Elektrisiteitsvoorsieningverordening


Cape Agulhas
South Africa

Elektrisiteitsvoorsieningverordening, 2005

Hoofstuk 1
Algemeen

1. Woordomskrywing

(1)In hierdie verordening, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—"betaalbewys" die noodsaaklike element van voorafbetaalde meting wat gebruik word om inligting oor te dra van ’n verkooppunt vir elektrisiteitkrediet na ’n voorafbetaalde meter en vice versa; (eng. ‘token’)"beheerpunt" die punt waar die elektriese installasie op of in ’n perseel deur ’n gebruiker of verhuurder afgeskakel kan word van die elektrisiteit voorsien vanaf die voorsieningspunt; (eng. ‘point of control’)"diensaansluiting" al die kabels en toerusting wat nodig is om die hoofleiding by die verbruiker se elektriese installasie aan te sluit by die voorsieningspunt; (eng. ‘service connection’)"diensbeveiligingstoestel" enige sekering of stroombreker wat geïnstalleer word met die doel om die munisipaliteit se toerusting te beskerm teen oorbelasting of foute wat op die installasie of op die interne diensaansluiting voorkom; (eng. ‘service protective device’)"eienaar" met betrekking tot ’n perseel, die persoon by wie die regstitel daarvan berus; (eng. ‘owner’)"elektriese installasie" enige masjinerie, in of op ’n perseel, wat gebruik word vir die oorbring van elektrisiteit vanaf ’n beheerpunt na ’n verbruikspunt waar ookal op die perseel, met inbegrip van enige artikel wat deel uitmaak van sodanige installasie ongeag of dit deel van die elektriese stroombaan is of nie, maar met uitsluiting van—(a)enige masjinerie van die leweransier wat verband hou met die lewering van elektrisiteit op die perseel;(b)enige masjinerie wat gebruik word vir die oorbring van elektrisiteit waarvan die spanning nie 50 V mag oorskry nie waar sodanige elektrisiteit nie van die hooftoevoer van ’n leweransier verkry word nie;(c)enige masjinerie wat elektriese energie in telekommunikasie-, televisie- of radiostroombane oorbring;(d)’n elektriese installasie in ’n voertuig, vaartuig, trein of vliegtuig;(eng. ‘electrical installation’)"elektriese kontrakteur" ’n persoon wat onderneem om elektriese installeerwerk namens enige ander persoon te doen, maar nie ook ’n werknemer van sodanige eersgenoemde persoon nie; (eng. ‘electrical contractor’)"geakkrediteerde persoon" ’n persoon wat ingevolge die regulasies of as ’n elektriese toetser vir enkelfase, of ’n installasie-elektrisiën of ’n meesterinstallasie-elektrisiën, geregistreer is; (eng. ‘accredited person’)"bystandstoevoer" ’n alternatiewe toevoer van elektrisiteit wat nie gewoonlik deur die verbruiker verbruik word nie; (eng. ‘standby supply’)"hoë spanning" die stel nominale spanningsvlakke wat in kragstelsels vir grootmaattransmissie van elektrisiteit in die omgewing van 44 kV H Un 220 kV gebruik word. [SANS 1019]; (eng. ‘high voltage’)"hoofleiding" enige deel van die munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk; (eng. ‘supply mains’)"ingenieur" die beampte wat aan die hoof staan van die elektrisiteitsonderneming van die munisipaliteit of enige ander persoon wat behoorlik gemagtig is om die plig namens hom te verrig;"installasiewerk" die installasie, uitbreiding, aanpassing of herstel van ’n elektriese installasie, met insluiting van dieaansluiting van masjienerie by die toevoerterminale van sodanige masjienerie;"voorafbetaalmeter" ’n meter wat programmeer kan word om teen voorafbetaling die vloei van hoeveelhede energie in ’n elektriese stroomkring toe te laat; (eng. ‘prepayment meter’)"kredietmeter" ’n meter waar ’n rekening uitgereik word nadat elektrisiteit verbruik is; (eng. ‘credit meter’)"lae spanning" die stel nominale spanningsvlakke wat gebruik word vir die verspreiding van elektrisiteit en waarvan die boonste perk oor die algemeen aanvaar word as ’n ws-spanning van 1 000 V (of ’n gs-spanning van 1 500 V). [SANS 1019]; (eng. ‘low voltage’)"medium spanning" die stel nominale spanningsvlakke bo lae spanning en benede hoë spanning in die omgewing van 1 kV Un H 44 kV [SANS 1019]; (eng. ‘medium voltage’)"meetpunt" die punt waar die verbruiker se elektrisiteitsverbruik gemeet word en wat by die voorsieningspunt of by enige ander punt op die verspreidingstelsel van die munisipaliteit of die elektriese installasie van die verbruiker kan wees soos deur die ingenieur aangedui mits dit al, en slegs, die verbruiker se verbruik van elektrisiteit meet; (eng. ‘point of metering’)"meter" ’n toestel wat die aanvraag en/of die elektriese energie wat verbruik word, aandui; (eng. ‘meter’)"motorvermoë" die maksimum aanhoudende kW-lewering van ’n motor soos vermeld op die vervaardiger se kenplaatjie; (eng. ‘motor rating’)"munisipaliteit" beteken die Munisipaliteit van Kaap Agulhas; (eng. ‘municipality’)"munisipale gebied" beteken regsgebied van die munisipaliteit; (eng. ‘municipal area’)"nakomingsertifikaat" ’n sertifikaat wat ingevolge die regulasies ten opsigte van ’n elektriese installasie of gedeelte van ’n elektriese installasie deur ’n geakkrediteerde persoon uitgereik word; (eng. ‘certificate of compliance’)"NGS" die Nasionale Gerasionaliseerde Spesifikasie vir Elektrisiteitsvoorsiening wat deur die Elektrisiteitvoorsiening Skakelkomitee bepaal en deur die Suid Afrikaanse Buro van Standaarde uitgereik is;"okkupeerder" met betrekking tot ’n perseel(a)iemand wat sodanige perseel werklik okkupeer;(b)iemand wat wetlik daarop geregtig is om sodanige perseel te okkupeer;(c)in geval van sodanige perseel wat onderverdeel is en wat aan loseerders of verskillende huurders verhuur word, die persoon wat die huurgeld ontvang wat deur sodanige loseerders of huurders betaalbaar is, hetsy vir sy of haar eie rekening of as agent vir iemand wat daarop geregtig is of belang daarby het, of(d)iemand wat by die beheer of bestuur van sodanige perseel betrokke is, en behels ook die agent van sodanige persoon wanneer hy of sy nie in die Republiek van Suid-Afrika aanwesig is, of as sy of haar verblyfplek onbekend is;(eng. ‘occupier’)"perseel" enige grond of enige struktuur bo of benede grondvlak en behels ook enige voertuig, vliegtuig of vaartuig; (eng. ‘premises’)"regulasies" die Regulasies opgestel ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, 1993 (Wet 85 van 1993), soos gewysig; (eng. ‘regulations’)"SANS", ’n standaard wat deur die Suid Afrikaanse Buro van Standaarde vasgestel en uitgereik is ingevolge die Wet op Standaarde, Nr. 29 van 1993"spanning" die gemiddelde vierkantswortelwaarde van elektriese potensiaal tussen twee geleiers; (eng. ‘voltage’)"tarief" die munisipaliteit se gelde en fooie gehef vir die voorsiening van elektrisiteit;"Tariefbeleidverordening" die Tariefbeleidverordening deur die munisipaliteit aanvaar en gepubliseer in die Provinsiale Koerant."toepaslike standaardspesifikasie" die standaardspesifikasies—(a)SANS 1019 Standaardspanning, -stroomkringe en isolasievlakke vir die toevoer van elektrisiteit;(b)SABS 1607 Elektromeganiese watt-uurmeters;(c)SABS 1524 Dele 0,1 & 2—voorafbetaalstelsels;(d)SABS IEC 60211 Maksimumaanvraagaanwysers, Klas 1.0;(e)SABS IEC 60521 Wisselstroom-elektromeganiese-watt-uurmeter (Klasse 0,5,1 & 2);(f)SANS 10142-1 Gebruikskode vir die bedrading van persele;(g)NGS 047 Nasionale gerasionaliseerde spesifikasie vir elektrisiteitsvoorsiening—gehalte van diens;(h)NGS 048 Nasionale gerasionaliseerde spesifikasie vir elektrisiteitsvoorsiening—gehalte van diens; en(i)NGS 057 Meet van elektrisiteit: minimum vereistes.(eng. ‘applicable standard specification’)"toevoerterminale", met betrekking tot masjinerie wat as ’n volledige eenheid geïnstalleer is, die terminale of verbindingsklampe aan sodanige masjinerie waar die eksterne geleiers wat die masjinerie van elektrisiteit voorsien, eindig of verbind word; (eng. ‘supply terminals’)"uitgangspunt" enige eindpunt van ’n elektriese installasie wat voorsien is vir die aansluiting van enige elektriese masjinerie sonder die gebruik van gereedskap; (eng. ‘point of outlet’)"veiligheidstandaard" die Gebruikskode vir die Bedrading van Persele SANS 10142-1 geïnkorporeer in die Regulasies; (eng. ‘safety standard’)"verbruiker", met betrekking tot ’n perseel(a)enige okkupeerder daarvan of enige ander persoon met wie die munisipaliteit ooreengekom het om elektrisiteit daar te voorsien of dit inderdaad daar voorsien; of(b)indien sodanige perseel nie bewoon word nie, iemand wat ’n geldige bestaande ooreenkoms met die munisipaliteit het vir die voorsiening van elektrisiteit aan sodanige perseel, of(c)indien daar geen sodanige persoon of okkupeerder is nie, die eienaar van die perseel;(eng. ‘consumer’)"verbruikspunt" enige uitgangspunt of die toevoerterminale van masjinerie wat nie met ’n uitgangspunt verbind is nie en wat elektriese energie in ’n ander vorm van energie omsit: Met dien verstande dat in die geval van masjinerie wat vir enige spesifieke doel as ’n volledige eenheid geïnstalleer is, die verbruikspunt die toevoerterminale is waarmee die masjinerie-eenheid vir daardie doel toegerus is; (eng. ‘point of consumption’)"voorsieningspunt" die punt soos bepaal deur die ingenieur vanwaar elektrisiteit aan enige perseel deur die munisipaliteit voorsien word; (eng. ‘point of supply’)
(2)Alle ander uitdrukkings wat in hierdie verordening gebruik word, het, tensy die samehang andersins vereis, dieselfde betekenis wat daaraan geheg word in die Elektrisiteitswet (Wet 41 van 1987), soos gewysig, of die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, !993 (Wet 85 van 1993), soos gewysig.

