Tariefbeleidverordening


Cape Agulhas
South Africa

Tariefbeleidverordening, 2005

Om uitvoering te gee aan die instelling en toepassing van die munisipaliteit se tariefbeleid, soos vereis ingevolge artikel 75 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, No. 32 van 2000 en om te voldoen aan sekere voorskrifte van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, No. 56 van 2003.

Aanhef

Aangesien artikel 4 van die Stelselswet die munisipaliteit die reg verleen om onder andere gelde vir dienste te hef en bobelasting op gelde, eiendomsbelasting en, in die mate deur nasionale wetgewing daartoe gemagtig, ander belastings, heffings en aksyns te hef;Aangesien artikel 4(2(d) van die Stelselswet die munisipaliteit verplig om daarna te streef om te verseker dat munisipale dienste op ’n finansieel en omgewingsvolhoubare wyse aan die plaaslike gemeenskap verskaf word;Aangesien artikel 4(2)(e) van die Stelselswet die munisipaliteit verplig om die plaaslike gemeenskap te raadpleeg oor die vlak, kwaliteit, bestek en inslag van munisipale dienste wat deur die munisipaliteit voorsien word, òf direk òf deur middel van ’n ander diensverskaffer;Aangesien artikel 75A van die Stelselswet die munisipaliteit die bevoegdheid verleen om gelde, kostes of tariewe te hef en in te vorder ten opsigte van enige funksie of diens van die munisipaliteit;Aangesien artikel 74 van die Stelselswet vereis dat die raad ’n tariefbeleid aanneem en instel ten opsigte van die heffing van gelde vir munisipale dienste;Aangesien ’n tariefbeleid minstens die beginsels vervat in artikel 74(2) van die Stelselswet moet weergee en mag onderskei tussen verskillende kategorieë gebruikers, debiteure, diensverskaffers, dienste, diensstandaarde, geografiese gebiede en ander aangeleenthede solank dit nie neerkom op onbillike diskriminasie nie; enAangesien artikel 75 van die Stelselswet vereis die raad ’n verordening moet aanneem om uitvoering te gee aan die implementering en toepassing van sy tariefbeleid.

1. Woordbepaling

In hierdie verordening, tensy uit die samehang anders blyk, beteken:—"arm huishoudings" huishoudings in die munisipale gebied wat dit nie kan bekostig om òf die volle tariefheffing vir munispale dienste òf ’n deel daarvan te betaal nie;"beleid" die raad se se tariefbeleid soos vervat in die bylae van hierdie verordening;"diens" enige munisipale diens soos omskryf in die Stelselswet en enige ander diens wat die munisipaliteit lewer soos uiteengesit in die beleid;"Finansiële Bestuurswet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, Nr. 56 van 2003"finansiële herstelplan" ’n plan soos omskryf in die Finansiële Bestuurswet;"gebruiker" ’n persoon wat aansoek gedoen het en ’n ooreenkoms met die munisipaliteit gesluit het vir die lewering van ’n diens deur die munisipaliteit of enige ander persoon wat ingevolge enige ander verordening van die munisipaliteit aanspreeklik is vir die betaling van ’n diens;"hierdie verordening" ook die bylae daartoe;"kredietbeheerverordening" die munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleidverordening, gepubliseer in die Provinsiale Koerant;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"Raad" die munisipale raad van die munisipaliteit;"Stelselswet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, Wet 32 van 2000;"Strukturewet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, Wet 117 van 1998;"tarief" ’n tarief vir dienste wat ’n munisipaliteit kan vasstel vir die lewering van ’n diens aan die plaaslike gemeenskap, en ook ’n bo-belasting op sodanige tarief.

