Betaling geskied dan in twaalf gelyke paaiemente wat verskuldig en betaalbaar is voor of op die vervaldatum.
(2)Indien enige paaiemente waarna in subitem (1) verwys word, onbetaald bly na die vervaldatum, moet die munisipale bestuurder—
(a)rente daarop hef en verhaal vanaf die eerste werkdag van die maand wat volg op die vervaldatum, vir elke maand wat so ’n paaiement onbetaald bly, en
(b)indien, gedurende enige finansiële jaar, nie minder as drie paaiemente, agtereenvolgend al dan nie, onbetaald bly of agterstallig betaal word, die eienaar se reg om belasting in paaiemente te betaal, herroep.
(3)Indien belastings wat in paaiemente afbetaal word nie ten volle vereffen is nie na verstryking van twaalf maande vanaf die datum waarop die belastings verskuldig en betaalbaar geword het, moet die munisipale bestuurder—
(a)betaling van die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is, binne ’n tydperk van veertien dae vereis, en
(b)indien daar na afloop van die gemelde tydperk van veertien dae, die belastings steeds onbetaald is, regstappe instel vir die verhaling daarvan.

5. Rekeninge

(1)’n Rekening vir belastings, behalwe belastings wat in paaiemente afbetaal word, sal gedurende die eerste maand van die finansiële jaar aan die eienaar van belasbare eiendom gestuur word.
(2)’n Rekening vir belastings wat in paaiemente afbetaal word, sal maandeliks aan die eienaar van belasbare eiendom gestuur word.
(3)Die feit dat ’n rekening ’n belastingbetaler nie bereik het nie, stel sodanige belastingbetaler nie daarvan vry om betalings voor of op die vertvaldatum te maak nie.

Deel 2 – DIENSTE

6. Wanneer verskuldig en betaalbaar

Alle dienste wat die munisipaliteit lewer, is verskuldig en betaalbaar deur die gebruiker op die vervaldatum.

7. Aanspreeklikheid vir betaling

Die gebruiker van ’n diens moet voor of op die vervaldatum vir sodanige diens betaal.

8. Rekeninge

(1)’n Rekening sal maandeliks aan die gebruiker van dienste gestuur word.
(2)Die feit dat ’n rekening ’n gebruiker nie bereik het nie, stel sodanige gebruiker nie daarvan vry om betalings voor of op die vertvaldatum te maak nie.

9. Wanbetaling

(1)Indien ’n rekening vir enige diens steeds onbetaald is op die vervaldatum moet die munisipale bestuurder rente daarop hef.
(2)Indien ’n rekening vir enige diens, na ’n tydsverloop van een maand vanaf die vervaldatum steeds onbetaald is, moet die munisipale bestuurder—
(a)vereis dat betaling van die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is binne ’n tydsverloop van sewe dae geskied, en
(b)die skuldenaar die geleentheid bied om ’n skuldooreenkoms ingevolge item 10 aan te gaan.
(3)Indien die skuldenaar ongeneë is om ’n skuldooreenkoms aan te gaan, of indien die skuldenaar met wie ’n skuldooreenkoms aangegaan is, nalaat om drie paaiemente, hetsy agtereenvolgens al dan nie, te vereffen, moet die munisipale bestuurder versoek dat die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is, binne veertien dae vereffen word en kan die munisipale bestuurder—
(a)’n ooreenkoms aangaan met die skuldenaar se werkgewer ingevolge die bepalings van item 11, of
(b)voorsiening van die dienste beperk of afsny.
(4)Indien ’n ooreenkoms met die skuldenaar se werkgewer nie getref kan word nie, en die skuldenaar nie hulpbehoewendheid kan bewys nie, moet die munisipale bestuurder regstappe instel om die skuld te verhaal.