Hoofstuk 2
Algemene voorwaardes vir voorsiening

2. Voorsiening van elektrisiteit deur die munisipaliteit

Slegs die munisipaliteit mag elektrisiteit voorsien of ’n ooreenkoms aangaan om elektrisiteit binne die munisipale gebied te voorsien.

3. Voorsieningsooreenkoms

(1)Geen toevoer van elektrisiteit word aan ’n elektriese installasie op enige perseel verskaf nie, tensy die eienaaar of okkupeerder van die perseel ’n ooreenkoms met die munisipaliteit vir sodanige toevoer aangegaan het.
(2)Niemand mag gebruik maak of voortgaan om gebruik te maak van ’n toevoer van elektrisiteit van die munisipaliteit nie, tensy of totdat sodanige persoon ’n skriftelike ooreenkoms met die munisipaliteit vir sodanige toevoer aangegaan het.
(3)Die toevoer van elektrisiteit na enige perseel word deur die ooreenkoms, waarna in subartikels (1) en (2) verwys word, sowel as die bepalings van hierdie verordening gereguleer.
(4)’n Persoon wat ’n toevoer van elektrisiteit verbruik sonder om ’n ooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan, is aanspreeklik vir die koste van die elektrisiteit wat verbruik is.
(5)Die verbruiker is aanspreeklik vir die betaling van alle fooie in verband met die toevoer van elektrisiteit totdat die ooreenkoms volgens hierdie verordening beeïndig is.

4. Nakoming van kennisgewings

Enigeen aan wie ’n kennisgewing wat behoorlik uitgereik of gegee is ingevolge hierdie verordening, beteken word, moet die bepalings daarvan binne die tydperk wat daarin vermeld word, nakom.

5. Aansoek om voorsiening van elektrisiteit

(1)’n Voornemende verbruiker moet op ’n vorm verkrygbaar by die munisipaliteit aansoek doen vir die voorsiening van elektrisiteit.
(2)’n Persoon wat aansoek doen vir die voorsiening van elektrisiteit moet die geraamde las in kV.A wat verlang word vermeld.
(3)’n Aansoek om voorsiening van elektrisiteit vir ’n tydperk van minder as ’n jaar word beskou as ’n aansoek om ’n tydelike voorsiening van elektrisiteit en word oorweeg na goeddunke van die ingenieur wat enige voorwaardes mag stel wat in die omstandighede wenslik is.
(4)’n Aansoek om voorsiening van elektrisiteit moet aan die munisipaliteit gerig word ten minste tien werkdae voor die toevoer benodig word.
(5)Die ingenieur mag, alvorens ’n aansoek om voorsiening van elektrisiteit goedgekeur word, ’n elektriese installasie waarop die aansoek van toepassing is inspekteer ten einde te te bepaal of die installasie aan die bepalings van hierdie verordening voldoen.

6. Verwerking van aansoeke om voorsiening

Aansoeke om die voorsiening van elektrisiteit word verwerk en die toevoer beskikbaar gestel binne die tydperke soos in NRS 047 aangedui.

7. Deurgangsregte

(1)Die munisipaliteit kan weier om, op enige deurgang of grond wat nie by die munisipaliteit berus nie of op enige private eiendom, ’n diensaansluiting bo of onder die grond op te rig of te lê, tensy en totdat die voornemende verbruiker die ingenieur voorsien het met die skriftelike toestemming van die eienaar van sodanige private eiendom of die persoon by wie die regstitel van die grond berus waarop enige sodanige deurgang bestaan, na gelang van die geval, vir die lê of oprigting van ’n diensaansluiting daarop.
(2)As sodanige toestemming op enige tydstip teruggetrek word of as die private eiendom of deurgang van eienaar verwissel het en die nuwe eienaar weier om sodanige toestemming te verleen of te laat voortduur, moet die koste van enige verandering aan die diensaansluiting om die toevoer van elektrisiteit in stand te hou, en van enige verwydering daarvan wat nodig mag wees, gedra word deur die verbruiker na wie se perseel die toevoer hervat word.

8. Munisipaliteit se toegangsreg tot persele

Die bewoner van ’n perseel moet te alle redelike ure aan die ingenieur of ’n gemagtigde verteenwoordiger van die munisipaliteit toegang verleen tot die perseel ten einde enige meter of diensverbinding vir verspreiding van elektrisiteit te lees, te inspekteer, te installeer of te herstel, of om die verskaffing van elektrisiteit af te sluit of te beperk.

