Verordening om Openbare Oorlaste te Voorkom en te Beheer


Cape Agulhas
South Africa

Verordening om Openbare Oorlaste te Voorkom en te Beheer, 2005

Om die voorkoming en beheer van openbare oorlaste te reguleer.

1. Woordbepaling

In hierdie verordening, tensy onbestaanbaar met die sinsverband, beteken:—"gemagtigde werknemer" ’n amptenaar in die diens van die munisipaliteit wat deur die Munisipale Bestuurder aangewys is;"huisdier"’n dier soos ’n hond, kat, vis of knaagdier wat algemeen as ’n troeteldier beskou word;"implement" enige masjienerie of toerusting, hetsy self aangedrewe aldan nie;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"openbare oorlas" enige handeling, versuim of toestand wat aanstootlik is, wat nadelig of gevaarlik is vir die gesondheid, wat die gewone gemak, gerief, rus of stilte van die publiek wesentlik belemmer of wat die veiligheid van die publiek nadelig raak;"persoon in beheer van ’n perseel" ’n geregistreerde eienaar van ’n perseel of ’n besigheid, ’n okkupeerder, ’n bestuurder of waarnemende bestuurder van ’n besigheid of enige ander persoon wat ’n voordeel verkry uit die betrokke perseel;"Raad" die raad van die munisipaliteit;"soneer" ’n gebruiksreg wat ingevolge die bepalings van ’n dorpsaanlegskema op persele uitgeoefen mag word, en sluit dit in enige goedkeuring wat ten opsigte van die betrokke perseel ingevolge ’n dorpsaanlegskema toegestaan is;"swaar voertuig" enige voertuig of sleepwa met ’n voertuigmassa van drie ton of meer.

2. Verbod op openbare oorlaste

Niemand mag ’n openbare oorlas veroorsaak nie.

