Waterverordening


Cape Agulhas
South Africa

Waterverordening, 2005

Deel 1 – Woordbepaling en Toepassing

1. Woordbepaling

In hierdie verordening tensy strydig met die sinsverband beteken—"bewoner" ’n persoon wat enige perseel of gedeelte daarvan bewoon;"boorgat" ’n gat wat in die grond gesink is met die doel om water op te spoor, te onttrek of om onderaardse water te gebruik en omvat dit ook ’n fontein;"brandinstallasie" ’n waterinstallasie wat water vervoer vir die uitsluitlike doel van brandbestryding;"eienaar" ’n eienaar van ’n perseel;"handelsdoeleindes" in verband met watervoorsiening, die voorsiening van water aan persele wat gebruik word in die navolging van ’n bedryf of besigheid;"hoofwaterpyp" ’n pyp, ander dan ’n verbindingspyp, waarvan die eiendomsreg by die munisipaliteit berus en wat deur die raad gebruik word met die doel om water na ’n aantal verbruikers te vervoer;"huishoudelike doeleindes" in verband met watervoorsiening, die algemene gebruik van water voorsien vir persoonlike en huishouidelike gebruik, ingesluit gesondheid en higiëne, drink, reiniging, kook, huishoudelike en tuinonderhoud;"ingenieur" ’n werknemer van die munisipaliteit wat aan die hoof staan van die departement wat vir waterdienste verantwoordelik is;"installasiewerk" werk in verband met die konstruksie van of aangegaan ten opsigte van ’n waterinstallasie;"meter" ’n toestel om die hoeveelheid water wat daardeur vloei te meet;"munisipale bestuurder" die persoon wat deur die Raad as Munisipale Bestuurder ingevolge die bepalings van die Wet op Plaaslike Bestuur: Munisipale Stelsels, 1998, aangestel is;"munisipaliteit" die Munisipaliteit van Kaap Agulhas;"NBR" die Nasionale Bouregulasies uitgevaardig ingevolge die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde, 1977 (Wet 103 of 1977);"noodtoestand" enige omstandigheid wat ’n risiko of potensiële risiko inhou vir lewe, gesondheid, die omgewing of eiendom of wat ingevolge ander wetgewing tot ’n noodtoestand verklaar is;"nywerheidsdoeleindes" in verband met watervoorsiening, die voorsiening van water aan enige fabrieksperseel; of die gebruik van water vir doeleindes van mynbou, vervaardiging, opwekking van elektrisiteit, landelike vervoer, konstruksie of enige soortgelyke doel;"perseel" enige stuk grond met of sonder verbeteringe;"persoon" enige natuurlike of regspersoon, ’n oningelyfde liggaam en omvat dit ’n vrywillige vereniging of trust;"raad" die munisipale raad van die munisipaliteit;"staatsorgaan" ’n staatsorgaan soos gedefinieer in artikel 239 van die Grondwet, Wet 107 van 1996"Tariefbeleidverordening", die Tariefbeleidverordening wat deur die raad aanvaar en in Provinsiale koerant afgekondig is;"verbindingspyp" ’n pyp, waarvan die eiendomsreg by die munisipaliteit berus en wat deur die raad installeer is met die doel om water vanaf ’n hoofwaterpyp na ’n waterinstallasie te vervoer;"verbruiker" die bewoner van enige perseel met wie die munisipaliteit ’n ooreenkoms aangegaan het vir die voorsiening van water of die eienaar daarvan of enige persoon wie met die munisipaliteit ’n ooreenkoms aangegaan het vir die voorsiening van water aan sodanige persoon of enige persoon wat op enige ander wyse wettig water van die munisipaliteit verkry;"waterinstallasie" die pype en watertoebehore geleë op enige perseel, waarvan die eiendomsreg by die eienaar daarvan berus, wat gebruik word of bestem is om gebruik te word vir water op sodanige perseel en omvat dit ’n pyp en watertoebehore geleë buite die grens van die perseel, wat òf aansluit by ’n verbindingspyp ten opsigte van sodanige perseel òf wat met die toestemming van die raad gelê is;"watertoebehore" ’n komponent van ’n waterinstallasie uitgesluit ’n pyp waardeur water vloei of waarin water gestoor word;"watervoorsieningstelsel" die strukture, waterleidings, pype, kleppe, pompe, meters en ander toerusting wat daarmee verband hou, waarvan die eiendomsreg by die munisipaliteit berus en wat gebruik word by die voorsiening van water.