9. Belemmering van werknemers

Niemand mag opsetlik—
(a)’n werknemer van die munisipaliteit hinder, belemmer of hom of haar lastig val in die uitvoering van enige plig wat op hierdie verordening betrekking het nie;
(b)weier om sodanige inligting te verskaf as wat die munisipaliteit redelikerwys verlang nie; of
(c)enige inligting wat na sy of haar wete vals of misleidend is aan die munisipaliteit verskaf nie.

10. Onbehoorlike verbruik

(1)As die ingenieur rede het om te glo dat ’n verbruiker elektrisiteit vir enige doel of op enige wyse gebruik wat op ’n onbehoorlike en onveilige wyse inmeng of daarop bereken is om op ’n onbehoorlike en onveilige wyse in te meng met die doeltreffende voorsiening van elektrisiteit aan enige verbruiker, kan die ingenieur met of sonder kennisgewing die toevoer na sodanige verbruiker afsluit.
(2)Die ingenieur moet die toevoer van elektrisiteit herstel sodra die oorsaak van die afsluiting permanent reggestel of verwyder is en die verbruiker die toepaslike gelde vir die afsluiting en aansluiting van die toevoer van elektrisiteit betaal het, tensy dit bewys kan word dat die verbruiker nie die elektrisiteit op ’n onbehoorlike of onveilige wyse verbruik of hanteer het nie.

11. Tariewe, gelde, fooie, beskikbaarheidsgelde en deposito’s

(1)Tariewe, gelde, fooie, beskikbaarheidsgelde en deposito’s vir dienste wat die munisipaliteit ingevolge hierdie verordening lewer, word bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening.
(2)Tariewe, gelde, fooie, beskikbaarheidsgelde en deposito’s is verskuldig en betaalbaar op of voor die datum gemeld in die Tariefbeleidverordening.

12. Rente op agterstallige rekeninge

(1)’n Verbruiker betaal rente op agterstallige rekeninge vir die lewering van ’n diens ingevolge hierdie verordening.
(2)Rente op agterstallige rekeninge word gehef teen ’n koers wat ingevolge die Tariefbeleidverordening bepaal word.

13. Herverkoop van elektrisiteit

(1)Tensy anders deur die munisipaliteit gemagtig, mag niemand elektrisiteit wat volgens ’n ooreenkoms met die munisipaliteit aan sy of haar perseel voorsien word, aan enige ander persoon verkoop of voorsien vir verbruik op ander persele nie, of toelaat of duld dat sodanige herverkoop of voorsiening plaasvind nie.
(2)As elektrisiteit herverkoop word vir verbruik op dieselfde perseel, word die elektrisiteit deur ’n submeter gemeet van die soort wat deur die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde goedgekeur is en voorsien, geïnstalleer en geprogrammeer word ooreenkomstig die munisipaliteit se standaarde.
(3)Die tariewe, gelde en bedrae waarteen en die verkoopvoorwaardes ingevolge waarvan elektrisiteit herverkoop word, mag nie minder gunstig vir die koper wees as dit wat betaalbaar en van toepassing sou wees indien die munisipaliteit elektrisiteit direk aan die koper voorsien het nie.
(4)’n Herverkoper van elektrisiteit moet aan die koper maandelikse state lewer wat minstens net soveel besonderhede bevat as die rekeninginligting wat die munisipaliteit aan sy elektrisiteitverbruikers verskaf.

14. Reg om die toevoer van elektrisiteit af te sluit

(1)Die ingenieur mag die toevoer na enige perseel afsluit waar enige van die bepalings van hierdie verordening oortree word, nadat hy kennis aan die okkupeerder gegee het van sy voorneme om dit te doen, of, in die geval van ’n ernstige risiko, sonder kennisgewing.
(2)Indien ’n installasie op die verbruiker se perseel ongemagtig heraangesluit word nadat dit voorheen regmatig deur die munisipaliteit afgesluit is, of indien daar met die munisipaliteit se elektriese toerusting gepeuter word om te verhoed dat die meter die volle verbruik registreer, kan die ingenieur die toevoer van elektrisiteit fisiek van daardie perseel verwyder.

15. Nie-aanspreeklikheid van die munisipaliteit

Die munisipaliteit is nie aanspreeklik vir enige regstreekse of gevolglike verlies of skade wat die verbruiker mag ly of opdoen as gevolg van of voortspruitend uit die beëindiging en onderbreking van of enige ander abnormaliteit aan die toevoer van elektrisiteit nie, tensy dit aan nalatigheid van die munisipaliteit toe te skryf is.

16. Lekkasie van elektrisiteit

Geen korting vir ’n vermorsing van elektrisiteit, te wyte aan ’n lekkasie of ’n ander fout in die elektriese installasie, word op ’n rekening vir elektrisiteit wat voorsien en gemeet is toegestaan nie.

17. Onderbreking van toevoer

(1)Die munisipaliteit sal nie aandag skenk aan ’n onderbreking in die toevoer van elektrisiteit nie as dit die gevolg is van ’n fout in die verbruiker se elektriese installasie, tensy sodanige onderbreking te wyte is aan die werking van die munisipaliteit se diensbeveiligingstoestel.
(2)Indien enige onderbreking van die toevoer van elektrisiteit die gevolg is van ’n fout in die verbruiker se elektriese installasie of van die gebrekkige werking van die apparate wat in verband daarmee gebruik word, kan die munisipaliteit die toepaslike gelde van die verbuiker verhaal vir elke herstel van die toevoer van elektrisiteit bykomend tot die koste van die bywerk of herstel van enige skade wat aan die dienshoofleiding en -meter aangerig is deur sodanige fout of foutiewe werking.

18. Verseëlde apparaat

Indien die munisipaliteit enige meter, diensbeveiligingstoestel of ander apparaat, hetsy dit aan die munisipaliteit Raad behoort al dan nie, gesluit of geseël het mag niemand behalwe ’n behoorlik gemagtigde beampte van die munisipaliteit om enige rede hoegenaamd sodanige seël of slot verwyder, breek, skend, daaraan peuter of hom daarmee bemoei nie.

19. Peuter met diensaansluiting of hoofleiding

(1)Niemand mag op enige wyse of om enige rede hoegenaamd met enige meter, meettoerusting of dienshoofleiding of diensbeveiligingstoestel of hoofleiding van die munisipaliteit peuter of daarmee inmeng nie.
(2)Waar prima facie-bewys bestaan dat subartikel (1) oortree is, kan die munisipaliteit die toevoer van elektrisiteit onmiddellik en sonder vooraf kennisgewing aan die verbruiker afsluit en is die verbruiker aanspreeklik vir alle gelde en koste vir sodanige afsluiting.
(3)Waar iemand subartikel (1) oortree en sodanige oortreding lei daartoe dat die meter minder verbruik as die regte verbruik registreer, kan die munisipaliteit die volle koste van die geraamde verbruik van die verbruiker te verhaal.