3. Verklaring as openbare oorlaste

’n Openbare oorlas word veroorsaak deur, maar is nie beperk is nie, tot—Diere
(a)die aanhou van diere of reptiele, met uitsluiting van huisdiere op ’n eiendom tensy so ’n eiendom ingevolge ’n toepaslike dorpsaanlegskema soneer is as geskik vir die aanhou van diere of reptiele;
(b)die optrede of versuim van die eienaar of persoon in beheer van ’n huisdier wat veroorsaak dat sodanige huisdier:—
(i)toegang verkry tot openbare of private eiendom anders as die perseel waar dit aangehou word tensy dit onder behoorlike beheer is en, in die geval van ’n hond, aan ’n leiband is;
(ii)aan ’n aansteeklike siekte ly, of
(iii)aanhoudend blaf, tjank, skree of kerm.
(c)die versuim van ’n persoon wat in beheer is van ’n hond in ’n straat of op openbare grond, om die hond se mis op te tel;
(d)die aanhou van ’n huisdier in omstandighede wat onhigiënies of steurend is.
Pluimvee en voëls
(e)die aanhou van pluimvee of voëls, met uitsluiting van huishoudelike voëls wat in koue of duiwehokke aangehou word, op persele, tensy sulke persele ingevolge die bepalings van ’n toepaslike dorpsaanlegskema soneer is as geskik om pluimvee of voëls aan te hou;
(f)die aanhou van huishoudelike voëls wat in koue of duiwehokke aangehou word, in omstandighede wat onhigiënies of steurend is.
Parkering en diens van voertuie
(g)die oornag parkering, anders as in ’n motorhuis, van meer as een swaar voertuig of boot op ’n perseel wat vir woondoeleindes soneer is;
(h)die stoor, anders as in ’n motorhuis, van ’n implement op ’n perseel wat vir woondoeleindes soneer is;
(i)die herstel, was, onderhoud of diens, anders as in ’n motorhuis, van ’n swaar voertuig, boot of implement op ’n perseel wat vir woondoeleindes soneer is of die was, herstel, onderhoud of diens van ’n boot op so ’n wyse dat die afvalwater ’n gesondheidsoorlas veroorsaak;
(j)die parkering van ’n voertuig, swaar voertuig, boot of sleepwa op ’n perseel op so ’n manier dat ’n gedeelte van die voertuig, swaar voertuig, boot of sleepwa uitsteek oor die grens van die perseel waarop dit parkeer is;
Vuurwerke
(k)die afvuur van ’n vuurwerk op of oor privaatgrond op so ’n manier dat die vuurwerk of ’n gedeelte daarvan op ’n aanliggende eiendom kan land;
Besighede op woonpersele
(l)nieteenstaande enige goedkeurings wat deur die Raad ingevolge die bepalings van stadsbeplanningswetgewing verleen is, die bedryf van ’n wettige besigheid op ’n woonperseel of op so ’n wyse dat:—
(i)die beperkings en voorwaardes wat die Raad opgelê het, nie nagekom word nie;
(ii)die stoor van goedere en materiaal op die eiendom onooglik vertoon;
(iii)die werking van ’n pomp, kompressor, waaier of soortgelyke masjienerie ’n vibrasie op ander eiendomme in die omgewing veroorsaak word;
(iv)die gebruik van spuitverf of ander vlugtige bestanddele op ander persele in die omgewing waarneembaar is;
(v)die vervaardiging of aktiwiteite wat met die vervaardiging van goedere en materiale verband hou steurend is;
(vi)die herhaaldelike aflewerings of die besoek van persone aan die perseel steurend is;
(vii)die herhaaldelike op- of aflaai van voertuie in die straat of op die eiendom steurend is;
(viii)die bymekaarkom van werkers op of in die nabyheid van die perseel steurend is, of
(ix)die herhaaldelike aankoms, vertrek of parkering in die straat van voertuie wat aan die aktiwiteite op die perseel verbonde is, steurend is.
Verwaarloosde geboue en grond
(m)geboue of onbeboude grond wat:—
(i)so onooglik, aanstootlik of in ’n toestand van verval is dat die waardes van ander eiendomme in die omgewing nadelig daardeur geraak word;
(ii)’n tuiste bied vir plakkers of skuiling vir ongewenste elemente;
(iii)oorgroei is deur verwaarloosde grasperke, bome, struike of ander geplante of opslag plantegroei;
(iv)oorstelp is met onooglike papiere, kartonne, tuinvullis, bourommel en/of ander afvalmateriaal, of
(v)’n stortplek vir afvalmateriaal raak.
Besighede
(n)ten opsigte van besigheidspersele:—
(i)die plasing van afvalmateriaal wat voortspruit uit die aktiwiteite op die perseel, in’n straatvullishouer;
(ii)die plasing van afvalmateriaal wat voortspruit uit die aktiwiteite op die perseel, op ’n gedeelte van die perseel wat oop is na die straat of die sypaadjie, tensy dit in ’n houer is wat deur die Raad goedgekeur of voorsien is;
(iii)die uitstal van goedere wat te koop aangebied word op ’n gedeelte van die perseel wat oop is tot die straat of die sypaadjie, maar nie deel van die straat of die sypaadjie uitmaak nie;
(iv)die parkeer van ’n voertuig op die perseel op so ’n manier dat ’n gedeelte van die voertuig oor die grens van die perseel uitsteek;
(v)’n metode van advertering op die perseel wat steurend is vir die omgewing en persone in die straat;
(vi)’n metode van advertering of promosie wat die effek het dat dit die aandag aftrek, ’n gevaar vir verbygangers of voertuie inhou, veroorsaak dat ’n samedromming plaasvind of dat voetgangers verhoed word om van die sypaadjie voor die perseel gebruik te maak;
(vii)’n winkeltrollie verbonde aan die besigheid verder vanaf die besigheid verwyder word as die naaste parkeerarea wat normaalweg deur kliënte van die besigheid gebruik word;
(viii)winkeltrollies verbonde aan die besigheid in ’n straat of parkeergebied versamel tot so ’n mate dat voetganger- of voertuigverkeer daardeur belemmer of in gevaar gestel word;
(ix)die werking van ’n yskas, kompressor, waaier of ander masjienerie wat ’n steurende vibrasie in die omgewing veroorsaak;
(x)’n verhoging in die aantal aflewerings of besoekers aan die perseel sodat okkupeerders in die omgewing nie normaalweg toegang tot hulle persele kan verkry nie, of
(xi)die parkeer van voertuie verbonde aan die besigheid voor ander persele in die omgewing sodat die okkupeerders daarvan verhoed word om met die normale bedryf van hulle aktiwiteite voort te gaan.
Gedrag in strate, openbare plekke, ens
(o)ten opsigte van algemene gedrag op straat, parkeervakke, parkeerareas en in openbare plekke:—
(i)skree, gil, fluit of die maak van enige ander geraas om aandag te trek tot so ’n mate dat ’n oorlas geskep word;
(ii)die tot stilstand bring van ’n voertuig of die bestuur daarvan op so ’n manier dat voetganger- en voertuigverkeer daardeur belemmer word;
(iii)die ry van fietse of soortgelyke apparate in groepe tot so ’n mate dat voetganger- en voertuigverkeer daardeur belemmer word;
(iv)die stoot of parkering van winkeltrollies of soortgelyke apparate op so ’n manier dat voetganger- en voertuigverkeer daardeur belemmer word;
(v)om in groepe te loop of te staan op so ’n manier dat voetgangerverkeer daardeur belemmer word;
(vi)die aanbied van goedere of dienste of artikels te koop in kruisings op so ’n manier dat die aandag van bestuurders van voertuie daardeur afgetrek word;
(vii)die aanbied van goedere of dienste of artikels te koop vanaf die kant van die straat op so ’n manier dat voetganger- of voertuigverkeer belemmer word of die aandag van bestuurders van voertuie afgetrek word;
(viii)die bestuur van ’n voertuig wat deur diere getrek word op sulke tye, en op strate waar, ’n swaar verkeer ondervind word;
(ix)’n persoon in ’n beskonke toestand of wat onder die invloed van dwelmmiddels is; en
(x)’n persoon wat op ’n wanordelike manier optree.
Aanstootlike vertonings
(p)die vertoon van enigiets wat aanstootlik is;
Radio- en televisiesteurings
(q)die gebruik van enige apparaat wat radio- en televisiesteurings veroorsaak.