10. Skuldooreenkoms

(1)’n Skuldenaar kan die munisipale bestuurder skriftelik versoek om—
(a)die tydperk waarbinne ’n uitstaande bedrag vir dienste vereffen moet word, te verleng, of
(b)die uitstaande skuld in paaiemente ooreenkomstig die “Masakhane” werksprosedures terug te betaal.
(2)Indien die munisipale bestuurder die skuldenaar se versoek goedkeur moet ’n skriftelike ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die skuldenaar aangegaan word vir—
(a)die verlenging van die tydperk waarbinne ’n agterstallige bedrag vir dienste vereffen moet word, wat nie langer as ses-en-dertig maande mag wees nie; met dien verstande dat die lopende maandelikse rekening steeds betaal word, of
(b)die betaling van die agterstallige balans in gereelde en agtereenvolgende maandelikse paaiemente, asook die koste en rente in verband daarmee; met dien verstande dat ’n enkele paaiement wat op die agterstallige skuld afbetaal word nie minder as R50,00 mag wees nie.
(3)’n Skuldooreenkoms mag slegs met ’n skuldenaar wat in diens is, aangegaan word indien so ’n skuldenaar ’n aftrekorder teken wat voorsiening maak vir ’n aftrekking van sy/haar salaris vir agterstallige skuld asook die lopende rekening oor die ooreengekome tydperk.
(4)Die munisipale bestuurder is gemagtig om ooreenkomste met ’n skuldenaar aan te gaan soos gemeld in subitem (2).

11. Ooreenkomste met werkgewers

Die munisipale bestuurder kan met die instemming van ’n skuldenaar ’n ooreenkoms aangaan met daardie skuldenaar se werkgewer om van die salaris of loon van daardie skuldenaar—
(a)enige uitstaande bedrae af te trek wat deur daardie skuldenaar aan die munisipaliteit verskuldig is; of
(b)sodanige gereelde maandelikse bedrae af te trek soos ooreengekom mag word.

12. Beperking op of afsny van voorsiening van dienste

(1)Die munisipale bestuurder kan die voorsiening van water of elektrisiteit beperk of afsny of die voorsiening van dienste aan die perseel van ’n gebruiker staak, wanneer ookal die gebruiker nalaat om—
(a)’n betaling voor of op die vervaldatum te maak;
(b)te voldoen aan die terme en voorwaardes van ’n skuldooreenkoms; of
(c)te voldoen aan ’n voorwaarde wat deur die munisipaliteit gestel is.
(2)Die munisipale bestuurder kan dienste wat beperk of gestaak is ten volle heraansluit en voorsiening herstel, slegs nadat die agterstallige skuld, met inbegrip van enige afsny- of heraansluitings- en of wanbetalerskoste, indien enige, ten volle vereffen is en enige voorwaardes wat deur die munisipaliteit gestel is, nagekom is.
(3)Die munisipale bestuurder kan ten opsigte van agterstallige skuld enige diens beperk, afsny of staak.

13. Onwettige heraansluiting

(1)Die munisipale bestuurder kan ’n gebruiker van alle dienste afsny as—
(a)die water- of elektriese toevoer, nadat dit ingevolge item 12(1) beperk of afgesny is, onwettig heraangesluit is;
(b)die gebruiker toegelaat het dat daar gepeuter word met die toevoer; of
(c)’n omleiding gemaak is.
(2)’n Persoon wat die water- of elektrisiteitstoevoer in die omstandighede bedoel in item 12(1) heraansluit, is aanspreeklik vir die koste van enige verbruik, die koste vir die afsny en/of heraansluiting en alle ander koste wat die munisipaliteit mag aangaan in verband met die afsnyding, afgesien van enige ander aksies wat die munisipale bestuurder teen sodanige persoon mag neem.
(3)Die munisipale bestuurder mag slegs die toevoer van dienste herstel nadat die bedrae gemeld in subitem (2) ten volle betaal is.

