Verordening insake Strate


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake Strate, 2005

1. Woordomskrywing

In hierdie verordening, tensy onbestaanbaar met die sinsverband, beteken:—"implement" ’n stuk masjinerie of toerusting en sluit dit in plaas- en konstruksiemasjienerie asook enige toerusting wat deur so ’n implement gesleep word;"munisipale bestuurder" die persoon wat deur die raad ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998) aangestel is;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"Raad" die raad van die munisipaliteit;"SAMOAG" die Suid-Afrikaanse Handleiding vir Buitereklamebeheer, gepubliseer deur die Departement van Vervoer en die Departement van Omgewingsake en Toerisme;"sypaadjie" daardie gedeelte van ’n straat tussen die buitegrens van die padoppervlak en die grenslyne van aanliggende eiendomme of geboue wat bedoel is vir gebruik deur voetgangers;"voertuig" ook ’n sleepwa, woonwa of ’n implement, en sluit "straat" ook in ’n sypaadjie of ’n straat- of padreserwe.

2. Toepassing van hierdie verordening

Hierdie verordening—
(a)doen nie afbreuk aan die bepalings van enige ander wetgewing nie, en
(b)bind ’n staatsorgaan.

3. Sypaadjies en oorskreidings op strate

Niemand mag—
(a)’n Sypaadjie of motoringang in ’n straat bou nie:—
(i)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, of
(ii)andersins as in ooreenstemming met die voorwaardes wat deur die Munisipale Bestuurder bepaal is, of
(b)’n veranda, stoep, muur op ’n stoep, trappe of ander uitsteeksel oprig of ’n paal in ’n straat plant nie, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder.

4. Advertensies in strate

Niemand mag ’n advertensie, plakkaat, of aanplakbiljet in ’n straat vertoon nie—
(a)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en
(b)andersins as in ooreenstemming met die voorwaardes wat deur die Munisipale Bestuurder bepaal is.

5. Advertensietekens sigbaar vanaf strate

(1)Niemand mag ’n advertensie wat vanaf die straat sigbaar is, aanbring of oprig nie—
(a)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en
(b)andersins as in ooreenstemming met die voorwaardes wat deur die Munisipale Bestuurder bepaal is.
(2)Aansoek om toestemming om ’n advertensieteken aan te bring of op te rig, moet skriftelik op die aansoekvorm wat deur die munisipaliteit voorsien word, gedoen word en moet vergesel word van sodanige planne as wat deur die munisipaliteit vereis mag word.
(3)Aansoeke vir advertensietekens word oorweeg ingevolge die riglyne soos bepaal deur SAMOAG.
(4)Die bepalings van subartikel (1) is nie op die volgende tipes tekens van toepassing nie-
(a)bouers se naamborde met ’n oppervlak van minder as 2 m²;
(b)te huur en te koop tekens wat nie 400 mm × 500 mm oorskry nie;
(c)die name van professionele diensverskaffers, beperk tot een per persoon, met ’n maksimum oppervlakte van 0,2 m² per teken.
(d)naamborde van sekuriteitsfirmas op persele waar ’n diens gelewer word, en
(e)tekens wat op voertuie geverf of aangebring is.
(5)Die Munisipale Bestuurder kan vereis dat studies op koste van die aansoeker gedoen word om te bepaal of die goedkeuring van ’n aansoek om ’n teken aan te bring ’n nadelige impak op die omgewing of verkeerbeheer sal hê.

6. Voorwerpe wat ’n versperring veroorsaak

Niemand mag—
(a)goedere of artikels in ’n straat neersit of laat bly nie, behalwe vir ’n redelike tydperk terwyl dit op- of afgelaai of verwyder word, of
(b)op enige wyse die voetgangerverkeer op ’n sypaadjie belemmer deur enige voorwerp of voertuig (uitgesonderd ’n kinderwaentjie of rolstoel wat vir die vervoer van kinders of gestremdes gebruik word) daarop te bring of toe te laat dat dit daarop gebring word nie, of
(c)’n blinding, skerm, tou of ander voorwerp oor of op ’n straat laat uitsteek of toelaat dat dit daaroor of daarop uitsteek nie—
(i)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en
(ii)andersins as in ooreenstemming met die voorwaardes wat die Munisipale Bestuurder stel.

