Verordening insake Straathandel


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake Straathandel, 2005

1. Woordbepaling

In hierdie verordening, tensy teenstrydig met die sinsverband, beteken:—"beperkte gebied" ’n area waarin die raad handeldryf deur middel van ’n verklaring vir beperk het;"gemagtigde werknemer" ’n werknemer van die munisipaliteit wat gemagtig is om die funksies en pligte van die gemagtigde werknemer ingevolge die bepalings van hierdie verordening te vervul;"handel dryf" die bedryf van ’n besigheid, hetsy deur die verkoop van goedere of die lewering van ’n diens aan die publiek en het "straathandel" dieselfde betekenis;"handelaar" ’n persoon wat op straat handeldryf;"munisipale bestuurder" die beampte wat deur die raad as munisipale bestuurder aangestel is;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"Raad" die raad van die munisipaliteit;"permit" ’n amptelike goedkeuring ingevolge waarvan ’n handelaar toegelaat word om vanaf ’n staanplek wat in ’n beperkte gebied geleë is handel te dryf, onderhewig aan sodanige voorwaardes as wat die raad bepaal;"politieke struktuur" ’n komitee van die raad of ’n wykskomitee, soos beoog in Hoofstuk 4 van die Strukturewet;"staanplek" ’n gebied in ’n straat, waarvan die grense duidelik uitgemerk is en waaraan ’n nommer toegeken is wat op ’n plan wat deur die raad goedgekeur is, verskyn;"straat" enige openbare pad, straat, deurgang, parkeerplek, parkeergebied, pad- of straatreserwe, sypaadjie, soom, brug of drif;"Strukturewet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998);"verklaring" ’n kennisgewing wat die raad in die Provinsiale Koerant afgekondig, ingevolge waarvan ’n gebied wat in die kennisgewing beskryf word as ’n beperkte gebied vir straathandel verklaar word.

2. Toepassing van hierdie verordening

(1)Hierdie verordening vervang die bepalings van artikel 6A van die Wet op Besighede, Wet 71 van 1991.
(2)Hierdie verordening doen nie afbreuk aan die bepalings van enige ander wetgewing insake die lisensiëring en beheer van ondernemings wat voedsel aan die publiek verkoop nie.
(3)Die bepalings van hierdie verordening doen nie afbreuk aan die bepalings van enige huurooreenkoms wat met die raad ten opsigte van ’n straat aangegaan is nie.
(4)Die bepalings van hierdie verordening is nie van toepassing op enige mark of verkoping wat die raad in ’n beperkte gebied goedgekeur het nie.

3. Beperkings op straathandel

(1)Geen handelaar mag in ’n straat handel dryf nie aangrensend aan:—
(a)’n gebou wat besit of okkupeer word deur die staat of die munisipaliteit;
(b)’n kerk of ander plek van aanbidding;
(c)’n gebou wat ingevolge wetgewing as ’n monument verklaar is;
(d)’n gebou waarin ’n besigheid bedryf word deur enige persoon wat goedere van dieselfde of soortgelyke aard as die betrokke handelaar verkoop, of
(e)’n gebou wat vir woondoeleindes gebruik word.
(2)Geen handelaar mag op ’n plek handel dryf nie waar:—
(a)’n brandkraan of ’n toegang of uitgang tot ’n gebou versper sal word;
(b)voertuig of voetgangerverkeer belemmer sal word of ’n gevaar vir verkeer geskep word;
(c)enige fasiliteit vir die gebruik van die publiek versper word;
(d)die sigbaarheid van ’n toonvenster in ’n besigheidsperseel belemmer word;
(e)verkeerstekens, padmerke, kennisgewings of tekens versper word;
(f)toegang tot laaisones en parkeerplekke, voertuie of ander fasiliteite vir voertuig- of voetgangerverkeer beperk word, of
(g)vrye toegang tot munisipale dienswerke belemmer word.
(3)Geen handelaar mag by die plek waar besigheid bedryf word:—
(a)oornag nie;
(b)’n oorlas veroorsaak nie;
(c)die oppervlak van ’n straat of enige munisipale eiendom beskadig of ontsier nie;
(d)’n struktuur anders as ’n sambreel of draagbare sonskerm oprig nie;
(e)’n verkeersgevaar skep nie;
(f)enige voorwerp op enige manier aan ’n gebou, straatmeublement, struktuur, plaveisel, boom, lamppaal, elektriese paal, telefoonfasiliteit, posbus, verkeersteken, parkeermeter of bank vasheg nie;
(g)sonder die toestemming van die munisipale bestuurder ’n vuur maak nie;
(h)nadat ’n gemagtigde werknemer so ’n versoek gerig het, nalaat om enige goedere te verskuif of weg te neem nie;
(i)vullis of afvalmateriaal opgaar, stort, stoor of plaas nie op enige grond, straat of perseel anders as in ’n vullishouer wat deur die raad voorsien of goedgekeur is;
(j)toelaat dat ’n vuil of onhigiëniese toestand ontstaan nie;
(k)sy of haar goedere in ’n vuil of onhigiënise toestand hou nie;
(l)na afloop van die dag se handeldryf, nalaat om alle afval, verpakkingsmateriaal, voorraad en toerusting te verwyder nie;
(m)’n bedreiging of gevaar vir openbare gesondheid of veiligheid skep nie, of
(n)nalaat om te alle tye op sy of haar persoon ’n afskrif van enige permit of goedkeuring wat ingevolge hierdie verordening uitgereik is, te dra en op versoek van ’n gemagtigde werknemer, te toon nie.