2. Oogmerk

Die oogmerk van hierdie verordening is om te verseker dat—
(a)tariewe vasgestel word wat volhoubare en bekostigbare dienslewering kan fasiliteer en verseker;
(b)koste reflekterende tariewe vasgestel word wat die koste van kapitaal-, bedryfs-, instandhoudings-, administratiewe-, en vervangingsuitgawes insluit vir die verskillende dienste en funksies wat deur die raad voorsien/gelewer word;
(c)selfonderhoudende tariewe vasgestel word vir handels-, en ekonomiese dienste en enige surplus wat daaruit mag voortvloei, oorgedra word na belasting- en algemene dienste wat uit die aard van die betrokke diens, nie selfonderhoudend kan wees nie;
(d)eenvormige tariewe vasgestel word wat van toepassing is op die totale regsgebied van die raad;
(e)tariewe, spesifiek vir water maar nie beperk tot water nie, vasgestel word wat vermorsing kan ontmoedig;
(f)tariewe wat elke individuele verbruiker of kategorie van verbruikers moet betaal, in die algemeen in verhouding staan tot die gebruik van die betrokke diens;
(g)sover prakties haalbaar, kruissubsidiëring van verskillende tariewe en verskuilde subsidies in tariewe, uitgeskakel word;
(h)arm huishoudings minstens tot basiese dienste toegang kan kry deur—
(i)tariewe wat bloot bedryfs- en instandhoudingskoste dek;
(ii)spesiale tariewe of lewenslyntariewe vir lae vlakke van gebruik of verbruik van dienste of vir basiese diensvlakke;
(iii)die gratis voorsiening van 6 kiloliter water en 50 kWh elektrisiteit vir huishoudelike gebruik deur middel van kruis subsidiëring; en
(iv)die toekenning van deernissubsidies op tariewe vir basiese dienste wat water, sanitasie, en vullisverwydering insluit;
(v)enige ander regstreekse of onregstreekse metode van subsidiëring en/of kruissubsidiëring van tariewe vir arm huishoudings;
(i)voorsiening in toepaslike omstandighede gemaak kan word vir ’n bobelasting op die tarief vir ’n diens;
(j)voorsiening gemaak kan word vir die bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling deur spesiale tariewe vir kategorieë of kommersiële- en nywerheidsgebruikers;
(k)die ekonomiese, doeltreffende en effektiewe gebruik van hulpbronne, die herwinning van afval, en ander toepaslike omgewingsoogmerke aangemoedig word; en
(l)uitvoering gegee word aan die implementering en toepassing van die beleid.

3. Hef van tariewe

(1)Onderworpe aan subartikel (2), bepaal die raad tariewe wanneer dit die begroting vir ’n begrotingsjaar goedkeur.
(2)Die raad bepaal tariewe gedurende ’n finansiële jaar slegs wanneer—
(a)’n nuwe diens ingestel word,
(b)geen tarief vir ’n bestaande diens voorheen gehef is nie, of
(c)dit nodig is om ’n tarief wat reeds gehef is te korrigeer.
(3)Die raad verhoog nie tariewe gedurende ’n finansiële jaar nie, behalwe wanneer ’n verhoging ingevolge ’n finansiële herstelplan ingevolge artikel 28(6) van die Finansiële Bestuurswet vereis word.
(4)Die raad hef tariewe by besluit geneem met ’n ondersteunende stem van die meerderheid van sy lede.

4. Beleid

(1)Die raad hef tariewe in ooreenstemming met die beleid, vervat in die bylae van hierdie verordening.
(2)Onderskeid in die beleid tussen verskillende kategorieë gebruikers, debiteure, diensverskaffers, dienste, diensstandaarde, geografiese gebiede en ander aangeleenthede is noodsaaklik om gevolg te gee aan die oogmerke van hierdie verordening sonder dat dit neerkom op onbillike diskriminasie.
(3)Die burgemeester moet tydens die opstel van die jaarlikse begroting die hersiening van die beleid, indien nodig, koördineer.
(4)Enige wysiging van die beleid moet deur die raad goedgekeur word wanneer besluite oor die vasstelling van tariewe vir die begrotingsjaar aanvaar word en moet gepubliseer word as ’n wysiging van hierdie verordening.

5. Publieke Deelname

(1)Sodra die jaarlikse begroting ingevolge artikel 16 van die Finansiële Bestuurswet in die raad ter tafel gelê is, moet die munisipale bestuurder die konsepbesluite wat enige tariewe vasstel, openbaar maak en—
(a)die plaaslike gemeenskap uitnooi om vertoë in verband daarmee voor te lê, en
(b)die jaarlikse begroting aan die Nasionale Tesourie, provinsiale tesourie en ander nasionale of provinsiale staatsorgane en ander munisipaliteite wat ingevolge artikel 16 van die Finansiële Bestuurswet vereis mag word, voorlê.
(2)Die raad moet die sienswyses van die plaaslike gemeenskap en die liggame, bedoel in paragraaf (a) van subartikel (2), wat vertoë oor die begroting gerig het, sowel as die burgemeester se reaksie op die vertoë, oorweeg alvorens dit tariewe vir die begrotingsjaar finaliseer.
(3)Die Raad raadpleeg die plaaslike gemeenskap oor strategiese besluite wat betrekking het op die beplanning en verskaffing van dienste en die invloed daarvan op tariewe.