7. Bome in strate

(1)Niemand mag—
(a)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, ’n boom of struik in ’n straat plant, of dit op enige wyse in ’n straat afkap of daarvandaan verwyder nie;
(b)in ’n boom klim wat in ’n straat groei, of dit breek of beskadig nie, of
(c)’n boom wat in ’n straat groei, op enige wyse merk of beskilder of ’n advertensie daarop aanbring nie.
(2)’n Boom of struik wat in ’n straat geplant word, word die eiendom van die munisipaliteit.

8. Bome wat ’n hindernis of versperring veroorsaak

(1)Wanneer daar ook al op ’n eiendom ’n boom of ander gewas is wat lugdrade belemmer of wat ergernis, gevaar of ongerief veroorsaak vir persone wat ’n straat gebruik, kan die Raad by skriftelike kennisgewing die eienaar of okkupeerder van sodanige eiendom gelas om sodanige boom of gewas te snoei of te verwyder in die mate en binne die tydperk wat in sodanige kennisgewing bepaal word.
(2)Iedereen wat in gebreke bly om te voldoen aan ’n kennisgewing wat ingevolge subartikel (1) uitgereik word, is skuldig aan ’n misdryf.
(3)Indien iemand versuim om te voldoen aan ’n kennisgewing ingevolge hierdie artikel, kan die Munisipale Bestuurder self die boom of gewas snoei of verwyder op koste van die persoon aan wie die kennisgewing beteken is.

9. Vullis, motorwrakke en afvalmateriaal

Niemand mag—
(a)tuinvullis, motorvoertuigwrakke, onderdele van voertuie, bou- of afvalmateriaal, rommel of ander afvalstowwe in ’n straat of op ’n openbare plek stort of laat lê of ophoop nie, of
(b)toelaat dat voorwerpe of stowwe vanaf ’n perseel waarvan hy of sy die eienaar of okkupeerder is, in ’n straat of op ’n openbare plek gestort of geplaas word nie,
behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die Munisipale Bestuurder stel.

10. Verbod op sekere werksaamhede in verband met voorwerpe in strate

Niemand mag in ’n straat—
(a)’n voertuig herstel nie, behalwe waar dit nodig is om sodanige voertuig te kan verwyder van die plek waar dit in ’n ongeluk betrokke was, of
(b)’n voertuig skoonmaak of ’n ander artikel of voorwerp was, skoonmaak, droogmaak of bleik nie.

11. Verbod op speletjies en ander handelinge in strate

Niemand mag—
(a)in, op of oor ’n straat ’n hoepel rol, ’n vlieër oplaat, met ’n pyl en boog of ’n rekker skiet, vuurwerk afskiet of ’n klip, stok of ander werptuig gooi nie, of
(b)enigiets in ’n straat doen wat die lewe of veiligheid van ’n persoon, dier of ding in gevaar kan stel of ’n oorlas, belemmering of ergernis vir die publiek kan wees nie.

12. Vervoer van karkasse van diere of ander afvalstowwe deur strate

Niemand mag die karkas van ’n dier of afval, nagvuil, vullis, rommel, vuilgoed of mis deur ’n straat dra of vervoer nie—
(a)tensy dit behoorlik bedek is, en
(b)tensy dit in so ’n tipe houer vervoer word dat aanstootlike vloeistowwe of dele van die vrag nie in die straat gestort word nie.

13. Heinings op straatgrense

Niemand mag, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder:—
(a)’n hakiesdraad of enige ander gevaarlike heining op ’n straatgrens oprig nie, of
(b)hekke wat na buite oopmaak in ’n heining of muur aangrensend aan ’n straat aanbring nie.

14. Boumateriaal in strate

Niemand mag, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder:—
(a)met boumateriaal in ’n straat werk nie, of
(b)in ’n straat boumateriaal opberg of plaas nie, of
(c)boumateriaal, gemeng of ongemeng, oor ’n straat vervoer op so ’n wyse dat die straat beskadig kan word nie.

15. Balkonne en verandas

Niemand mag, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder—
(a)’n balkon of veranda wat verby die grenslyn van ’n straat opgerig is, gebruik vir die doel van handeldryf of die opberg van goedere, of vir die was of droog van klere daarop nie, of
(b)’n balkon of veranda wat verby die grenslyn van ’n straat opgerig is of gedeelte daarvan as ’n woon- of slaapvertrek omsluit of afskort nie.

16. Droog van wasgoed op heinings op straatgrense

Niemand mag wasgoed op heinings op straatgrense uithang of droog nie.