2. Toepassing van hierdie verordening

(1)Hierdie verordening is ook van toepassing op ’n staatsorgaan.
(2)Hierdie verordening is slegs van toepassing in daardie gebiede waar die munisipaliteit water voorsien.
(3)Water word voorsien kragtens die bepalings van hierdie verordening, maar waar die raad van mening is dat dit nie redelik moontlik of koste effektief is om aan elke verbruiker in ’n besondere gebied water te voorsien op die wyse wat die verordening beoog nie, kan die raad in oorleg met die amptenaar in beheer van gesondheidsdienste ’n alternatiewe wyse van watervoorsiening bepaal.
(4)Waar die raad ingevolge subartikel (3) ’n alternatiewe wyse van watervoorsiening bepaal het, sal hierdie verordening, in die mate nodig om water aan sodanige gebied te voorsien en onderworpe aan sodanige voorwaardes as wat die raad mag bepaal, geld.
(5)Indien die munisipaliteit sou besluit om water deur middel van ’n diensleweringsooreenkoms met ’n eksterne diensverskaffer, soos bedoel in Hoofstuk 8 van die Stelselswet, te voorsien, moet die magte en pligte van die munisipaliteit, die raad, die munisipale bestuurder en ingenieur soos bepaal in hierdie verordening, uitgelê word as ’n verwysing na sodanige eksterne diensverskaffer; met dien verstande dat die eiendomsreg van die watervoorsieningstelsel steeds by die raad sal berus; en met dien verstande voorts dat die eksterne diensverskaffer nie by magte sal wees om waterbeperkings in te stel nie.

Deel 2 – Algemene Voorsieningsvoorwaardes

3. Aansoek om voorsiening

(1)Geen water van die watervoorsieningstelsel word aan enige perseel voorsien nie tensy die eienaar of bewoner by die munisipale bestuurder aansoek gedoen het vir ’n voorsiening en sodanige aansoek goedgekeur is..
(2)’n Aansoek om watervoorsiening wat deur die munisipale bestuurder goedgekeur is vorm ’n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die eienaar of bewoner en neem ’n aanvang op die datum gemeld in die aansoek.
(3)Die eienaar of bewoner is aanspreeklik vir alle gelde in verband met die voorsiening van water, soos bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening, totdat die ooreenkoms beëindig is ingevolge hierdie verordening en word vir alle doeleindes, gedurende die bestaan van die ooreenkoms, geag die verbruiker te wees.
(4)Die munisipale bestuurder kan vereis dat enige ander persoon homself of haarself gesamentlik en afsonderlik met die verbruiker bind vir die betaling van enige gelde betaalbaar ingevolge hierdie verordening.
(5)’n Aansoek moet ten minste die volgende inligting bevat—
(a)’n verklaring dat die aansoeker bewus is van en vertroud is met die inhoud van die ooreenkoms;
(b)aanvaarding deur die aansoeker van die bepalings van hierdie verordening en aanvaarding van aanspreeklikheid vir die koste vir watervoorsiening totdat die ooreenkoms beëindig is;
(c)die naam van die voorgenome verbruiker en sy of haar identiteitsnommer;
(d)die adres of erfnommer van die perseel ten opsigte waarvan water voorsien moet word;
(e)die adres waarheen rekeninge gestuur moet word;
(f)die doel waarvoor die water gebruik gaan word;
(g)die ooreengekome datum waarop watervoorsiening sal begin.
(6)Water word aan ’n verbruiker voorsien kragtens die bepalings van hierdie verordening en die voorwaardes wat die munisipale bestuurder mag stel.