4. Verwydering en skut

(1)’n Gemagtigde werknemer mag enige goedere wat ’n handelaar nagelaat het om te verwyder of geweier het om te verwyder nadat ’n gemagtigde werknemer so ’n versoek gerig het, of wat daar weggegooi of agtergelaat is, verwyder en skut:—
(a)wat die gemagtigde werknemer redelikerwys vermoed gebruik word vir straathandel, of
(b)wat gevind is op ’n plek waar die besigheid van straathandel ingevolge hierdie verordening beperk word en wat moontlik ’n oortreding van enige bepaling van hierdie verordening mag uitmaak.
(2)’n Gemagtigde werknemer wat ingevolge subartikel (1) optree, moet:—
(a)behalwe in die geval van goedere wat weggegooi of agtergelaat is, aan die handelaar ’n kwitansie uitreik ten opsigte van goedere wat verwyder en geskut is, en
(b)onverwyld sodanige goedere by ’n plek wat deur die munisipale bestuurder bepaal is, aflewer.
(3)
(a)Die eienaar van goedere wat ingevolge die bepalings van subartikel (1) verwyder en geskut is, is, onderhewig aan die bepalings van artikel 5, verantwoordelik vir die uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is en die munisipaliteit kan sodanige goedere behou totdat die uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is vereffen is of daarmee handel soos beoog deur artikel 5, en
(b)’n sertifikaat wat deur die munisipale bestuurder uitreik is, is bewys van die uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is.

5. Beskikking oor geskutte goedere

(1)Enige bederfbare goedere wat ingevolge artikel 4(1) geskut is, kan te eniger tyd deur die munisipale bestuurder verkoop of vernietig word en die opbrengs van ’n verkoping, minus enige uitgawes wat deur die munisipale bestuurder aangegaan is, moet by die voorlegging van ’n kwitansie soos beoog by artikel 4(2), aan die die eienaar oorbetaal word; met dien verstande dat indien die opbrengs nie binne drie maande na die verkoop van die goedere opgeëis word nie, die geld aan die munisipaliteit verbeur word.
(2)Die eienaar van goedere wat ingevolge artikel 4(1) geskut is, kan, in die geval waar die goedere nie ingevolge subartikel (1) vernietig of verkoop is nie, die goedere opeis by voorlegging van die kwitansie wat in artikel 4(2) beoog word; met dien verstande dat indien die goedere na drie maande steeds nie opgeëis is nie, die munisipale bestuurder die goedere mag verkoop waarna die opbrengs aan die munsipaliteit verbeur word.
(3)Wanneer goedere opgeëis word ingevolge subartikel (2), moet alle uitstaande uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is in verband met die verwydering en skut eers vereffen word voordat die goedere terug besorg word.
(4)In die geval waar die opbrengs van die verkoop van goedere soos beoog deur hierdie verordening nie genoegsaam is om die uitgawes wat deur die musipaliteit aangegaan is te dek nie, word die eienaar van sodanige goedere verantwoordelik gehou vir sodanige uitgawes wat nie deur die verkoop van die goedere gedek is nie.

6. Verklaring van beperkte gebied

(1)Die raad kan enige gebied as ’n area waar die dryf van handel beperk word, verklaar.
(2)Niemand mag in ’n beperkte gebied handel dryf nie:—
(a)tensy so ’n persoon in besit is van:—
(i)’n geldige permit, of
(ii)’n huurooreenkoms met die raad of ’n soortgelyke magtiging ten opsigte van munisipale eiendom.
(b)teenstrydig met die voorwaardes van ’n permit of die bepalings van ’n huurooreenkoms.