17. Uitspan en parkering in strate

Niemand mag:—
(a)’n voertuig wat deur diere getrek word, in ’n straat uitspan of laat uitspan, of enige sleepwa, woonwa of voertuig wat nie selfaangedrewe is nie, in ’n straat afhaak of laat staan nie; met dien verstande dat hierdie bepaling nie van toepassing is op die werklike op- of aflaai van sodanige voertuig nie, of
(b)’n voertuig met ’n bruto massa van meer as 3 000 kg of ’n implement, oornag in ’n straat parkeer nie.

18. Beskerming van straatoppervlak

(1)Niemand mag—
(a)’n voertuig in ’n straat gebruik of toelaat dat dit daarin gebruik word indien sodanige voertuig in so ’n gebrekkige toestand is dat dit skade aan ’n straat sal veroorsaak of moontlik sal veroorsaak nie, of
(b)’n voorwerp, masjien of ander materiaal deur of langs ’n straat bestuur, stoot, rol, trek of laat voortbeweeg op so ’n wyse, of terwyl sodanige voorwerp, masjien of materiaal in so ’n toestand is, dat die oppervlak van die straat op enige wyse daardeur beskadig, gebreek of vernietig kan word nie.
(2)Indien die Munisipale Bestuurder ’n persoon identifiseer wat as gevolg van die handelinge in subartikel (1) vermeld die oppervlak van ’n straat beskadig, gebreek of vernietig het, kan die herstelkoste, soos deur die Munisipale Bestuurder vasgestel, op die oortreder verhaal word.
(3)Niemand behalwe ’n gemagtigde amtpenaar van die munisipaliteit by die vervulling van sy pligte mag strepe, woorde, tekens of advertensies op die oppervlak van ’n straat aanbring, merk, verf of skilder nie.

19. Beskadiging van kennisgewingborde

Niemand mag ’n kennisgewingbord, padverkeersteken, straatnaambord of ander soortgelyke teken of ’n skutting wat deur of met die toestemming van die Raad in ’n straat opgerig is, ontsier of beskadig of hom of haar op enige wyse daarmee bemoei nie.

20. Straat- en huis-tot-huis kollektes

Niemand mag—
(a)in ’n straat geld insamel of probeer insamel of sodanige insameling organiseer of op enige wyse behulpsaam wees met die organisering daarvan nie, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder en andersins as in ooreenstemming met die voorwaardes deur die Munisipale Bestuurder gestel, of
(b)van huis tot huis kollekteer, bedel of aalmoese vra of invorder nie, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder.

21. Uitgrawings in strate

Niemand mag in ’n straat ’n uitgrawing maak of laat maak of ’n put, sloot of gat grawe of laat grawe nie—
(a)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en
(b)andersins as in ooreenstemming met die vereistes wat die Munisipale Bestuurder bepaal.

22. Gif in strate

Niemand behalwe ’n amptenaar van die munisipaliteit of ’n gemagtigde persoon wat wettig goedgekeurde onkruiddoders of gifstof toedien, mag gif in ’n straat plaas of gooi nie.

23. Rolskaats en skaats op skaatsplanke in strate verbode

Niemand mag, behalwe met die voorafverkreë skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, met rolskaatse of ’n skaatsplank of soortgelyke toestel in ’n openbare parkeergebied of straat skaats nie.

24. Persone moet behoorlik geklee wees

Niemand mag op straat verskyn sonder om geklee te wees op ’n wyse wat aan die eise van welvoeglikheid voldoen nie.

25. Gedrag in strate

(1)Niemand mag in ’n straat of op ’n openbare plek tot oorlas van ander persone slenter, staan, sit of lê nie.
(2)Niemand mag in ’n straat of op ’n openbare plek—
(a)skel-, beledigende, onwelvoeglike, dreigende of godslasterlike taal besig nie;
(b)baklei of oproerig optree nie;
(c)bedel of geld of bydraes van lede van die publiek vra nie;
(d)tot ergernis of ongemak van enige ander persoon skreeu, gil of enige lawaai op watter wyse ook al maak nie;
(e)aan sy behoefte voldoen nie behalwe in ’n sanitêre gerief wat deur die Raad vir sodanige doel voorsien en goedgekeur is;
(f)met die oog op prostitusie of onsedelikheid iemand aanspreek of lastig val nie;
(g)dobbelary beoefen nie;
(h)bedwelmende drank gebruik nie;
(i)toelaat dat ’n hond wat deur daardie persoon besit word of in beheer daarvan is, in ’n straat kom tensy dit aan ’n halsband en onder beheer is nie;
(j)in of op ’n voertuig slaap nie, of
(k)in ’n straat of openbare plek spuug nie.