20. Beveiliging van die munisipaliteit se hoofleiding

(1)Niemand mag, behalwe met die ingenieur se goedkeuring en onderworpe aan sodanige voorwaardes as wat hy of sy mag oplê—
(a)enige konstruksie bou, oprig of lê of die oprigting of lê van enige gebou, struktuur of ander voorwerp toelaat, of bome en ander plantegroei oor of in sodanige posisie of op sodanige manier plant wat sal inmeng met of die hoofleiding of dit bedreig nie;
(b)enige deel van die hoofleiding uitgrawe, oopmaak of die grond bo, langsaan, onder of naby dit verwyder nie;
(c)enige deel van die hoofleiding beskadig, bedreig, verwyder of vernietig nie, of enige handeling verrig wat na alle waarskynlikheid die hoofleiding sal beskadig, bedreig of enige deel daarvan vernietig nie;
(d)enige ongemagtigde aansluiting aan enige deel van die hoofleiding maak of elektrisiteit daarvandaan omlei of veroorsaak dat dit omgelei word nie.
(2)Die ingenieur kan—
(a)enige gebou, struktuur of ander ding wat in stryd met hierdie verordening gebou, opgerig of aangelê is, sloop, verander of op ’n ander wyse daarmee handel;
(b)enige grond opvul en vervang wat in stryd met hierdie verordening uitgegrawe of verwyder is;
(c)enige skade wat in stryd met hierdie verordening aangerig is of voortspruitend uit ’n oortreding van hierdie verordening, herstel en vergoed, en
(d)enigiets verwyder wat enige deel van die elektrisiteitsdistribusiestelsel beskadig, versper of in gevaar stel of waarskynlik kan beskadig of versper of in gevaar kan stel of vernietig.
(3)Die munisipaliteit mag in ’n noodgeval of ramp enigiets verwyder wat enige deel van die elektrisiteitsverspreidingstelsel beskadig, belemmer of bedreig of wat dit waarskynlik kan beskadig, belemmer, bedreig of vernietig.
(4)Die eienaar of okkupeerder moet bome op sy of haar perseel wat naby bogrondse lyne is sny of snoei of op ’n ander wyse verhoed dat die boom met die geleiers inmeng as die boom omval of ’n tak breek of afgesny word en indien die eienaar sou versuim om hierdie bepaling na te kom, kan die ingenieur na vooraf skriftelike kennisgewing, of te eniger tyd in ’n noodgeval, die bome afsny of snoei, en mag hy of sy die eiendom vir hierdie doel betree.

21. Voorkoming van peuter met die diensaansluiting of hoofleiding

Indien die ingenieur dit nodig of wenslik ag om spesiale voorsorgmaatreëls te tref om te verhoed dat daar aan enige deel van die hoofleiding, dienshoofleiding of diensbeveiligingstoestel of meter of meettoerusting gepeuter word, moet die verbruiker óf die nodige beveiliging verskaf en installeer, óf die betrokke koste betaal waar sodanige beveiliging deur die munisipaliteit verskaf word.

22. Ongemagtigde aansluitings

Niemand behalwe ’n persoon wat skriftelik deur die ingenieur daartoe gemagtig is mag enige elektriese installasie of deel daarvan by die hoofleiding of diensaansluiting aansluit, probeer aansluit of sodanige aansluiting veroorsaak of toelaat nie.

23. Ongemagtigde heraansluiting

(1)Niemand behalwe ’n persoon skriftelik deur die ingenieur daartoe gemagtig, mag enige elektriese installasie of installasies wat deur die munisipaliteit afgesluit is, weer by die hoofleiding of diensaansluiting heraansluit, probeer heraansluit of sodanige heraansluiting veroorsaak of toelaat nie.
(2)Wanneer daar gevind word dat die toevoer van elektrisiteit wat voorheen deur die munisipaliteit afgesluit is, weer aangesluit is, is die verbruiker wat die toevoer van elektrisiteit verbruik, aanspreeklik vir alle koste van die elektrisiteitsverbruik van die datum van afsluiting tot die datum toe daar gevind is dat die toevoer heraangesluit is, en ook vir enige ander koste wat in dié verband aangegaan is.

24. Tydelike afsluiting en heraansluiting

(1)Die ingenieur kan op versoek van die verbruiker die toevoer van elektrisiteit na die verbruiker se elektriese installasie tydelik afsluit en dit weer heraansluit teen betaling van die gelde vir elke afsluiting en daaropvolgende aansluiting.
(2)Indien die ingenieur dit nodig ag om die toevoer van elektrisiteit na ’n verbruiker se elektriese installasie tydelik af te sluit en weer aan te sluit en die verbruiker is geensins verantwoordelik vir die ontstaan van hierdie noodsaak nie, mag die munisipaliteit die verbruiker kwytskeld van betaling van die gelde waarna in subartikel (1) verwys word.
(3)Die ingenieur mag die toevoer van elektrisiteit na enige perseel sonder kennisgewing tydelik afsluit ten einde herstelwerk te doen of toetse uit te voer of vir enige ander regmatige doel.

25. Tydelike voorsiening van elektrisiteit

Indien enige tydelike voorsiening van elektrisiteit, na die oordeel van die ingenieur, inbreuk maak op die doeltreffende en ekonomiese toevoer van elektrisiteit na ander verbruikers, kan die ingenieur met kennisgewing, of in buitengewone omstandighede sonder kennisgewing, sodanige tydelike voorsiening te eniger tyd beëindig en die munisipaliteit is nie aanspreeklik vir enige skade of verlies wat die verbruiker as gevolg van sodanige beëindiging mag ly nie.

26. Tydelike werk

(1)Elektriese installasies wat ’n tydelike toevoer van elektrisiteit benodig, mag nie sonder die skriftelike toestemming van die ingenieur en nakoming van sodanige voorwaardes wat hy of sy nodig ag, regstreeks of onregstreeks by die hoofleiding aangesluit word nie.
(2)’n Persoon wat die toestemming waarna in subartikel (1) verwys word verlang, moet volledige inligting oor die redes vir en die aard van die tydelike werk verstrek.

27. Lasvermindering

(1)Gedurende tye van spitslas, of in ’n noodgeval, of wanneer dit na die mening van die ingenieur om enige rede nodig is om die las op die munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsieningstelsel te verminder, kan die ingenieur die voorsiening sonder kennisgewing onderbreek en vir sodanige tydperk as wat hy of sy nodig ag, die toevoer van elektrisiteit na enige verbruiker se elektiese warmwatersilinder of na enige spesifieke toestel of die hele installasie beëindig.
(2)Die munisipaliteit kan sodanige apparaat en toerusting op die perseel van die verbruiker installeer as wat nodig mag wees om gevolg te gee aan die bepalings van subartikel (1), en enige behoorlik gemagtigde amptenaar van die munisipaliteit kan op enige redelike tyd enige perseel betree met die doel om sodanige apparaat en toerusting te installeer, te inspekteer, te toets, te verstel en/of te verander.
(3)Nieteenstaande die bepalings van subartikel (2) moet die verbruiker of eienaar, na gelang van die geval, wanneer hy of sy ’n watersilinder installeer wat deur elektrisiteit verwarm word, die nodige akkommodasie en bedrading ooreenkomstig die munisipaliteit se keuse verskaf ten einde die installasie van die apparaat en toerusting bedoel in subartikel (2) later te vergemaklik.
(4)Die munisipaliteit is nie aanspreeklik vir enige verlies of skade wat regstreeks of gevolglik as gevolg van of voortspruitend uit sodanige onderbreking en beëindiging van die voorsiening van elektrisiteit ingevolge subartikel (1) ontstaan nie.

