Verordening insake die Omheining van Persele


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake die Omheining van Persele, 2005

Om die oprigting van heinings te beheer

1. Woordbepaling

In hierdie verordening, tensy onbestaanbaar met die sinsverband, beteken:—"die Wet" die Wet op Nasionale Boustandaarde en Bouregulasies, Wet nr 103 van 1977;"eienaar"die persoon in wie die titel tot ’n perseel regtens berus en omvat dit ook ’n okkupeerder;"heining" ook ’n grens-, tuin- of ander vrystaande muur;"ingenieur" die persoon aangestel deur die munisipaliteit om op te tree as ingenieur vir die doeleindes van hierdie verordening;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"NBR" die nasionale bouregulasies uitgevaardig ingevolge die Wet, en enige gebruikskode van die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde vir die toepassing van die bouregulasies;"okkupeerder" enige persoon wat werklik ’n perseel okkupeer of dit beheer of bestuur, ongeag die titel waaronder hy of sy dit okkupeer;"oprig" ook die aanbring van veranderings aan ’n heining;"perseel" enige gedeelte grond, met of sonder verbeterings;"Raad" die munisipale raad van die munisipaliteit;"soneer" ’n grondgebruiksreg wat uitgeoefen mag word op persele ingevolge die bepalings van ’n dorpsaanlegskema en sluit dit in enige goedkeuring wat ten opsigte van die betrokke perseel ingevolge die bepalings van stadsbeplanningswetgewing toegestaan is, en"Tariefbeleidverordening" die Tariefbeleidverordening wat deur die munisipaliteit aanvaar is en in die Provinsiale Koerant gepubliseer is.

2. Toepassing van hierdie verordening

(1)Hierdie verordening bind ’n orgaan van die staat.
(2)Die bepalings van hierdie verordening doen nie afbreuk aan die bepalings van enige ander wetgewing nie.
(3)Nieteenstaande die bepalings van subartikel (2) hierbo, is die bepalings van enige stadsbeplanningswetgewing onderhewig aan hierdie verordening.
(4)Die oprigting van ’n heining wat ingevolge die bepalings van die Wet, binne die woordbepaling van “gebou” val, is ook onderhewig aan die nakoming van die bepalings van hierdie verordening insoverre die bepalings van hierdie verordening aanvullend is tot die bepalings van die NBR.
(5)Heinings op persele wat vir landboudoeleindes soneer is en wat nie ’n grens vorm met openbare grond nie, is uitgesluit van die nakoming van die bepalings van hierdie verordening.

3. Oprigting van heinings

(1)Niemand mag ’n heining op ’n perseel oprig of laat oprig nie:—
(a)behalwe met die vooraf toestemming van die ingenieur, en
(b)anders as in ooreenstemming met die bepalings van hierdie verordening.
(2)’n Aansoek om die toestemming van die ingenieur om ’n heining op te rig, moet:—
(a)ingedien word op ’n vorm wat deur die ingenieur voorsien word;
(b)vergesel gaan van planne in duplikaat, geteken in ooreenstemming met die skale wat deur die NBR vereis word, wat duidelik die posisie van die betrokke perseel aandui, die fondament, die boumateriaal wat gebruik gaan word en die metode van oprigting, met genoegsame afmetings van die voorgestelde heining;
(c)vergesel word van die toepaslike fooi soos vasgestel ingevolge die Tariefbeleidverordening, en
(d)in ooreenstemming wees met die spesifikasies vir die oprigting van heinings, soos bevat in die Bylae tot hierdie verordening.
(3)As die ingenieur rede het om te vermoed dat die omheining van ’n perseel ’n gevaar vir persone of eiendom sal verhoed, kan die ingenieur van die eienaar van so ’n perseel vereis dat ’n grensheining binne ’n redelike tydperk opgerig word.

4. Vervalle, ontsierde en onooglike heinings

(1)’n Eienaar van ’n perseel waarop ’n heining opgerig is, mag nie—
(a)toelaat dat die heining:—
(i)in ’n vervalle of onooglike toestand raak nie, of
(ii)’n gevaar of potensiële gevaar vir persone of eiendom word nie;
(b)’n heining ontsier, of toelaat dat ’n heining deur plakkate, aanplakbiljette of graffiti ontsier word nie, of
(c)advertensietekens wat nie ingevolge die Raad se verordening insake buitemuurse advertensietekens goedgekeur is nie, op ’n heining aanbring of verf, of toelaat dat dit daarop aangebring of geverf word nie.
(2)Die ingenieur kan van die eienaar van ’n perseel vereis dat ’n heining wat ontsier, gevaarlik, vervalle of onooglik geraak het, herstel, verander of gesloop moet word.

5. Eienaarskap van heinings

(1)In gevalle waar daar ’n dispuut is oor die eienaarskap van ’n heining, en eienaarskap kan nie deur middel van die munisipaliteit se rekords bepaal word nie, moet die geregistreerde eienaars van die betrokke persele op eie koste bewys van eienaarskap lewer.
(2)Indien die eienaars nie bewys van eienaarskap kan lewer nie, sal die ingenieur ’n landmeter aanstel om die eienaarskap van die heining te bepaal en die koste verhaal van die persoon wat as eienaar uitgewys word.
(3)As die landmeter vasstel dat die heining op die grens van die betrokke persele geleë is, sal die koste van elke eienaar verhaal word.