4. Gelde

Alle gelde betaalbaar vir watervoorsiening deur die munisipaliteit moet in ooreenstemming met die Tariefbeleidverordening wees.

5. Deposito

Elke verbruiker moet, by aansoek om watervoorsiening en alvorens water deur die munisipaliteit voorsien sal word, ’n bedrag geld ingevolge die Tariefbeleidverordening bepaal as deposito deponeer.

6. Beëindiging van ooreenkomste

(1)’n Verbruiker mag ’n ooreenkoms vir watervoorsiening beëindig deur die munisipaliteit minstens dertig dae vooraf skriftelik kennis te gee van die voorneme om dit te doen.
(2)Die munisipale bestuurder kan, deur minstens veertien dae vooraf skriftelik kennis te gee, ’n verbruiker inlig oor die beëindiging van sy of haar ooreenkoms vir watervoorsiening indien—
(a)hy of sy geen water gedurende die voorafgaande ses maande gebruik het nie en nie reëlings tot bevrediging van die munisipale bestuurder getref het vir die voortsetting van die ooreenkoms nie; of
(b)hy of sy versuim het om die bepalings van hierdie verordening na te kom en, na uitreiking van ’n kennisgewing, in gebreke bly om sodanige versuim reg te stel; of
(c)hy of sy versuim het om enige gelde wat ingevolge die Tariefbeleidverordening verskuldig en betaalbaar is, te betaal.
(3)Die munisipale bestuurder mag ’n ooreenkoms vir watervoorsiening opsê indien ’n verbruiker die perseel waarop die ooreenkoms betrekking het, ontruim het.

7. Beperking of afsny van toevoer

(1)Die munisipale bestuurder mag die toevoer van water na enige perseel beperk of afsny—
(a)by versuim van die verbruiker om op die bepaalde datum die gelde verskuldig, ingevolge die Tariefbeleidverordening, te betaal; of
(b)op skriftelike versoek van die verbruiker; of
(c)indien die ooreenkoms vir watervoorsiening ingevolge artikel 6 beëindig is en geen aansoek vir ’n verdere toevoer van water aan die perseel binne ’n tydperk van negentig dae na sodanige beëindiging ontvang is nie.
(d)indien die verbeteringe op die perseel waaraan water voorsien is, gesloop is;
(e)indien die verbruiker opsetlik of nalatiglik enige hoofwaterpyp, verbindingspyp, meter of ander toerusting van die munisipaliteit wat gebruik word of bestem is vir gebruik by die voorsiening van water, beskadig het, of veroorsaak of toegelaat het dat dit beskadig word;
(f)indien die verbruiker met enige toerusting van die munisipaliteit, wat gebruik word of bestem is vir gebruik by die voorsiening van water, gepeuter of ingemeng het of veroorsaak of toegelaat het dat daarmee gepeuter of ingemeng word;
(g)indien die verbruiker op enige wyse onregmatig ingemeng het in die voorsiening van water;
(h)by misbruik van die watertoevoer deur die verbruiker;
(i)tydens ’n noodtoestand;
Met dien verstande dat, in die omstandighede gemeld in paragrawe (c), (e), (f), (g) en (h), nie minder nie as sewe dae kennis dat die watertoevoer beperk of afgesny gaan word, aan die verbruiker gegee moet word.
(2)Die munisipaliteit is nie aanspreeklik vir enige skade of eise wat mag ontstaan as gevolg van die opskorting van die watertoevoer ingevolge subartikel (1) nie.

8. Herstel van toevoer

Die munisipale bestuurder mag die watertoevoer na ’n perseel wat ingekort was herstel slegs na betaling van die gelde betaalbaar vir die inkorting en herstel van toevoer.

