Verordening insake Afvalwater


Cape Agulhas
South Africa

Verordening insake Afvalwater, 2005

1. Woordbepaling

In hierdie verordening beteken:—"afvalmaler" enige meganiese toestel wat ’n stof maal en in die afvalwaterstelsel afspoel, of wat groente skille, skubbe of ander voorwerpe verwyder en dit direk of indirek in die afvalwaterstelsel uitskei en sluit dit in uitvloeisel vanaf ’n voedselafvalmaler;"afvalwater" enige vloeibare afval, hetsy dit ’n stof in oplossing of suspensie bevat, en sluit dit in huishoudelike vloeibare afval en nywerheidsuitvloeisel, maar sluit nie stormwater in nie;"afvalwaterstelsel" die strukture, riole, pype, kleppe, pompe, meters of ander toebehore onder die beheer van die raad, wat gebruik kan word vir die afvoer of wegdoening van afvalwater;"eienaar" met betrekking tot eiendom of ’n perseel, die persoon in wie se naam die eiendom of perseel regtens berus en sluit dit ’n okkupeerder in;"eiendom" of "perseel" enige stuk grond, met of sonder verbeterings daarop;"industriële uitvloeisel" enige vloeistof, hetsy dit enige stof in oplossing of in suspensie bevat, aldan nie, wat afgegee word gedurende of as gevolg van enige nywerheidsbesigheid, vervaardiging, myn- of chemiese proses of enige laboratorium, navorsing, diens of landbou aktiwiteit, en sluit dit in enige stof wat afkomstig is vanaf ’n afvalmaler;"ingenieur" die persoon wat deur die munisipaliteit aangestel is om as ingenieur op te tree vir die doeleindes van die administrasie van hierdie verordening;"munisipale riool" enige pyp of leiding waarin afvalwater loop en waarvan eienaarskap by die munisipaliteit berus;"munisipaliteit" die munisipaliteit van Kaap Agulhas;"okkupeerder" enige persoon wat werlik eiendom okkupeer, die beheer of bestuur daarvan onderneem, ongeag die titel waaronder hy of sy dit okkupeer;"privaatrioolinstallasie" enige pyp of leiding met gepaardgaande toebehore wat op enige eiendom of perseel geleë is en waarvan die eienaarskap in die eienaar daarvan berus en wat gebruik word of bedoel is vir die afleiding van afvalwater vanaf so ’n perseel na die munisipale riool;"raad" die raad van die munisipaliteit;"stormwater" die water wat afkomstig is van natuurlike reenval of die versameling daarvan en sluit dit in reenwater, grondwater of fonteinwater; en"Tariefbeleidverordening" die tariefbeleidverordening wat deur die munisipaliteit aangeneem is en gepubliseer is in die Provinsiale Koerant.

Hoofstuk 1
Algemeen

2. Pligte van eienaars

(1)Elke eienaar van eiendom moet by ontvangs van ’n skriftelike kennisgewing van die ingenieur en op eie koste—
(a)’n privaatrioolinstallasie op sy of haar eiendom oprig;
(b)’n privaatrioolinstallasie, hetsy direk of indirek soos vereis deur die ingenieur, aan die munisipale riool koppel;
(c)die kapasiteit van ’n privaatrioolinstallasie vergroot om te voldoen aan die vereistes van ’n verhoogde vloei, of
(d)’n privaatrioolinstallasie herbou ten einde aan die vereistes van die ingenieur te voldoen.
(2)Geen eienaar van eiendom mag—
(a)die invloei van grondwater in ’n privaatrioolinstallasie op sy of haar perseel toelaat nie;
(b)die sypeling van afvalwater uit ’n privaatrioolinstallasie op sy of haar perseel toelaat nie, of
(c)behalwe met die skriftelike toestemming van die ingenieur, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die ingenieur mag bepaal, die invloei van stormwater in ’n privaatrioolinstallasie op sy of haar perseel toelaat nie.
(3)Elke eienaar van eiendom moet voldoende maatreels tref om die invloei van grondwater, stormwater en die sypeling van afvalwater te verhoed.
(4)
(a)Elke eienaar van eiendom moet op eie koste ’n privaatrioolinstallasie op sy of haar perseel, tot die bevrediging van die ingenieur onderhou en in goeie toestand hou.
(b)Waar die eiendomme van meer as een eienaar deur ’n enkele privaatrioolinstallasie bedien word, is sulke eienaars gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik om dit te onderhou en te herstel.