6. Toepassing

Hierdie verordening geld ook ten opsigte van die heffing van tariewe vir munisipale dienste wat deur middel van diensleweringsooreenkomste, verskaf word, en wat aan die bepalings van Stelselswet en enige ander toepaslike wetgewing voldoen.

Schedule

Deel 1 – Beginsels

1. Kostes vir dienste verhaal te word

Gelde, kostes of tariewe vir die volgende dienste word baseer op die verhaling van koste vir die lewering van die dienste—
(a)elektrisiteit;
(b)water;
(c)afvalwater en rioolverwydering; en
(d)vullisverwydering.

2. Kostes vir hulpdienste verhaal te word

(1)Gelde, kostes of tariewe vir hulpdienste word baseer op die verhaling van koste vir die lewering van die dienste.
(2)Hulpdienste is daardie dienste wat redelikerwys nodig is vir, of bykomstig is tot, die effektiewe verrigting van munisipale dienste.
(3)Hulpdienste sluit die volgende in, maar is nie beperk nie tot—
(a)die oorweging van ’n aansoek;
(b)die uitreiking van ’n sertifikaat, voorskrif, goedkeuring, toestemming deur die munisipaliteit;
(c)die vervaardiging of installering van ’n item of werke deur die munisipaliteit;
(d)die gebruik van ’n munisipale amptenaar se dienste;
(e)huur van munisipale toerusting; en
(f)die gebruik van munisipale infrastruktuur en geriewe.

3. Subsidie

(1)Die munisipaliteit erken dat sommige lede van die gemeenskap in ’n beter posisie dan andere verkeer om te betaal vir en toegang te hê tot die dienste wat hulle gebruik. Die begroting van die munisipaliteit is gevolglik ’n belangrike meganisme om herverdeling in die gemeenskap te verseker en waar nodig sal kruissubsidiëring en subsidies van ander bronne gebruik word om aan hierdie herverdelingsoogmerk gevolg te gee.
(2)Gesubsideerde dienste is daardie dienste ten opsigte waarvan die tariewe wat vasgestel word nie al die koste vir die lewering daarvan reflekteer nie. Die dienste is dikwels suiwer regulerend van aard en enige verliese ten opsigte van sodanige dienste word finansier deur belasting en gesubsideerde inkomste.
(3)Tariewe vir die volgende dienste is nie genoegsaam om die koste vir die lewering van die dienste te verhaal nie en inkomste van belasting word gebruik vir finansiering daarvan—
(a)brandbestrydingsdienste;
(b)begraafplase en krematoria;
(c)plaaslike geriewe;
(d)plaaslike sportfasiliteite;
(e)markte; en
(f)ander dienste wat die munisipaliteit verplig word om te lewer.

4. Gratis basiese dienste

(1)Die munisipaliteit onderskryf ’n beleid waarvolgens elke persoon geregtig is op gratis dienste van ’n minimum vlak ten opsigte van bepaalde basiese dienste.
(2)’n Basiese diens is ’n munisipale diens wat noodsaaklik is om aanvaarbare en redelike lewenskwaliteit te verseker en wat, indien dit nie verskaf word nie, openbare gesondheid of veiligheid, of die omgewing, in gevaar sal stel.
(3)Gratis basiese dienste geld ten opsigte van—
(a)water;
(b)afvalwater en rioolverwydering;
(c)vullisverwydering; en
(d)elektrisiteit.