9. Doel van toevoer

Indien die doel of omvang waarvoor die watertoevoer gebruik word verander, moet die verbruiker die munisipale bestuurder aldus inlig en ’n nuwe ooreenkoms met die munisipaliteit aangaan, met ingang van die datum waarop die veranderde gebruik plaasgevind het of sal plaasvind.

10. Inmenging in die watervoorsieningstelsel

(1)Niemand mag, tensy skriftelik deur die ingenieur gemagtig—
(a)bedryfs- of onderhoudswerk aan enige deel van die watervoorsieningstelsel doen nie; of
(b)’n aansluiting by die watervoorsieningstelsel maak nie.
(2)Niemand mag met enige deel van die watervoorsieningstelsel inmeng, of dit opsetlik of nalatiglik beskadig, of toelaat dat dit beskadig word of daarmee ingemeng word nie.

11. Toegang tot die watervoorsieningstelsel

Niemand mag enige werknemer van die munisipaliteit verhinder om toegang tot die watervoorsieningstelsel te kry of sy of haar toegang daartoe belemmer nie.

12. Meet van drukking in watervoorsieningstelsel

Die ingenieur mag, op versoek van die eienaar en na betaling van die toepaslike gelde, die omvang van die drukking in die watervoorsieningstelsel, wat op sy of haar perseel betrekking het, vir sodanige tydperk wat die eienaar vereis, meet en aan die eienaar verstrek.

13. Geen onderneming of waarborg deur die raad

Die munisipaliteit onderneem nie om te enige tyd of te enige punt in die watervoorsieningstelsel
(a)’n ononderbroke toevoer;
(b)’n spesifieke drukking of vloeitempo in die toevoer; of
(c)’n spesifieke standaardgehalte van water,
te voorsien nie, met dien verstande dat as die watertoevoer vir langer as 24 uur onderbreek word, die ingenieur ’n alternatiewe watertoevoer moet verskaf om basiese behoeftes te bevredig.

14. Onderbreking tydens ’n noodtoestand

Die ingenieur mag, tydens ’n noodtoestand en sonder vooraf kennisgewing, die watertoevoer na enige perseel onderbreek.

15. Beperkings op verbruiker vir algemene voordeel

Indien, na die oordeel van die raad, die verbruik van water deur ’n verbruiker die voorsiening van water aan enige ander verbruiker nadelig raak, mag die raad sodanige beperkings op die watertoevoer na eersgenoemde verbruiker instel as wat wenslik mag wees, om ’n redelike watertoevoer aan die ander verbruiker of verbruikers te verseker en moet die raad eersgenoemde verbruiker oor sodanige beperkings inlig.

16. Watertenk vir volgehoue toevoer

Elke stoomketel en elke perseel, wat ’n volgehoue watertoevoer vir die werksaamhede op die perseel benodig, moet voorsien word van ’n watertenk in werkende toestand wat ten minste ’n halwe dag se waterverbruik kan stoor, bereken volgens die gemiddelde daaglikse verbruik van sodanige stoomketel of perseel.

17. Herverkoop van water

Geen verbruiker mag water wat die munisipaliteit aan hom of haar voorsien herverkoop nie, behalwe met die skriftelike goedkeuring van die raad, wat die maksimum prys waarteen water herverkoop mag word kan bepaal en ook sodanige ander voorwaardes kan stel wat dit goed ag.

Deel 3 – Aansluiting by die Watervoorsieningstelsel

18. Voorsiening van verbindingspyp

(1)Indien ’n ooreenkoms vir watervoorsiening aangegaan is, maar daar geen verbindingspyp vir die perseel is nie, moet die verbruiker aansoek doen vir die installering van ’n verbindingspyp en die gelde betaal wat ingevolge die Tariefbeleidverordening bepaal is.
(2)Die ingenieur moet nadat die gelde vir die installering van ’n verbindingspyp betaal is,’n verbindingspyp vir die perseel installeer.
(3)Indien dit nodig sou wees om die watervoorsieningstelsel uit te brei, aan te pas of te verbeter sodat water aan ’n perseel voorsien kan word, moet die ingenieur sodanige uitbreidings, aanpassings of verbeterings doen as die eienaar onderneem om die koste daarvoor te betaal wat ingevolge die Tariefbeleidverordening bepaal is.