28. Hoë-, medium- en laespanningskakeltuig en -toerusting

(1)Die verbruiker wat hoë-, medium- of laespanningelektrisiteit verlang moet betaal vir die verskaffing en installasie van die skakeltuig, kabels en toerusting, wat deel is van die diensaansluiting, tensy dit andersins deur die ingenieur goedgekeur word.
(2)Al sodanige toerusting wat op die verbruiker se perseel geïnstalleer word, moet versoenbaar wees met die munisipaliteit se elektriese prestasiestandaarde.
(3)Niemand mag hoë- of mediumspanningskakeltuig of -toerusting oopmaak, toemaak, isoleer, koppel of aard sonder om vooraf redelike kennis aan die ingenieur te gee nie.
(4)’n Verbruiker wat hoë- of mediumspanningskakeltuig vir ’n hoë- of mediumspanningvoorsiening installeer het moet die ingenieur inlig oor die bevoegde persoon wat die verbruiker ingevolge die regulasies aangestel het, en van enige veranderinge aan sodanige aanstellings.
(5)’n Verbruiker moet ’n laespanninghoofskakelaar en/of enige ander toerusting wat die ingenieur vereis, verskaf en installeer.
(6)Alle aarding of toetsing van mediumspanningskakeltuig wat aan die munisipaliteit se netwerk gekoppel is word deur die ingenieur gedoen.

29. Substasie-akkommodasie

(1)Die ingenieur kan op sodanige voorwaardes wat hy of sy goed ag, vereis dat die eienaar akkommodasie verskaf en in stand te hou vir gebruik as ’n substasie en wat bestaan uit ’n afsonderlike kamer of kamers vir die doel om mediumspanningkabels en -skakeltuig, transformators, laespanningkabels en -skakeltuig en ander toerusting noodsaaklik vir die voorsiening van elektrisiteit versoek deur die aansoeker, te akkommodeer.
(2)Die eienaar of verbruiker moet toesien dat die akkommodasie so geleë is dat dit te alle tye vrye, voldoende en onbeperkte toegang vir die doeleindes wat met die bedryf en instandhouding van die toerusting verband hou, verleen.
(3)Die munisipaliteit kan sy eie netwerke voorsien uit sy eie toerusting wat in sodanige akkommodasie geïnstalleer is, en as die ingenieur bykomende akkommodasie verlang, moet sodanige akkommodasie deur die aansoeker op die koste van die munisipaliteit verskaf word.

30. Bedradingsdiagram en spesifikasie

(1)Wanneer meer as een elektriese installasie of toevoer van elektrisiteit van ’n gemeenskaplike hoofleiding, of meer as een verdeelbord of -meter nodig is vir enige gebou of blok geboue, moet die bedradingdiagram van die stroomkringe wat by die hoofskakelaar begin en ’n spesifikasie op versoek aan die ingenieur vir goedkeuring verskaf word voordat daar met die werk begin word.
(2)Waar ’n elektriese installasie sy toevoer elektrisiteit vanaf ’n substasie op dieselfde perseel moet kry as waarop die stroom van hoë spanning getransformeer word, of van een van die munisipaliteit se substasies deur ’n hoofleiding afsonderlik van die algemene verspreidingstelsel, moet, indien dit ’n vereiste is, ’n volledige spesifikasie en tekeninge van die aanleg wat deur die verbruiker geïnstalleer moet word, aan die ingenieur vir goedkeuring gestuur word voordat enige tersaaklike benodigdhede bestel word.

31. Bystandstoevoer

Niemand is geregtig op bystandstoevoer van die munisipaliteit vir enige perseel wat ’n afsonderlike bron van toevoer van elektrisiteit het nie, behalwe met die skriftelike toestemming van die ingenieur en onderworpe aan sodanige voorwaardes as wat deur die ingenieur gestel word.

32. Verbruiker se toerusting vir noodbystandstoevoer

(1)Geen toerusting wat ’n verbruiker vir noodbystandstoevoer verskaf, mag by enige installasie sonder die skriftelike goedkeuring van die ingenieur aangesluit word nie en dan slegs volgens die voorwaardes wat die ingenieur goeddunk.
(2)’n Aansoek om goedkeuring ingevolge subartikel (1) moet skriftelik wees en moet ’n volledige spesifikasie van die toerusting en ’n bedradingsdiagram bevat.

Hoofstuk 3
Die verbruiker se pligte

33. Verbruiker moet elektriese installasie verskaf en in stand hou

Die verbruiker moet op eie koste enige elektriese installasie wat by die hoofleiding aangesluit is of aangesluit gaan word, en enige uitbreidings of wysigings daaraan wat van tyd tot tyd gemaak word, verskaf, oprig en in stand hou ooreenkomstig die bepalings van hierdie verordening en die regulasies.

34. Fout in elektriese installasie

(1)Indien daar enige fout in die elektriese installasie ontstaan wat ’n gevaar vir lewe of eiendom inhou, moet die verbruiker onmiddellik die elektrisiteitstoevoer afsluit, die munisipaliteit in kennis stel en stappe doen om die fout reg te stel.
(2)Die ingenieur kan vereis dat die verbruiker die munisipaliteit vergoed vir enige uitgawes wat aangaan is in verband met die fout in die elektriese installasie.

35. Beëindiging van die verbruik van die toevoer van elektrisiteit

’n Verbruiker wat verlang dat die toevoer van elektrisiteit beëindig word, moet die munisipaliteit ten minste twee volle werksdae skriftelik kennis gee en by versuim bly die verbruiker aanspreeklik vir alle betalings verskuldig vir die voorsiening van elektrisiteit totdat die twee volle werksdae, nadat sodanige kennis gegee is, verstryk het.

36. Verandering van okkupeerder

(1)’n Verbruiker moet by ontruiming van enige perseel, die munisipaliteit ten minste twee volle werksdae skriftelike kennis gee van sy of haar voorneme om die verbruik van die toevoer van elektrisiteit te beëindig, by gebreke waarvan hy of sy aanspreeklik bly vir sodanige toevoer.
(2)Indien die nuwe okkupeerder die gebruik van die elektrisiteitstoevoer wil voorsit, moet hy in ooreenstemming met die bepalings van hierdie verordening daarom aansoek doen en binne twee volle werksdae na die datum wat in voornoemde aansoek vermeld word as die datum waarop sodanige toevoer verlang word, aan die bepalings van hierdie verordening voldoen, by gebreke waarvan die toevoer afgesluit word, en die nuwe okkupeerder is aanspreeklik vir die elektrisiteitstoevoer van genoemde datum totdat die toevoer aldus afgesluit word.
(3)Wanneer voorafbetaalmeters op persele aangebring word, word enige persoon wat op daardie tydstip die perseel okkupeer, geag die verbruiker te wees. Tot tyd en wyl dié persoon aansoek doen om ’n toevoer van elektrisiteit ingevolge hierdie verordening is hy of sy is aanspreeklik vir alle bedrae en gelde aan die munisipaliteit verskuldig vir daardie meetpunt asook vir enige uitstaande bedrae en gelde of dit deur die persoon opgeloop is of nie.

37. Diensapparaat

(1)Die verbruiker is verantwoordelik vir die veilige akkommodasie van enige meter, diensbeveiligingstoestel, diensaansluiting of ander apparaat van die munisipaliteit op die perseel, en moet die munisipaliteit vergoed vir enige koste of verlies of skade wat die Raad ten opsigte daarvan aangaan of ly.
(2)Indien die hoofleiding, die dienshoofleiding, meettoerusting of enige ander diensapparaat wat aan die munisipaliteit behoort en tevore gebruik is gedurende ’n tydperk dat die installasie van die hoofleiding afgesluit was, sonder die munisipaliteit se toestemming verwyder is, of in so ’n mate beskadig is dat heraansluiting gevaarlik is, moet die eienaar of okkupeerder van die perseel, na gelang van die geval, gedurende sodanige tydperk die koste dra van die herstel en/of vervanging van sodanige toerusting.
(3)Waar daar ’n gemeenskaplike meetposisie is, is die eienaar van die perseel aanspreeklik vir die diensapparaat van die munisipaliteit waarna in subartikel (1) verwys word.
(4)Die bedrag verskuldig ingevolge subartikel (1) word deur die ingenieur bepaal en sy of haar besluit is finaal en bindend is.