3. Beskerming van munisipale riole

(1)Niemand mag, behalwe met die skriftelike toestemming van die ingenieur, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die ingenieur mag stel—
(a)’n gebou, struktuur of enigiets anders, oor of in so ’n posisie of op so ’n manier bou, oprig of lê dat dit die werking van’n munisipale riool kan belemmer of dit in gevaar stel nie;
(b)die grond daaroor, langs, onder of naby ’n munisipale riool uitgrawe, oopmaak of verwyder nie;
(c)enigiets doen wat ’n munisipale riool kan beskadig, in gevaar stel of vernietig, of wat dit moontlik kan beskadig, in gevaar stel of kan vernietig nie;
(d)enige opening in ’n munisipale riool maak, of afvalwater daaruit lei, wegkeer of veroorsaak dat dit daaruit gelei of weggekeer word nie;
(e)die volgende in ’n munisipale riool loslaat, toelaat dat dit toegang daarin vind of daarin plaas nie—
(i)stormwater;
(ii)enige gas of stoom;
(iii)enige vloeistof wat nie huishoudelike afvalwater is nie, met ’n temperatuur van meer as 40 grade C;
(iv)petrol, olie, ghries, wasse, vet, insekdoders of verf;
(v)enige vullis of afval afkomstig uit enige industriële, besigheids-, vervaardigings- of chemiese proses;
(vi)enige vloeistof met ’n pH waarde van minder as vyf komma vyf of groter as twaalf;
(vii)enige stof wat ontplofbare, giftige of brandbare gasse of dampe afgee, of dit moontlik kan afgee;
(viii)enige ontvlambare stof;
(ix)enige stof wat vlugtige en ontvlambare oplossings bevat of oplossings wat nie in water oplosbaar is nie;
(x)enige stof wat, na die mening van die ingenieur, op sigself, of in kombinasie met enige ander stowwe:—
(aa)’n oorlas vir enige persoon kan veroorsaak;
(bb)enige persoon se gesondheid in gevaar kan stel of beseer;
(cc)die vrye vloei van afvalwater belemmer;
(dd)’n nadelige effek het op enige riool of suiweringswerke, of grond wat in verband staan met enige riool of met die vervoer, behandeling, suiwering, wegdoening of hergebruik van afvalwater, of
(ee)op enige manier die wegdoening of hergebruik van afvalwater se uitvloeisel na behandeling of suiwering benadeel, of aanleiding gee tot ’n uitvloeisel wat nie voldoen aan die vereistes wat ingevolge toepaslike wetgewing daarvoor gestel is nie;
(f)enige stof anders as industiële uitvloeisel in ’n aparte private rioolstelsel wat vir die doel voorsien is, loslaat nie, en
(g)in gevalle waar ’n aparte private rioolstelsel vir nywerheidsuitvloeisel voorsien is, industiële uitvloeisel in enige ander riool laat uitloop nie.
(2)Die ingenieur kan opdrag gee dat die verantwoordelike persoon of persone—
(a)enige gebou, struktuur of ander ding wat teenstrydig met die bepalings van hierdie artikel opgerig, gebou of gelê is, sloop, verander of andersins daarmee handel;
(b)enige grond wat teenstrydig met die bepalings van hierdie artikel uitgegrawe of verwyder is, opvul of terugplaas;
(c)enige skade wat teenstrydig met die bepalings van hierdie artikel aangerig is, of wat die gevolg van ’n oortreding van hierdie artikel is, herstel en goedmaak;
(d)enigiets wat teenstrydig met die bepalings van hierdie artikel in ’n munisipale riool losgelaat, of toegelaat is om toegang daartoe te vind, verwyder, en
(e)om enigiets wat ’n munisipale riool beskadig, belemmer of in gevaar stel, of moontlik kan beskadig, belemmer of in gevaar stel, verwyder.
(3)Indien ’n persoon nalaat om op ’n opdrag, wat ingevolge subartikel (2) uitgereik is, te reageer, kan die ingenieur sodanige maatreels tref as wat hy of sy nodig mag ag om die aangeleentheid op koste van die verantwoordelike persoon reg te stel.
(4)Die ingenieur kan, op koste van die eienaar, ’n privaatrioolinstallasie wat, na die mening van die ingenieur, op enige manier die afvalwaterstelsel in gevaar stel of nadelig affekteer of wat die afvalwaterstelsel of gedeelte daarvan nadelig affekteer, of grond wat in verband staan met enige riool of die afvoer, behandeling,nsuiwering, wegdoening of hergebruik van afvalwater, afsluit van die munisipale rioolstelsel en van so ’n eienaar vereis—
(a)om sodanige reelings te tref as wat nodig is vir die veilige wegdoening van afvalwater op die perseel van die eienaar, of om dit af te voer na ’n installasie waar dit behandel kan word of ’n geskikte plek wat deur die ingenieur goedgekeur is, en
(b)skoon te maak, te herstel, te vervang, te herposisioneer of andersins aan sodanige vereistes as wat die ingenieur mag bepaal, te voldoen.