14. Peutering

(1)Waar bevind word dat met die water- of elektriese toevoer gepeuter is of ’n meter omseil is, kan die munisipale bestuurder, ondanks die bepalings in die munisipaliteit se verordeninge insake water en elektrisiteit, die betrokke toevoer afsny.
(2)’n Persoon wat peuter met, of toelaat dat daar met met die water- of elektriese toevoer in die omstandighede bedoel in subitem (1) gepeuter word, is aanspreeklik vir die koste van enige verbruik, die koste vir die afsny en/of heraansluiting en alle ander koste wat die munisipaliteit mag aangaan in verband met die afsnyding, afgesien van enige ander aksies wat die munisipale bestuurder teen sodanige persoon mag neem.
(3)Die munisipale bestuurder mag slegs die toevoer van dienste herstel nadat die bedrae gemeld in subitem (2) ten volle betaal is.

15. Voorafbetaalde dienste

Die munisipale bestuurder kan ’n ooreenkoms met die gebruiker van ’n voorafbetaalde diens aangaan om nie meer nie as 50 persent van voorafbetalings vir die afbetaling van enige ander uitstaande skuld van so ’n gebruiker aan te wend.

16. Deposito’s

(1)’n Gebruiker moet, wanneer aansoek om die verskaffing van ’n diens gedoen word, die vereiste deposito betaal.
(2)Die munisipale bestuurder kan in enige diensooreenkoms, ’n deposito gelykstaande aan ten minste dubbel die verwagte maandelikse verbruik van die betrokke diens deur die betrokke gebruiker, van die gebruiker vereis.
(3)Die munisipale bestuurder mag die deposito’s vir nuwe handels- en nywerheidsgebruikers, drie maande na die oorspronklike bepaling van die deposito-bedrag, herbepaal en mag as gevolg van so ’n herbepaling vereis dat ’n gebuiker ’n bykomende deposito betaal.
(4)Die munisipale bestuurder kan, nadat dienste aan ’n gebruiker afgesny is en voordat die voorsiening van dienste aan die gebruiker hervat word, enige deposito wat van die gebruiker vereis is vir die voorsiening van ’n diens, na ’n groter bedrag verhoog. Die verhoogde deposito kan vereis word bo en behalwe die wanbetalers-/aansluitingsfooi.
(5)Die munisipaliteit lewer geen diens alvorens die deposito en aansluitingskoste ten volle betaal is nie.
(6)’n Deposito word in kontant of per tjek betaal. Die munisipale bestuurder kan ’n bankwaarborg aanvaar in gevalle waar die deposito meer as R2 000,00 beloop en dan onderworpe aan sodanige terme en voorwaardes wat die munisipale bestuurder dienstig ag.
(7)Die munisipaliteit betaal nie rente op enige deposito wat gehou word nie.
(8)’n Deposito is by beeïndiging van die diensooreenkoms aan die gebruiker terugbetaalbaar, tensy die deposito gebruik is ter volle of gedeeltelike vereffening van enige uitstaande of agterstallige geld op die gebruiker se rekening. ’n Deposito word verbeur aan die munisipaliteit as dit nie binne twaalf maande na beeïndiging van die diensooreenkoms opgeëis word nie.

17. Rente

Rente, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, word vanaf die vervaldatum, op alle uitstaande bedrae wat na die vervaldatum nog verskuldig is, gehef.

Deel 3 – BEHUISING

18. Toepassing

Die bepalings van hierdie deel doen nie afbreuk aan enige ander statutêre of kontraktuele bepaling aangaande kredietbeheer of skuldinvordering wat in sodanige wet of kontrak vervat mag wees nie.

19. Rente

Die munisipale bestuurder hef rente op alle uitstaande rekeninge.

20. Wanbetaling

(1)Indien ’n skuldenaar geen betaling na ’n tydsverloop van een maand vanaf die vervaldatum gemaak het nie, moet die munisipale bestuurder—
(a)vereis dat betaling vir die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is binne ’n tydsverloop van veertien dae geskied, en
(b)die skuldenaar die geleentheid bied om ’n skuldooreenkoms ingevolge item 21 aan te gaan.
(2)Indien die skuldenaar ongeneë is om ’n skuldooreenkoms aan te gaan, of indien die skuldenaar met wie ’n skuldooreenkoms aangegaan is, nalaat om drie paaiemente, hetsy agtereenvolgens al dan nie, te vereffen, moet die munisipale bestuurder versoek dat die bedrag wat verskuldig en betaalbaar is, binne veertien dae vereffen word en kan die munisipale bestuurder ’n ooreenkoms aangaan met die skuldenaar se werkgewer ingevolge die bepalings van item 22.
(3)Indien ’n ooreenkoms met die skuldenaar se werkgewer nie getref kan word nie, moet die munisipale bestuurder regstappe instel om die skuld te verhaal.