5. Tariewe koste-doeltreffend te wees

(1)Die munisipaliteit onderneem om tariewe koste-doeltreffend te hou en sal verseker dat—
(a)dienste teen ’n algemeen aanvaarbare vlak gelewer word, en
(b)verbetering in doeltreffendheid op alle terreine in die munisipaliteit bevorder word.
(2)Die raad het ’n prestasiebestuurstelsel ingestel om te verseker dat planne wat beraam is wel implementeer word; dat hulpbronne so ekonomies moontlik bekom word, effektief en doeltreffend aangewend word en dat toepaslike diensleweringsmeganismes gebruik word.
(3)Enige nie-kern funksie wat die munisipaliteit tans verrig sal so spoedig moontlik uitfaseer word, sonder om die gemeenskap te ontneem van ’n diens wat bydra tot lewenskwaliteit.
(4)Dienste wat verskaf word terwyl daar nie ’n groot aanvraag daarvoor is nie, wat benede die werklike koste daarvoor gelewer word en wat vereis dat die munisipaliteit aansienlike infrastruktuur en ander fasiliteite daarvoor in stand moet hou, sal uitfaseer word behalwe waar die munisipaliteit wetlik verplig is om dit te lewer.
(5)Die ekonomiese, effektiewe en doeltreffende gebruik van hulpbronne, die herwinning van afval, en ander toepaslike omgewingsoogmerke word aangemoedig en die raad sal toepaslike insentiewe oorweeg vir die bereiking van daardie doel;
(6)Die munisipaliteit kan verskillende vlakke van diens lewer en kan verskillende tariewe vir die verskillende vlakke bepaal.
(7)Wanneer tariewe bepaal word sal die vermoë van die verskillende kategorië van gebruikers binne redelike en koste effektiewe perke in ag geneem word ten einde groei in die munisipale gebied te bevorder.

6. Volledige gebruik van inkomstebronne

(1)Die munisipaliteit sal verseker dat waar moontlik tariewe ingestel sal word in gevalle waar daar onekonomiese tariewe (d.i. te laag in verhouding tot die koste om die betrokke diens te lewer) is of waar daar geen of net nominale tariewe is.
(2)Die munisipaliteit sal verseker dat—
(a)tariewe vir dienste jaarliks hersien word;
(b)tariefverhogings in ooreenstemming is met verhogings in die prys van goedere, materiaal en ander bronne wat bekom en gebruik word in die uitvoering van munisipale funksies; en
(c)die tarief vir ’n bepaalde diens bereken word op so ’n wyse dat dit alle toepaslike kostes insluit. Dit beteken dat ’n tarief vir ’n diens ten minste die kapitaalkoste en rente daarop moet insluit sowel as die koste om die diens te bestuur en te bedryf, en die koste vir herstel, onderhoud en vervanging van tasbare bates in die gebruik daarvan.

7. Gebruiker moet betaal vir dienste

(1)Ondanks die munisipaliteit se verbintenis tot gratis basiese dienste, huldig die munisipaliteit die standpunt dat gebruikers van dienste moet betaal vir dit wat hulle gebruik. Waar dit wel moontlik is om die verbruik van dienste te meet sal die munisipaliteit meetstelsels aanbring.
(2)Alle huishoudelike gebruikers, met die uitsluiting van arm huishoudings, moet die volle bedrag betaal vir dienste gelewer.

8. Surplusse

Die raad mag voorsiening maak vir surplusse op die inkomste wat van die volgende dienste ontvang word—
(a)water;
(b)afvalwater en rioolverwydering;
(c)vullisverwydering;
(d)elektrisiteit; en
(e)vakansie-oorde.

9. Kategorië van gebruikers

(1)Kategorië gebruikers van ongesubsideerde dienste sluit die volgende in—
(a)huishoudelike gebruikers;
(b)sake gebruikers;
(c)nywerheidsgebruikers;
(d)landbougebruikers;
(e)landelike gebruikers;
(f)munisipale dienste;
(g)grootmaat gebruikers; en
(h)tydelike gebruikers.
(2)
(a)Die raad kan onderskei tussen tariewe vir gesubsideerde dienste soos bedoel in item 3.
(b)Kategorië gebruikers vir gesubsideerde dienste kan die volgende insluit—
(i)Skole
(ii)Kerke
(iii)Arm huishoudings
(iv)Geregistreerde welsynsorganisasies
(v)Nie-regeringsorganisasies goedgekeur deur die raad.
(3)Die munisipaliteit sal gelykheid binne elke kategorie verseker.

10. Rekeninge en optrede in gevalle van wanbetaling

(1)Elektrisiteit word gemeet in eenhede (kWh) en maksimum aanvraag (in kVA) en water in kiloliter. Die raad sal poog om ’n korrekte maandelikse rekening aan gebruikers te lewer deur meters maandeliks te lees.
(2)Gebruikers word aangeslaan slegs vir werklike gebruik. In gevalle waar, vanweë onvermydelike omstandighede, dit nie moontlik is om meters te lees nie sal ’n gemiddelde gebruik vir rekeningdoeleindes gebruik word en sal die nodige aanpassing in die volgende maand gedoen word.
(3)Streng aksie sal ingevolge die kredietbeheerbeleidverordening teen wanbetalers geneem word.