4. Skoonmaak van verstopte privaatriole

(1)Die ingenieur kan, op koste van die eienaar, reelings tref vir die verwydering van verstoppings in privaatrioolinstallasies.
(2)Waar twee of meer eiendomme aan ’n privaatrioolinstallasie gekoppel is, word die koste vir die verwydering van ’n verstopping verdeel tussen die eienaars wie se persele deur so ’n privaatrioolinstallasie bedien word, tensy die verstopping in ’n gedeelte van die privaatrioolinstallasie voorgekom het wat net deur een eienaar gebruik word, in welke geval die koste vir die verwydering van die verstopping deur daardie eienaar gedra moet word.
(3)Geen koste sal van die eienaar verhaal word as die ingenieur vasgestel het dat die privaatrioolinstallasie verstop geraak het as gevolg van ’n defek of ’n verstopping in die munsipale riool nie.

Hoofstuk 2
Aansluiting by Afvalwaterstelsel

5. Goedkeuring van aansluitings

(1)’n Eienaar van eiendom wat verlang om die privaatrioolinstallasie op sy of haar eiendom by die munisipale riool aan te sluit, moet die ingenieur se vooraf toestemming daartoe verkry en niemand mag so ’n aansluiting sonder die ingenieur se toestemming maak of poog om dit te maak nie.
(2)Aansoek ingevolge subartikel (1) moet gedoen word op die vorm wat deur die ingenieur voorsien word en moet vergesel wees van die toepaslike gelde, soos bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening.

6. Aansluitings word slegs deur die munisipaliteit gemaak

(1)Niemand anders as die ingenieur mag ’n privaatrioolinstallasie by die munisipale riool aansluit nie.
(2)Nieteenstaande die bepalings van subartikel (1), kan die ingenieur, onderworpe aan enige voorwaardes wat die ingenieur mag bepaal, toestemming verleen dat ’n gekwalifiseerde loodgieter ’n privaatrioolinstallasie by die munisipale riool aansluit.

7. Aansluitingspunt

Die ingenieur kan die plek waar ’n privaatrioolinstallasie by die munisipale riool aangesluit moet word, voorskryf.