26. Wilde diere

Geen eienaar of persoon wat beheer het oor ’n wilde of kwaai dier, aap of horingvee, mag toelaat dat dit te eniger tyd in ’n straat sonder voldoende toesig is of los rondloop nie, of mag sodanige dier op so ’n wyse aanhou dat dit gevaarlik of ergernis vir die publiek kan wees nie.

27. Vertoning van straatnommers van plekke

Die Munisipale Bestuurder kan by skriftelike kennisgewing voorskryf dat ’n nommer wat aan ’n perseel toegeken is, op sodanige perseel vertoon moet word, en kan ook die posisie voorskryf waar dit vertoon moet word, en die eienaar of okkupeerder van sodanige perseel moet binne 30 dae na die datum van sodanige kennisgewing die toegekende nommer op die perseel aanbring in ooreenstemming met so ’n kennisgewing.

28. Brûe en oorgange oor vore en sypaadjies

Geen private oorgang, voetpaadjie, brug of duiker mag na of voor ’n woning of ander perseel in ’n straat of op ’n openbare plek gemaak of gebou word nie—
(a)behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en
(b)andersins as in ooreenstemming met die vereistes wat die Munisipale Bestuurder bepaal.

29. Beheer oor vermaaklikheidsvertonings en -toestelle

Niemand mag, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die Munisipale Bestuurder bepaal, in ’n straat of openbare plek ’n vermaaklikheidsvertoning aanbied of ’n toestel opstel vir die vermaak van die publiek nie.

30. Beheer oor voertuie wat deur diere getrek word

Niemand mag—
(a)tegelykertyd meer as een voertuig wat deur diere getrek word, in ’n straat bestuur of beheer daaroor hê nie, of
(b)’n voertuig wat deur diere getrek word, in ’n straat bestuur of beheer daaroor hê nie as hy of sy onder die ouderdom van 16 jaar is.

31. Optogte

(1)Niemand mag, in ’n straat, aan ’n optog of betoging deelneem of dit organiseer nie, behalwe met die skriftelike toestemming van die Munisipale Bestuurder, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die Munisipale Bestuurder stel.
(2)Die bepalings van subartikel (1) is nie van toepassing op optogte en betogings wat deur ander wetgewing reguleer word nie.

32. Munisipaliteit kan optree en koste verhaal

(1)Ondanks enige andersluidende bepalings van hierdie verordening kan die Munisipale Bestuurder—
(a)waar die toestemming van die Munisipale Bestuurder benodig is alvorens ’n persoon ’n sekere daad mag verrig of iets mag bou of oprig, en sodanige toestemming nie verkry is nie, en
(b)waar enige bepaling van hierdie verordening oortree word in omstandighede waar die oortreding beëindig kan word deur die verwydering van enige struktuur, voorwerp, materiaal of stof,
’n skriftelike kennisgewing aan die eienaar van die perseel of die oortreder, na gelang van die geval, beteken om sodanige oortreding te beëindig, of die struktuur, voorwerp, materiaal of stof te verwyder, of die ander stappe te doen wat die Munisipale Bestuurder vereis om sodanige oortreding reg te stel binne die tydperk in sodanige kennisgewing vermeld.
(2)Iedereen wat versuim om aan ’n kennisgewing ingevolge subartikel (1) te voldoen, is skuldig aan ’n misdryf, en die Munisipale Bestuurder kan, sonder inkorting van sy bevoegdhede om teen die oortreder op tree, die nodige stappe doen om op koste van die eienaar van die perseel of die oortreder, na gelang van die geval, uitvoering aan sodanige kennisgewing te gee.

33. Delegasie

Die munisipale bestuurder mag enige bevoegdheid of plig wat ingevolge die bepalings van hierdie verordening aan die munisipale bestuurder toegeken is, skriftelik aan ’n amptenaar van die munisipaliteit delegeer.

34. Strafbepaling

’n Persoon wat enige bepaling van hierdie verordening oortree of nalaat om aan ’n voorwaarde wat opgelê is of ’n kennisgewing wat uitgereik is te voldoen, is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete.
▲ To the top