21. Skuldooreenkoms

(1)Die munisipale bestuurder kan ingevolge ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan tussen die munisipaliteit en die skuldenaar en met inagneming van die “Masakhane” werksprosedures—
(a)die tydperk waarbinne die skuldenaar ’n uitstaande bedrag moet vereffen, verleng maar nie vir langer as drie maande nie, of
(b)die skuldenaar toelaat om die uitstaande balans, benewens die maandelikse lopende rekening, in gereelde en agtereenvolgende maandelikse paaiemente af te betaal oor ’n tydperk wat nie ses-en-dertig maande oorskry nie en teen ’n minimum paaiement van R50,00 per maand; met dien verstande dat ’n enkele paaiement ten minste die huidige maandelikse verpligting moet oorskry met R50,00.
(2)Die munisipale bestuurder is gemagtig om ooreenkomste met ’n skuldenaar aan te gaan soos gemeld in subitem (1).

22. Ooreenkomste met werkgewers

Die munisipale bestuurder kan met die instemming van ’n skuldenaar ’n ooreenkoms aangaan met daardie skuldenaar se werkgewer om van die salaris of loon van daardie skuldenaar—
(a)enige uitstaande bedrae af te trek wat deur daardie skuldenaar aan die munisipaliteit verskuldig is; of
(b)sodanige gereelde maandelikse bedrae af te trek soos ooreengekom mag word.

23. Regskoste

’n Skuldenaar is aanspreeklik vir alle regs- en invorderingskoste.

Deel 4 – ANDER SKULD

24. Toepassing

"Ander skuld" beteken enige gelde verskuldig en betaalbaar aan die munisipaliteit, vir watter doel ookal, in verband met sy magte en pligte, maar met die uitsluiting van gelde wat verskuldig en betaalbaar is aan die munisipaliteit ten opsigte van eiendomsbelasting, dienste en behuising.

25. Diverse

(1)Rente sal gehef word op alle agterstallige rekenings.
(2)Die munisipale bestuurder kan tydens die verhaling van diverse skuld enige regsaksie instel of van die dienste van ’n derdeparty skuldinvorderaar gebruik maak.
(3)Die munisipale bestuurder kan, in ’n poging om agterstallige rekeninge te verhaal, enige dienste aan ’n gebruiker afsny of staak.

26. Huurooreenkomste: onroerende eiendom

Die prosedure om agterstallige gelde ten opsigte van onroerende eiendom wat deur die raad verhuur word te verhaal, moet in ooreenstemming wees met die bepalings van die betrokke huurooreenkoms.

Deel 5 – ARMOEDE VERLIGTING

27. Bepaling van verligting

(1)Die raad bepaal jaarliks tydens die begrotingsproses die vlakke van verligting vir hulpbehoewende gebruikers en eienaars van eiendom ten opsigte van belasting, dog onderworpe aan die beginsels van volhoubaarheid en bekostigbaarheid.
(2)Onderhewig aan die beskikbaarheid van fondse, sal die raad deur middel van kruissubsidiëring in die geval van paragrawe (a), (b) en (f) hieronder, en deur middel van deernistoekennings aan kwalifiserende behoeftige en arm huishoudings binne die perke soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, in die geval van paragrawe (c), (d) en (e), dienste soos volg subsidieër—
(a)Watervoorsiening: 6 kiloliters per huishouding per maand aan alle huishoudelike verbruikers;
(b)Elektrisiteitsvoorsiening: 50 kWh per maand aan alle huishoudelike verbruikers;
(c)Sanitasiedienste: ’n maandelikse bedrag soos deur die raad van tyd tot tyd bepaal;
(d)Vullisverwydering: ’n maandelikse bedrag soos deur die raad van tyd tot tyd bepaal;
(e)Waterbeskikbaarheidsfooi: ’n maandelikse bedrag soos deur die raad van tyd tot tyd bepaal;
(f)Belasting: ’n bedrag vir belasting baseer op die waardasie van die eiendom met verbeterings, wat ten volle of minstens gedeeltelik vir woondoeleindes aangewend word.