Hoofstuk 4
Spesifieke voorsieningsvoorwaardes

38. Diensaansluiting

(1)Die verbruiker betaal die koste van die diensaansluiting.
(2)Elke gedeelte van ’n diensaansluiting wat deur die munisipaliteit gelê of opgerig is, bly die eiendom van die munisipaliteit en die munisipaliteit is verantwoordelik is vir die instandhouding van sodanige diensaansluiting tot by die voorsieningspunt.
(3)’n Diensaansluiting word op koste van die verbruiker deur die ingenieur gelê of opgerig.
(4)’n Diensaansluiting word ondergronds gelê ongeag of die hoofleiding ondergronds gelê of bogronds opgerig word tensy ’n bogrondse diensaansluiting spesifiek deur die ingenieur vereis word.
(5)Die verbruiker moet op sy of haar perseel sodanige leibane, bedradingskanale, vore, hegstukke en vry ruimte vir die bogrondse hoofleiding voorsien, vassit en/of in stand hou soos wat deur die ingenieur vir die installasie van die diensaansluiting vereis word.
(6)Die geleier wat vir die diensaansluiting gebruik word, moet ’n deursneeoppervlakte ooreenkomstig die grootte van die elektriese toevoer hê, maar moet nie minder as 10 mm² (koper of koperekwivalent) wees nie, en al die geleiers moet dieselfde deursneeoppervlakte hê tensy andersins deur enige behoorlik gemagtigde amptenaar van die munisipaliteit goedgekeur.
(7)Tensy andersins goedgekeur deur die ingenieur, verskaf die munisipaliteit slegs een diensaansluiting na elke geregistreerde erf.
(8)Enige bedekking op ’n bedradingskanaal wat die toevoerstroomkringe van die voorsieningspunt na die meettoerusting dra, moet voorsiening maak vir verseëling deur die munisipaliteit.
(9)Binne in die meterkas moet die diensgeleier of -kabel, na gelang van die geval, in ’n opsigtelike posisie eindig, en die hele lengte van die geleiers moet sigbaar wees as die dekplate, indien dit aanwesig is, verwyder word.
(10)In die geval van blokke geboue geokkupeer deur ’n aantal individuele verbruikers, moet afsonderlike bedradingskanale en geleiers of kabels van die gemeenskaplike meetkamer of -kamers na elke individuele verbruiker in die blokke geboue geïnstalleer word. As hoofleibane gebruik word, moet die geleiers van individuele stroomkringe andersins duidelik (elke 1,5 m saamgebind) vir die hele lengte aangedui word.

39. Meetakkommodasie

(1)Die verbruiker moet akkommodasie op ’n goedgekeurde plek vir die meterbord, en voldoende geleiers vir die munisipaliteit se meettoerusting, diensapparaat en beveiligingstoestelle verskaf.
(2)Die akkommodasie word tot bevrediging van die ingenieur op die verbruiker of eienaar se koste na gelang van omstandighede verskaf en in stand gehou.
(3)Die akkommodasie moet, in die geval van kredietmeters, op ’n plek geleë wees waartoe daar te alle redelike tye vrye en onbelemmerde toegang vir die lees van meters is, maar te alle tye vir doeleindes wat met die bedryf en instandhouding van die dienstoerusting verband hou.
(4)Die verbruiker moet amptenare van die munisipaliteit te alle redelike tye toegang bied vir die inspeksie van voorafbetaalmeters.
(5)Waar submeettoerusting geïnstalleer word, moet akkommodasie afsonderlik van die munisipaliteit se meettoerusting verskaf word.
(6)Die verbruiker of, in die geval van die plek van ’n gewone meter, die eienaar van die perseel, moet voldoende elektriese beligting verskaf in die ruimte waar die meettoerusting en diensapparaat geakkommodeer word.
(7)Wanneer, volgens die mening van die ingenieur, die plek van die meter, diensaansluiting of beveiligingstoestelle of hoofverspreidingbord nie maklik toeganklik is nie, of ’n bron van gevaar vir lewe of eiendom is of op enige wyse ongepas is, moet die verbruiker dit op eie koste en spoedig na ’n nuwe goedgekeurde plek verskuif.
(8)Die akkommodasie vir die munisipaliteit se meettoerusting en beveiligingstoestelle mag slegs die verbruiker se hoofskakelaar en hoof-beveiligingstoestelle insluit. Geen apparaat behalwe dit wat in verband met die toevoer en verbruik van elektrisiteit gebruik word nie, mag in sodanige akkommodasie geïnstalleer of geberg word nie tensy dit goedgekeur is nie.

Hoofstuk 5
Toevoerstelsels

40. Lasvereistes

(1)Toevoer moet in wisselstroom wees soos vereis ingevolge die Elektrisiteitswet, 1987 (Wet 41 van 1987).
(2)Die ingenieur kan vereis dat ’n verbruiker ’n elektrisiteitstoevoer teen hoë spanning neem.
(3)Die frekwensie van die wisselstroomtoevoer is 50 Hz.

41. Lasbeperkings

(1)Waar die geraamde las, bereken ingevolge die veiligheidstandaard, nie 15 kV.A oorskry nie, moet die elektriese installasie ingerig word vir ’n dubbeldraad-enkelfasige-toevoer van elektrisiteit, tensy dit andersins deur die ingenieur goedgekeur word.
(2)Waar ’n driefasige vierdraadtoevoer voorsien word, moet die las by benadering gebalanseer word oor die drie fases, maar die maksimum uitbalansstroom mag nie 15 kVA oorskry nie, tensy anders deur die ingenieur goedgekeur.
(3)Geen stroomverbruikende toestel wat inherent enkel fase van aard is en waarvan die aanslag 15 kVA oorskei, mag sonder die voorafverkreë goedkeuring van die ingenieur by die elektriese installasie aangesluit word nie.

42. Steuring van ander persone se elektriese toerusting

(1)Niemand mag elektriese toerusting bedryf wat laseienskappe het wat individueel of gesamentlik tot spanningvariasie, bo-frekwensiestrome of -spanning, of ongebalanseerde fasestrome wat buite die toepaslike standaardspesifikasie val, aanleiding gee nie.
(2)Die evaluering van die steuring van ander persone se elektriese toerusting word deur middel van metings by die algemene koppelpunt gedoen.
(3)Indien daar vasgestel word dat onbehoorlike steuring wel plaasvind, moet die verbruiker op sy of haar eie koste die nodige toerusting installeer om die steuring te filtreer en te verhoed dat dit die hoofleiding bereik.

43. Toevoer na motore

Tensy anders goedgekeur deur die ingenieur, word die aangeslane vermoë van motore as volg beperk:
(1)Beperkte grootte van laespanningmotore—Die aangeslane vermoë van ’n laespanning-enkelfasige motor word tot 2 kW beperk en/of die aansitstroom mag nie 70 A oorskry nie. Alle motore wat hierdie perke oorskry, word vir drie fases teen lae spanning of sodanige hoër spanning as wat vereis word, gewikkel.
(2)Maksimum aansit- en versnelstrome van driefasige wisselstroommotore—Die aansitstrome van driefasige-laespanningmotore wat toegelaat word, hou as volg met die kapasiteit van die verbruiker se diensaansluiting verband:
Grootte van geïsoleerde dienskabel (koper-ekwivalent) Maksimum toelaatbare aansitstroom Maksimum motoraanslag in kW
mm² A Direk op die lyn (6 × volle lasstroom) Star/Delta (2,5 × volle lasstroom) Ander middele (1,5 × volle lasstroom)
    kW kW kW
16 72 6 13,5 23
25 95 7,5 18 30
35 115 9 22 36,5
50 135 10 25 45
70 165 13 31 55
95 200 16 38 67
120 230 18 46 77
150 260 20 52 87
(3)Verbruikers word teen mediumspanning voorsien—In ’n installasie wat elektrisiteit teen mediumspanning voorsien, word die aansitstroom van ’n laespanningmotor tot 1,5 keer die aangeslane vollasstroom van die transformator wat sodanige motor voorsien, beperk. Die aansitreëling vir mediumspanningmotore is aan die goedkeuring van die ingenieur onderworpe.