6. Delegasie van magte en pligte

(1)Die ingenieur kan enige bevoegdheid of plig wat ingevolge hierdie verordening aan die ingenieur verleen is, aan enige amptenaar van die munisipaliteit delegeer.
(2)’n Delegasie ingevolge die bepalings van subartikel (1):—
(a)moet skriftelik wees;
(b)is onderhewig aan die beperkings, voorwaardes en aanwysings wat die ingenieur mag bepaal, en
(c)onthef nie die ingenieur van enige verantwoordelikheid betreffende die uitoefening van die mag of die uitvoering van die plig nie.
(3)Die ingenieur kan enige delegasie ingevolge die bepalings van subartikel (1) verander of terugtrek, maar geen sodanige verandering of terugtrekking sal enigiets wat ingevolge so ’n delegasie gedoen is, ongedaan maak nie.

7. Strafbepaling

Enige persoon wat ’n bepaling van hierdie verordening oortree of nalaat om daaraan te voldoen, is skuldig aan ’n oortreding en kan by skuldigbevinding ’n boete opgelê word.

SPESIFIKASIES VIR DIE OPRIGTING VAN HEININGS

1. Algemene spesifikasies vir die oprigting van heinings

(1)Heinings moet binne die grense van die eienaar se perseel opgerig word en mag nie op enige ander eiendom oorskrei of oorsteek nie.
(2)Behalwe met die toestemming van die ingenieur, mag die maksimum hoogte van ’n heining nie 2,1 m oorskrei nie.
(3)Vir die doeleindes van (2) hierbo, word die hoogte van ’n heining vanaf die natuurlike grondvlak bepaal. In gevalle waar die natuurlike grondvlak versteur is, sal die natuurlike grondvlak as straat- of padvlak beskou word.
(4)Waar die voorgestelde hoogte van ’n heining, na die mening van die ingenieur, die sigafstand van verkeer mag beperk, ’n gevaar van enige aard mag veroorsaak, of die lig op enige aangrensende eiendom mag beperk, kan die ingenieur vereis dat die hoogte van die heining tot laer as 2,1 m beperk word.
(5)Hoekafskuinsings moet voldoen aan die toepaslike ontwerpskodes wat vir strate en paaie voorgeskryf word en moet met die Hoof Verkeersbeampte van die munisipaliteit uitgeklaar word voordat ’n aansoek om ’n heining op te rig ingedien word.
(6)Behalwe met die toestemming van die ingeneur, mag hekke nie na die straat se kant oopmaak nie.
(7)Behalwe met die toestemming van die ingenieur, mag geen heining van voorafgebruikte materiale vervaardig word nie.
(8)Doringdraad of lemmetjiesdraad bestanddele mag nie laer as 1,8 m van die grondvlak aangebring word nie.

2. Heinings wat binne die woordomskrying van “gebou” van die Wet val

Heinings in hierdie kategorie is onderhewig aan die bepalings van die NBR en moet, aanvullend daartoe, aan die volgende spesifikasies voldoen:
(a)Betonheinings wat op grense is met strate en openbare grond, se gladde kante moet na die straat of openbare grond wys.
(b)Gepleisterde mure moet geverf word.
(c)Metaal bestanddele van heinings moet gegalvaniseer of geverf word.

3. Heinings wat hoofsaaklik van metaal vervaardig is

(1)Metaal bestanddele moet gegalvaniseer of geverf wees.
(2)Ankerpale moet in beton fondamente gegiet word wat in ooreenstemming is met die SABS Gebruikskode vir die toepassing van die NBR, 0400 van 1999.
(3)Wanneer bestanddele met skerp punte gebruik word, moet die skerp punte ten minste 1,8 m bo grondvlak wees.

4. Draad heinings

(1)Ankerpale moet in beton fondamente gegiet word wat in ooreenstemming is met die SABS Gebruikskode vir die toepassing van die NBR, 0400 van 1999.
(2)Onderhewig aan item 1(8), mag geen doringdraad heinings gebruik word nie, behalwe in gebiede wat vir landboudoeleindes soneer is.

5. Hout heinings

(1)Ankerpale moet in beton fondamente gegiet word wat in ooreenstemming is met die SABS Gebruikskode vir die toepassing van die NBR, 0400 van 1999.
(2)Hout bestanddele moet vry wees van splinters en moet vernis, geverf of met kreosoot behandel wees.
(3)Geen paal heinings of gesplete paal heinings sal op grense met strate, paaie of openbare grond toegelaat word nie.
(4)Wanneer bestanddele met skerp punte gebruik word, moet die skerp punte ten minste 1,8 m bo grondvlak wees.

6. Elektriese heinings

Heinings in hierdie kategorie is onderhewig aan die Elektriese Masjienerie Regulasies (GNR 1952, soos gewysig), uitgereik ingevolge die bepalings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, Wet 85 van 1993.

7. Hegge

(1)Hegge op grense met strate, paaie en openbare grond moet ten minste 1 m binne die die grenslyn geplant word en, in die geval van vinnig groeiende struike, ten minste 1,5 m binne die grenslyn.
(2)Hegge op grense met strate, paaie en openbare grond mag nie bestaan uit plante wat dorings dra, wat geneig is om skerp takke of blare te dra of wat giftig is vir mense of diere nie.
▲ To the top