28. Aansoek om verligting

(1)’n Skuldenaar moet aansoek doen vir armoede verligting op ’n aansoekvorm wat die munisipale bestuurder voorskryf.
(2)Slegs skulde van huishoudelike verbruikers van munisipale dienste, sal in aanmerking kom vir armoedeverligting.
(3)’n Skuldenaar wat kwalifiseer vir armoede verligting moet elke ses maande daarvoor heraansoek doen sodat bepaal kan word of die skuldenaar se finansiële omstandighede verander het. Versuim om hieraan te voldoen sal daartoe lei dat die skuldenaar se status as hulpbehoewende opgeskort en die deernistoekenning gestaak word.

Deel 6 – NAVRAE, KLAGTES EN APPÈLLE

29. Navrae en klagtes oor rekeninge

(1)’n Gebruiker mag ’n navraag of klagte rig in verband met die juistheid van ’n bedrag wat vir ’n spesifieke diens verskuldig en betaalbaar is, soos aangedui op die gelewerde rekening.
(2)’n Navraag of klagte moet voor die vervaldatum vir die betaling van die rekening aan die munisipale bestuurder gerig word.
(3)’n Navraag of klagte moet ’n betaling insluit van—
(a)’n bedrag gelykstaande aan die gemiddelde van die vorige drie maande se rekeninge, waar die geskiedenis van die rekening beskikbaar is, of
(b)’n bedrag deur die munisipale bestuurder beraam voor die vervaldatum vir betaling totdat die aangeleentheid afgehandel is.
(4)Die versuim om so ’n tussentydse betaling te maak, sal die gebruiker blootstel aan die beperking of staking van die dienste wat gelewer word.
(5)’n Gebruiker mag nie die vereffening van toekomstige rekeninge weerhou omdat ’n navraag en/of klagte gerig is nie.
(6)Die munisipale bestuurder moet—
(a)’n navraag of klagte ondersoek; en
(b)die gebruiker binne een maand na ontvangs van ’n navraag of klagte, skriftelik oor sy bevindinge inlig.

30. Appèlle

’n Gebruiker kan teen ’n beslissing van die munisipale bestuurder appelleer ingevolge artikel 62 van die Stelselswet.

Deel 7 – STREEKSDIENSTEHEFFING

31. Woordbepaling

In hierdie deel, tensy onbestaanbaar met die sinsverband, beteken:—"SDR wet" die Wet op Streeksdiensterade, Wet 109 van 1985 en sluit dit in ’n regulasie wat deur die Minister van Finansies daaringevolge gemaak is;"vervaldatum" die twintigste dag van elke kalendermaand; en"heffingpligtige" ’n persoon wat aanspreeklik is vir die betaling van ’n streeksdiensteheffing of ’n streeks-vestigingsheffing;"SAID" die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

32. Heffings

Die Raad hef en vereis ingevolge die bepalings van die SDR wet—
(a)’n streeksdiensteheffing van elke werkgewer wat in sy streek werknemers in diens het of geag word werknemers in diens te hê en elke persoon wat in sy streek ’n onderneming bedryf of geag word ’n onderneming te bedryf soos beoog deur die SDR wet, en
(b)’n streeks-vestigingsheffing van elke persoon wat in sy streek ’n onderneming bedryf of geag word ’n onderneming te bedryf.