44. Arbeidsfaktor

(1)Indien vereis deur die ingenieur, word die arbeidsfaktor van enige las binne die perke van 0,85 naloop en 0,9 voorloop gehandhaaf.
(2)Waar dit, ingevolge subartikel (1), nodig is om arbeidsfaktorkorrektiewe toestelle te installeer, word sodanige korrektiewe toestelle by die individuele verbruiksterminale aangesluit tensy die herstel van die arbeidsfaktor outomaties beheer word.
(3)Die verbruiker moet op sy of haar eie koste sodanige korrektiewe toestelle installeer.

45. Beveiliging

Elektriese beveiligingstoestelle vir motore moet so ontwerp word dat dit op ’n doeltreffende wyse waar toepaslik volgehoue oorstroom en eenfasewerking voorkom.

Hoofstuk 6
Elektrisiteitsmeting

46. Meet van toevoer

(1)Die munisipaliteit verskaf, installeer en hou toepaslik aangeslane meettoerusting by die meetpunt in stand vir die meet van die elektrisiteit wat voorsien word op koste van die verbruiker in die vorm van ’n direkte bedrag of gelde.
(2)Die elektrisiteit wat ’n verbruiker in enige meettydperk verbruik, word, behalwe in die geval van voorafbetaalbeters, bepaal deur die toepaslike meter of meters wat deur die munisipaliteit verskaf en geïnstalleer is, aan die einde van sodanige tydperk te lees, behalwe waar daar ’n fout in die meettoerusting is of die munisipaliteit beroep hom op die bepalings van artikel 58(2) van hierdie verordening, in welke geval die verbruik vir die tydperk geskat word.
(3)Waar verskillende tariewe gehef word vir die elektrisiteit wat deur ’n verbruiker verbruik word, word die verbruik afsonderlik vir elke tarief gemeet.
(4)Die munisipaliteit kan die toevoer van elektrisiteit aan blokke winkels en woonstelle, skakelhuise en soortgelyke geboue meet vir die geboue as ’n geheel, of vir individuele eenhede, of vir groepe eenhede.
(5)Geen veranderings, herstelwerk of toevoegings of elektriese verbindings van enige aard mag aan die voorsieningskant van die meetpunt aangebring word nie, tensy dit spesifiek skriftelik deur die ingenieur goedgekeur word nie.

47. Akkurate meting

(1)Dit word onomstootlik aanvaar dat ’n meter akkuraat registreer indien daar by die toetsing daarvan ingevolge subartikel (3), bevind word dat die fout binne die foutgrens is ooreenkomstig die toepaslike standaardspesifikasies.
(2)Die ingenieur mag die munisipaliteit se meettoerusting toets. Indien daar by wyse van ’n toets of andersins vasgestel word dat sodanige meettoerusting foutief is, moet die munisipaliteit
(a)in die geval van ’n kredietmeter die rekening wat gelewer is, aanpas;
(b)in die geval van voorafbetaalmeters
(i)’n rekening lewer as die meter te min geregistreer het, of
(ii)’n gratis bewys uitreik indien die meter te veel geregistreer het.
(3)Die verbruiker mag teen betaling van die toepaslike gelde die meettoerusting deur die munisipaliteit te laat toets. Indien daar bevind word dat die meettoerusting nie voldoen aan die vereistes vir stelselakkuraatheid ooreenkomstig die toepaslike standaardspesifikasies nie, word ’n aanpassing ingevolge die bepalings van subartikels (2) en (6) gemaak en die bogemelde gelde word terugbetaal.
(4)In geval van ’n geskil kan die verbruiker op eie koste die meettoerusting waaroor die geskil gaan, deur ’n onafhanklike toetsowerheid te laat toets, en die resultaat van sodanige toets is afdoende bewys en bindend op albei partye.
(5)Meters word getoets op die wyse soos deur die toepaslike standaardspesifikasie bepaal.
(6)Wanneer die elektrisiteitsverbruik soos geregistreer op ’n meter ingevolge subartikel (2) of (3) aangepas word, word sodanige aanpassing óf gegrond op die meter se persentasiefout bepaal deur die toets ingevolge subartikel (5), óf op ’n berekening deur die munisipaliteit gegrond op verbruiksdata in sy besit. Waar van toepassing word daar, waar moontlik, behoorlik rekening gehou met seisoenale of ander veranderinge wat die verbruik van elektrisiteit kan beïnvloed.
(7)Enige aanpassings ingevolge subartikel (6) word gemaak ten opsigte van ’n tydperk wat nie ses maande voor die datum waarop bevind is dat die meettoerusting onakkuraat is, mag oorskry nie.
(8)Waar ’n verbruiker se werklike las in so ’n mate van die aanvanklik geraamde las ingevolge subartikel 8(1) verskil dat die munisipaliteit dit nodig ag om sy meettoerusting te verander of te vervang ten einde by die las aan te pas, dra die verbruiker die koste van sodanige verandering of vervanging.
(9)
(a)Voordat die raad enige opwaartse aanpassing aan enige rekening ingevolge subartikel (6) maak, moet die munisipaliteit
(i)die verbruiker skriftelik in kennis stel van die geldelike waarde van die aanpassing wat gemaak gaan word en die redes daarvoor;
(ii)in sodanige kennisgewing voldoende besonderhede verskaf sodat die verbruiker vertoë op grond daarvan kan rig, en
(iii)die verbruiker in sodanige kennisgewing versoek om redes, indien enige, skriftelik binne 21 dae of sodanige langer tydperk as wat die munisipaliteit mag toelaat, te verskaf waarom sy of haar rekening nie aangepas moet word ooreenkomstig die kennisgewing nie.
(b)Indien die verbruiker versuim om gedurende die tydperk beoog in subartikel 9(a)(iii) enige vertoë te rig, het die munisipaliteit die reg om die rekening aan te pas volgens die kennisgewing ingevolge subartikel 9(a)(i).
(c)Die munisipaliteit oorweeg enige redes verskaf deur die verbruiker ingevolge subartikel (9)(a) en pas die rekening op ’n gepaste wyse aan indien die munisipaliteit tevrede is dat daar grondige redes daarvoor verskaf is.
(d)Indien ’n behoorlik gemagtigde amptenaar van die munisipaliteit na oorweging van die vertoë gerig deur die verbruiker besluit dat sodanige vertoë nie ’n saak uitmaak om ’n wysiging aan die monetêre waarde ingevolge subartikel 9(a)(i) aan te bring nie, het die munisipaliteit die reg om die rekening ooreenkomstig ’n kennisgewing ingevolge subartikel 9(a)(i) aan te pas, onderworpe aan die verbruiker se reg van appèl teen die besluit ingevolge artikel 62 van die Wet op Munisipale Stelsels, 2000.