8. Enkelaansluiting

(1)Ongeag die getal wooneenhede, besigheidseenhede of getal gebruikers op ’n perseel, mag net een aansluiting by die munisipale riool ten opsigte van enige perseel gemaak word.
(2)Ongeag die bepalings van subartikel (1), kan die ingenieur, indien die ingenieur van mening is dat oormatige ontbering aan enige eienaar daardeur veroorsaak sal word, toestemming verleen dat meer as een aansluiting gemaak word.
(3)Waar meer as een aansluiting deur die ingenieur ingevolge die bepalings van subartikel (2) toegestaan word, sal die werklike koste van so ’n aansluiting wat aangegaan is op die dag wat die aansluiting plaasgevind het, betaalbaar wees.

Hoofstuk 3
Nywerheidsuitvloeisel

9. Toestemming om nywerheidsuitvloeisel af te voer

(1)Niemand mag, behalwe met die toestemming van die ingenieur, en dan slegs in ooreenstemming met die voorwaardes wat die ingenieur mag stel—
(a)nywerheidsuitvloeisel direk of indirek in enige afvalwaterselsel afvoer of toelaat dat dit afgevoer word nie;
(b)die aard, inhoud of samestelling van enige nywerheidsuitvloeisel teenstrydig met ’n goedkeuring wat deur die ingenieur toegestaan is, verhoog, toelaat dat dit verhoog word, verander, of toelaat dat dit verander word nie;
(c)enige ander voorwaarde wat deur die ingenieur gestel is toe toestemming vir die afvoer van nywerheidsuitvloeisel verleen is, oortree of toelaat dat dit oortree word nie.
(2)Die ingenieur kan, indien daar geldige redes daarvoor bestaan, enige toestemming wat toegestaan is, intrek of die voorwaardes waaronder afvalwater afgevoer mag word, wysig.

10. Alternatiewe metode van wegdoening met nywerheidsuitvloeisel

(1)Waar geen munisipale riool vir die afvoer van afvalwater beskikbaar is nie, mag niemand met nywerheidsuitvloeisel wegdoen nie—
(a)tensy die ingenieur die metode van vervoer goedgekeur het en sulke voorwaardes as wat die ingenieur mag bepaal, gestel het, en
(b)met enige vorm van vervoer, tensy skriftelike bewys van ontvangs telkens gelewer word deur die persoon in beheer van ’n instansie wat deur die ingenieur goedgekeur is vir die ontvangs van afvalwater; die persoon wat die afvalwater geskep het moet sodanige bewys vir ten minste een jaar na die datum van so ’n wegdoening behou en vir inspeksie beskikbaar stel.
(2)Niemand wat nywerheidsuitvloeisel op ’n ander manier vervoer as om dit in die riool af te voer nie, mag—
(a)met sulke nywerheidsuitvloeisel wegdoen by of op enige plek anders as ’n instansie wat deur die ingenieur goedgekeur is nie, of
(b)toelaat dat sulke nywerheidsuitvloeisel uit enige houer stort, uitlek of sypel nie.

11. Gelde ten opsigte van nywerheidsuitvloeisel

’n Eienaar van eiendom aan wie toestemming verleen is om nywerheidsuitvloeisel in die munisipale riool af te voer, of toe te laat dat dit daarin afgevoer word, betaal aan die munisipaliteit die gelde wat vasgestel word ingevolge die bepalings van die Tariefbeleidverordening.

Hoofstuk 3
Regsaangeleenthede

12. Delegasie

Die ingenieur kan enige magte of pligte wat ingevolge hierdie verordening aan die ingenieur opgedra is, aan ’n werknemer van die munisipaliteit delegeer.

13. Strafbepaling

Enige persoon wat—
(a)enige bepaling van hierdie verordening oortree of nalaat om aan enige voorwaarde daarvolgens gestel, te voldoen;
(b)enige raadslid, beampte of amptenaar van die munisipaliteit dreig, weerstaan of belemmer in die uitoefening of uitvoering ter nakoming van sy of haar pligte en funksies ingevolge die bepalings van hierdie verordening, of
(c)doelbewus valse of misleidende inligting aan ’n raadslid, beampte of amptenaar van die munisipaliteit verstrek,
is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete.
▲ To the top