33. Wanneer verskuldig en betaalbaar

’n Heffingpligtige moet op of voor die vervaldatum die heffing betaal waarvoor daardie heffingpligtige aanspreeklik is, met dien verstande dat in die geval van heffingsbetalers in landelike gebiede, sodanige vervaldatum geag moet word as 20 dae na die einde van die finansiële jaar.

34. Versuim om te betaal

Waar ’n heffingpligtige versuim het om enige heffing teen die vervaldatum te betaal, moet die munisipale bestuurder so ’n heffingpligtige skriftelik versoek om die uitstaande bedrag binne 14 te vereffen en daarna voortgaan om sodanige uitstaande heffing te verhaal.

35. Verkeerde betalings

(1)As daar gevind word dat die bedrag wat die heffingpligtige betaal het, verkeerd is, moet die munisipale bestuurder òf die saldo terugbetaal òf die onderbetaalde bedrag verhaal.
(2)As die munisipale bestuurder vermoed dat die heffingpligtige nie die heffing waarvoor hy of sy aanspreeklik is ten volle betaal het nie, kan hy of sy die aangeleentheid na die SAID verwys vir sodanige optrede as wat nodig geag word.

36. Versuim om opgawe in te dien

(1)As ’n heffingpligtige versuim om ’n opgawe soos vereis ingevolge die SDR wet in te dien, moet die munisipale bestuurder—
(a)by kennisgewing die heffingpligtige daaraan herinner om die opgawe binne 14 dae in te dien, en
(b)die heffingpligtige ’n finale kennisgewing gee om die opgawe binne 14 dae in te dien.
(2)As ’n heffingpligtige versuim om ’n opgawe in te dien—
(a)kan die munisipale bestuurder ’n skatting maak van die bedrag van die heffing wat na sy of haar mening betaalbaar is;
(b)kan die munisipale bestuurder ’n skatting maak van die bedrag van die onbetaalde deel van die heffing;
(c)moet die munisipale bestuurder die heffingpligtige in kennis stel van die skatting, en
(d)moet die munisipale bestuurder die heffing wat so geskat is, van die heffingpligtige verhaal.

37. Rente

(1)Indien ’n heffingpligtige versuim om so ’n heffing op die vervaldatum te betaal, sal die rente wat deur daardie persoon op die uitstaande belans van die heffing betaal moet word, bereken word met ingang vanaf die vervaldatum.
(2)Rente sal gehef word op alle uitstaande rekenings teen dieselfde koers as die koers wat van tyd tot tyd bepaal word vir die doeleindes van paragraaf (b) van die woordbepaling van “voorgeskrewe koers” in artikel 1 van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet Nr 58 van 1962).

38. Maatreëls om heffings te in

(1)Die munisipale bestuurder kan enige van die volgende maatreëls instel om enige heffing of uitstaande heffing te verhaal—
(a)goedkeuring dat die heffingpligtige heffings in paaiemente betaal;
(b)gebruik van ’n derde party invorderingsagentskap;
(c)uitreiking van ’n siviele dagvaardiging, of
(d)instel van strafregtelike stappe soos beoog deur die SDR wet.
(2)’n Heffingpligtige wat wat nie die volle heffing waarvoor die heffingpligtige aanspreeklik is, kan betaal nie, kan die munisipale bestuurder versoek om die bedrag in maandelikse paaiemente af te betaal; met dien verstande dat nie meer as drie paaiemente toegelaat word waar die bedrag minder as R2 500 is nie en nie meer as 6 paaiemente toegelaat word waar die bedrag meer as R2 500 is nie; met die verdere voorbehoud dat die lopende maandelikse heffing ook betaal word.
(3)Die munisipale bestuurder moet ’n ooreenkoms met ’n heffingpligtige waarna in sub-item (12) verwys word, aangaan en moet, in die geval van nie-nakoming van die ooreenkoms, die volle uitstaande bedrag onmiddellik verhaal.

39. Toewysing van betalings

Betalings deur ’n heffingpligtige sal in die volgende volgorde toegewys word:
(a)regskoste aangegaan;
(b)rente;
(c)vestigingsheffings;
(d)diensteheffings.
▲ To the top