48. Lees van kredietmeters

(1)Tensy anders voorgeskryf, word kredietmeters gewoonlik met tussenposes van een maand gelees, en die vaste of minimum koste verskuldig ingevolge die tarief word dienooreenkomstig bepaal. Die munisipaliteit is nie verplig om enige aanpassings aan sodanige koste te maak nie.
(2)Indien die kredietmeter om die een of ander rede nie gelees kan word, sal ’n geraamde rekening gelewer word en die elektriese energie wat verbruik is, word in ’n daaropvolgende rekening aangepas ooreenkomstig die elektriese energie wat werklik verbruik is.
(3)Wanneer ’n verbruiker ’n eiendom ontruim en ’n finale lesing van die meter is onmoontlik, kan ’n geraamde verbruik bepaal word en die finale rekening dienooreenkomstig gelewer word.
(4)’n Verbruiker mag teen betaling van die toepaslike gelde ’n spesiale meterlesing aanvra.
(5)Indien enige berekeningsfout, fout met die lees van die meter of meetfout ontdek word ten opsigte van enige rekening wat aan ’n verbruiker gelewer is, word die fout in daaropvolgende rekeninge reggestel. Enige sodanige regstelling is slegs van toepassing op rekeninge vir ’n tydperk van 6 maande voor die datum waarop die fout in die rekeninge ontdek is, en is gegrond op die werklike tariewe van toepassing gedurende die tydperk. Met dien verstande dat ’n verbruiker ’n oorbetaling vir enige langer tydperk kan terugeis indien die verbruiker die eis in die normale regsproses kan bewys.

49. Voorafbetaalde krag

(1)Geen terugbetaling van die bedrag wat vir die aankoop van elektrisiteitkrediet aangebied is, geskied by die verkooppunt nadat die proses waardeur die voorafbetalingsbewys uitgereik word, reeds begin het nie.
(2)Afskrifte van die bewyse wat vroeër vir die oorplasing van krediet na die voorafbetaalmeter uitgereik is, kan op versoek van die verbruiker beskikbaar gestel word.
(3)Wanneer ’n verbruiker enige perseel ontruim waar ’n voorafbetaalmeter geïnstalleer is, betaal die munisipaliteit geen krediet wat in die meter oorbly, aan die verbruiker terug nie.
(4)Die munisipaliteit is nie aanspreeklik vir die herstel van krediet wat in ’n voorafbetaalmeter verlore gegaan het omdat daar met die voorafbetaalmeter en/of bewyse gepeuter is nie, of omdat dit verkeerd gebruik of misbruik is nie.
(5)Die munisipaliteit kan na goeddunke verkopers vir die verkoop van bewyse vir voorafbetaalmeters aanstel maar waarborg nie die voortgesette bedryf deur enige verkoper nie.

Hoofstuk 7
Elektriese kontrakteurs

50. Vereistes bykomend tot die Regulasies

(1)Waar daar om nuwe of verhoogde toevoer van elektrisiteit by die munisipaliteit aansoek gedoen word, kan die ingenieur na sy of haar goeddunke ’n kennisgewing aanvaar van die voltooiing van enige deel van die elektriese installasie waarvan die kringontwerp toelaat dat die elektriese installasie in duidelik afgebakende afsonderlike gedeeltes verdeel word, en sodanige gedeelte van die elektriese installasie kan na goeddunke van die ingenieur geïnspekteer, getoets en by die hoofleiding aangesluit word asof dit ’n volledige installasie is.
(2)Die ondersoek, toets en inspeksie wat na goeddunke van die ingenieur uitgevoer mag word, onthef geensins die elektriese kontrakteur of geakkrediteerde persoon of die verbruiker of eienaar, na gelang van die geval, van sy of haar verantwoordelikheid vir enige gebrek in die installasie nie. Sodanige ondersoek, toets en inspeksie mag onder geen omstandighede (selfs waar die elektriese installasie aan die hoofleiding verbind is) beskou word as enigsins ’n aanduiding of waarborg dat die elektriese installasiewerk doeltreffend met die geskikste benodigdhede vir die doel uitgevoer is of dat dit ooreenkomstig hierdie verordening of veiligheidstandaard is nie, en die munisipaliteit kan nie aanspreeklik gehou word vir enige gebrek of fout in sodanige elektriese installasie nie.

51. Pligte van kontrakteurs

Die munisipaliteit kan nie aanspreeklik gehou word vir die werk wat deur ’n elektriese kontrakteur of geakkrediteerde persoon op die perseel van die verbruiker verrig word nie en kan nie aanspreeklik gehou word vir enige verlies of skade te wyte aan ’n brand of enige ongeluk voortspruitend uit die toestand van die bedrading op die perseel nie.

Hoofstuk 8
Algemeen

52. Verhaling van kostes

Die munisipaliteit mag enige skade wat strydig met hierdie verordening is of voortspruit uit ’n oortreding van hierdie verordening, herstel of vergoed. Die koste van sodanige werk verrig deur die munisipaliteit en genoodsaak deur ’n oortreding van hierdie verordening, is vir die rekening van die persoon wat strydig met hierdie verordening opgetree het.

53. Delegasie van bevoegdhede en pligte

(1)Die ingenieur mag enige bevoegdheid of plig wat aan die ingenieur ingevolge hierdie verordening verleen of opgedra is aan ’n amptenaar van die raad delegeer.
(2)’n Delegasie ingevolge subartikel (1)—
(a)moet skriftelik wees;
(b)is onderworpe aan enige beperkings, voorwaardes en lasgewings wat die ingenieur mag oplê;
(c)ontneem nie die ingenieur die verantwoordelikheid betreffende die uitoefening van die bevoegdheid of die verrigting van die plig nie.
(3)Die ingenieur kan enige delegasie ingevolge subartikel (1) wysig of herroep, maar geen sodanige wysiging of herroeping maak enigiets ongeldig wat ingevolge daardie delegasie gedoen is nie.

54. Strafbepaling

(1)Iemand wat enige van die bepalings van artikels 5, 7, 13, 14, 20, 25, 26, 27, 29 en 30 van hierdie verordening oortree, is skuldig aan ’n misdryf.
(2)Iemand wat voortgaan om ’n misdryf te pleeg nadat hy of sy in kennis gestel is om sodanige misdryf te staak of nadat hy of sy skuldig bevind is aan sodanige misdryf, is skuldig aan ’n voortgesette misdryf.
(3)Iemand wat skuldig bevind word aan ’n oortreding ingevolge hierdie verordening waarvoor geen straf uitdruklik bepaal word nie, is onderhewig aan ’n boete van nie meer as tien duisend rand nie of tronkstraf vir ’n tydperk van nie langer as ses maande nie of tot sodanige tronkstraf sonder die keuse van ’n boete of tot albei sodanige boete en sodanige tronkstraf en, in die geval van ’n voortgesette misdryf, tot ’n bykomende boete van nie meer as twee honderd rand nie of bykomende tronkstraf vir ’n tydperk wat nie meer as tien dae is nie of tot sodanige tronkstraf sonder die keuse van ’n boete of tot albei sodanige bykomende boete en tronkstraf vir elke dag waarop sodanige misdryf verder gepleeg word.
(4)Elkeen wat die bepalings van hierdie verordening oortree, is aanspreeklik daarvoor om die munisipaliteit te vergoed vir enige verlies of skade deur die munisipaliteit gely as gevolg van sodanige oortreding.

55. Herroeping

Die verordeninge soos aangedui in die eerste kolom van Bylae 1 word hierby herroep tot die mate soos in die tweede kolom van Bylae 1 aangedui.

BYLAE 1

VERORDENINGE WAT HERROEP IS

TITEL VAN VERORDENING MATE VAN HERROEPING
▲ To the top