7. Prosedure vir die verklaring van ’n beperkte gebied

(1)Wanneer die raad rede het om te vermoed dat die getal handelaars in ’n spesifieke area sodanige afmetings aangeneem het, of die potensiaal het om sodanige afmetings aan te neem dat dit nodig geword het of nodig sal word dat die dryf van handel in sodanige area beperk moet word, kan die raad die uitvoerbaarheid van so ’n beperking ondersoek.
(2)’n Ondersoek na die uitvoerbaarheid om handeldryf te beperk, moet die volgende aanspreek:—
(a)of die getal handelaars in die area die potensiaal het, of kan hê, om negatief in te werk op:—
(i)die bestaande besighede, wonings toeristepotensiaal en toegang vir kopers na die area;
(ii)die beweging van verkeer en/of voetgangers in die area, en
(iii)huidige of toekomstige beplanning en ontwikkeling van die area;
(b)of meer effektiewe toesig of beheer oor die area ’n verklaring onnodig sal maak;
(c)of die voorgenome beperking ’n aansienlike getal handelaars van hulle besighede sal ontneem;
(d)die verskillende keuses wat die raad het, hetsy die area as beperk verklaar word, aldan nie;
(e)die opstel van ’n plan wat die volgende aandui:—
(i)die posisie van die betrokke area;
(ii)indien beperk, die getal handelaars wat in die area toegelaat sal kan word;
(iii)plekke waar handelaars wel toegelaat sal kan word, en
(iv)indien beperk, die kriteria wat gebruik gaan word vir die toekenning van staanplekke;
(f)of enige handelaars aan verenigings behoort en, indien wel, die name, ledetal invloedsfere van sulke verenigings;
(g)enige ander inligting wat ’n invloed mag uitoefen op die oorweging van die verklaring van sodanige gebied, en
(h)die sienings van enige munisipale struktuur, waar van toepassing.
(3)Indien die raad, na oorweging van die bevindings van die ondersoek tot die gevolgtrekking kom dat daar ’n behoefte is om die area te beperk, moet dit die munisipale bestuurder opdrag gee om ’n proses van publieke deelname van stapel te stuur en die raad van die uitslag daarvan in kennis te stel.
(4)Die raad moet die aanbevelings van die betrokke munisipale struktuur, elke beswaar wat aan die betrokke munisipale struktuur gerig is en die kommentaar van die munisipale struktuur daarop, sowel as die kriteria vir die uitreik van permitte, oorweeg.
(5)Die verklaring word van krag op die datum wat dit in die Provinsiale Koerant publiseer word.
(6)Afskrifte van die kennisgewing wat die verklaring waarna in subartikel (5) verwys word bevat, moet by munisipale kantore wat deur die munisipale bestuurder bepaal is, opgeplak word.

8. Permitte vir straathandel in verklaarde gebiede

(1)Die raad sal staanplekke uitmerk in ’n beperkte gebied in ooreenstemming met die plan wat in die verklaring wat in artikel 7(5) beoog word, uiteengesit is.
(2)Enige persoon wat voornemens is om in ’n uitgemerkte staanplek handel te dryf, moet op die vorm wat by die munisipale kantore naaste aan die beperkte gebied verkrygbaar is, daarom aansoek doen.
(3)
(a)Aansoeke om permitte word deur die munisipale bestuurder oorweeg aan die hand van die kriteria wat die raad by sy besluit ingevolge die bepalings van artikel 7(4) aanvaar het, en
(b)waar die aanvraag na staanplekke die beskikbaarheid oorskry, sal ’n waglys van aansoekers geopen word en die munisipale bestuurder ken staanplekke toe ingevolge die kriteria.
(4)Permitte vir staanplekke is geldig vir een maand en moet ten minste die volgende bevat:—
(a)die naam, adres, telefoonnommer en identiteitsnommer van die permithouer;
(b)die nommer van die staanplek, die ligging van die staanplek en die nommer van die kaart van die verklaarde gebied;
(c)die voorwaardes waaronder die permit uitgereik word;
(d)die handtekening van die werknemer wat die permit uitreik, en
(e)die amptelike datumstempel van die kantoor waar die permit uitgereik is.

9. Aanstelling van gemagtigde werknemers en delegasie

(1)Die munisipale bestuurder kan munisipale werknemers as gemagtigde werknemers aanstel om enige pligte ingevolge die bepalings van hierdie verordening te verrig.
(2)Die munisipale bestuurder kan enige bevoegdheid of plig wat ingevolge hierdie verordening aan hom of haar opgedra word aan enige werknemer van die munisipaliteit delegeer.

10. Strafbepaling

Enige persoon wat:—
(a)enige bepaling van hierdie verordening oortree of nalaat om aan enige voorwaarde wat daarvolgens opgelê is te voldoen;
(b)enige raadslid, beampte of gemagtigde werknemer in die uitvoering van sy of haar pligte of werksaamhede ingevolge die bepalings van herdie verordening, dreig, weerstaan, inmeng mee of belemmer, of
(c)doelbewus valse of misleidende inligting aan ’n raadslid, beampte of gemagtigde werknemer van die raad voorsien,
is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete.
▲ To the top