Deel 2 – Elektrisiteit

11. Basiese koste

(1)Die raad mag ’n heffing vir basiese koste bepaal.
(2)Die raad kan tussen verskillende kategorië gebruikers onderskei.

12. Tariewe

(1)Die raad kan die volgende tariewe hef—
(a)beskikbaarheidsgelde baseer op verbruik en kategorie gebruikers;
(b)gelde vir gebruik in kWh, onderskei tussen die verskillende kategorië gebruikers;
(c)gelde vir gebruik (per kVA aanvraag) ten opsigte van—
(i)grootmaat gebruikers, en
(ii)buite spitsure.
(d)kostes vir hulpdienste insluitend maar nie beperk tot nie die volgende—
(i)toets van meter;
(ii)spesiale lesings; en
(iii)aansluitings, afsnydings, wanbetalers en heraansluitings.
(2)BTW is waar van toepassing by die tariewe ingesluit en moet na gelang die koers in terme van die BTW-wetgewing, op/of afwaarts aangepas word.

13. Gratis basiese dienste

Die vlak van gratis elektrisiteit beloop 50 kWh per huishouding per maand en is nie oordraagbaar na die daaropvolgende maand nie.

Deel 3 – Water

14. Basiese koste

(1)Die raad mag ’n heffing vir basiese/beskikbaarheids koste bepaal.
(2)Die raad kan tussen verskillende kategorië gebruikers onderskei.

15. Tariewe

(1)Die raad kan die volgende tariewe hef—
(a)beskikbaarheidsgelde;
(b)gelde vir gebruik van water;
(i)op ’n stygende glyskaal ten opsigte van huishoudelike gebruikers;
(ii)op ’n stygende glyskaal ten opsigte van ander kategorie gebruikers, buiten huishoudelike gebruikers;
(iii)deur die munisipaliteit, en
(iv)ten opsigte van grootmaat watervoorsiening aan informele deurgangskampe.
(c)Kostes vir hulpdienste insluitend, maar nie beperk tot nie die volgende—
(i)toets van meter;
(ii)spesiale lesings; en
(iii)aansluitings, afsnydings, wanbetalers en heraansluitings.
(2)BTW is waar van toepassing by die tariewe ingesluit en moet na gelang die koers in terme van die BTW-wetgewing, op/of afwaarts aangepas word.

16. Gratis basiese dienste

Die vlak van gratis water beloop 6kl per huishouding per maand en is nie oordraagbaar na die daaropvolgende maand nie.

Deel 4 – Afvalwater en rioolverwydering

17. Basiese koste

(1)Die raad mag ’n heffing vir basiese koste bepaal.
(2)Die raad kan tussen verskillende kategorie gebruikers onderskei.

18. Tariewe

(1)Die raad kan beskikbaarheidsgelde bereken en hef.
(2)Die raad kan tussen verskillende kategorie gebruikers onderskei.
(3)Die raad kan kostes vir hulpdienste, insluitend die volgende, hef—
(a)toets van meter;
(b)spesiale lesings; en
(c)aansluitings, afsnydings en heraansluitings.
(4)BTW is waar van toepassing by die tariewe ingesluit en moet na gelang die koers in terme van die BTW-wetgewing, op/of afwaarts aangepas word.

19. Gratis basiese dienste

Die vlak van gratis dienste ten opsigte van afvalwater en rioolverwydering word aan geïdentifiseerde behoeftige en arm huishoudings gesubsidieer deur middel van deernistoekenningsperke soos deur die raad vasgestel.

Deel 5 – Vullisverwydering

20. Basiese koste

(1)Die raad mag ’n heffing vir basiese koste bepaal.
(2)Die raad kan tussen verskillende kategorie gebruikers onderskei.

21. Tariewe

(1)Die raad kan ’n tarief, baseer op die volgende, hef—
(a)die getal verwyderings;
(b)die gewig van ’n verwydering;
(c)die getal houers verwyder;
(d)die soort vullis; of
(e)enige ander faktor wat op die diens betrekking het.
(2)BTW is waar van toepassing by die tariewe ingesluit en moet na gelang die koers in terme van die BTW-wetgewing, op/of afwaarts aangepas word.

22. Gratis basiese dienste

Die vlak van gratis gratis vullisverwydering word aan geïdentifiseerde behoeftige en arm huishoudings gesubsidieer deur middel van deernistoekenningsperke soos deur die raad vasgestel.
▲ To the top