4. Voldoeningskennisgewings

(1)Wanneer ookal ’n gemagtigde werknemer bevind dat enige persoon ’n bepaling van hierdie verordening oortree of dat as gevolg van enige persoon se optrede of versuim ’n toestand ontstaan het wat ’n openbare oorlas veroorsaak of moontlik aanleiding kan gee tot die ontstaan van ’n openbare oorlas, kan so ’n gemagtigde werknemer ’n voldoeningskennisgewing aan sodanige persoon uitreik.
(2)Die kennisgewing wat ingevolge subartikel (1) uitgereik word, moet die volgende bevat—
(a)die bepaling van die verordening wat oortree word of oortree sal word as die toestand toegelaat word om voort te duur;
(b)die maatreels wat getref moet word om die toestand reg te stel, en
(c)die tydperk waarbinne aan die kennisgewing voldoen moet word.

5. Toepassing

(1)Die bepalings van hierdie verordening doen nie afbreuk aan die bepalings van enige ander wetgewing ingevolge waarvan voorsiening gemaak is vir die beheer van spesifieke oorlaste soos bepaal in daardie wetgewing.
(2)Nieteenstaande die bepalings van subartikel (1), is die bepalings van enige wetgewing met betrekking tot stadsbeplanning onderhewig aan hierdie verordening.
(3)Hierdie verordening is ook van toepassing op enige staatsorgaan.

6. Oorgangsmaatreëls

’n Persoon wat kan bewys dat ’n goedkeuring toegestaan is ingevolge enige verordening wat in die Bylae gelys word, mag voortgaan om op te tree in ooreenstemming met die goedkeuring ingevolge sodanige verordening, op voorwaarde dat:—
(a)die voorwaardes soos vervat in die oorspronklike goedkeuring van krag bly;
(b)die oorspronklike goedkeuring slegs geldig sal wees ten opsigte van die perseel waarvoor dit goedgekeur is, en
(c)geen goedkeuring vanaf die oorspronklike aansoeker na ’n ander persoon oorgedra mag word nie.

7. Strafbepaling

(1)’n Persoon wat artikel 2 oortree, is skuldig aan ’n misdryf en kan by skuldigbevinding ’n boete opgelê word.
(2)’n Person wat versuim om te voldoen aan ’n kennisgewing wat ingevolge subartikel 4(2) gedien is, of ’n vereiste wat deur ’n gemagtigde werknemer in die uitoefening van sy of haar magte of die uitvoering van sy of haar pligte gestel is, is skuldig aan ’n misdryf en kan by skuldigbevinding ’n boete opgelê word.
▲ To the top