19. Plasing van verbindingspype

(1)’n Verbindingspyp moet—
(a)gelê word op die plek wat die ingenieur, na oorleg met die verbruiker, bepaal en die grootte daarvan word ook deur die ingenieur bepaal;
(b)gelê word tot by—
(i)die grens tussen grond waarvan die eiendomsreg by die raad berus of ten opsigte waarvan die munisipaliteit ’n servituut of ander reg het, en die aanliggende privaatgrond wat nie deur enige servituut of ander reg beswaar is nie; of
(ii)die uitlaat van die watermeter gekoppel aan die waterinstallasie wat by die hoofwaterpyp aangesluit moet word, indien die watermeter op die perseel is.
(2)Die ingenieur mag, onderworpe aan sodanige voorwaardes wat hy of sy bepaal, toestem tot die aansluiting by ’n hoofwaterpyp, elders as wat geredelik beskikbaar is vir die voorsiening van water aan die perseel; met dien verstande dat die verbruiker verantwoordelik is vir enige uitbreiding van die waterinstallasie tot by aansluitingspunt wat die ingenieur aangedui en goedgekeur het en dat die verbruiker op sy of haar koste sodanige servitute oor ander eiendom wat nodig mag wees, moet bekom.

20. Enkelaansluiting vir toevoer na verskeie verbruikers op dieselfde perseel

(1)Afgesien van die getal wooneenhede, sake-eenhede of verbruikers teenwoordig op enige perseel, mag slegs een verbindingspyp aan ’n perseel voorsien word.
(2)Wanneer die verbruiker of die persoon in beheer van die bestuur van enige perseel waarop daar ’n aantal wooneenhede en/of sake-eenhede of verbruikers teenwoordig is, ’n watertoevoer na die perseel verlang sodat elke eenheid of verbruiker ’n afsonderlike watertoevoer kan kry, kan die ingenieur na sy of haar oordeel—
(a)’n enkel meter vir die perseel as ’n geheel of enige getal sodanige eenhede of verbruikers, of
(b)’n afsonderlike meter vir elke sodanige eenheid of verbruiker of enige getal eenhede of verbruikers,
voorsien en installeer.
(3)Indien die ingenieur ’n enkel meter aangebring het, soos bedoel in subartikel (2)(a), is die verbruiker of die persoon in beheer of bestuur van die perseel, na gelang van die geval—
(a)verplig om, indien die ingenieur dit vereis, aan elke pypvertakking van die verbindingspyp na elke eenheid of verbruiker
(i)’n afsonderlike meter; en
(ii)’n afsluitklep
aan te bring en te onderhou, en
(b)teenoor die munisipaliteit aanspreeklik vir betaling van die gelde vir water, bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening en voorsien aan die perseel deur middel van sodanige enkel meter, ongeag die onderskeie hoeveelhede water wat die verskillende verbruikers, wat deur sodanige meter bedien word, verbruik het.
(4)Ondanks die bepalings van subartikel (1) mag die raad meer as een verbindingspyp in ’n watervoorsieningstelsel vir die voorsiening van water aan enige perseel waarop deeltiteleenhede is toelaat, of, indien na die mening van die raad enige verbruiker oormatige ontbering of ongerief sal ly as daar slegs een verbindingspyp is.
(5)Die gelde vir die voorsiening van ’n verbindingspyp, bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening, is betaalbaar ten opsigte van elke wateraansluiting as gevolg van die die raad se goedkeuring ingevolge subartikel (4) vir meer as een verbindingspyp.
(6)Waar ’n perseel deur ’n aantal verbindingspype met water voorsien word, kan die raad vereis dat die verbruiker op sy of haar koste die getal aansluitings verminder en sy of haar waterinstallasie dienooreenkomstig aanpas.

21. Aansluitings tussen persele of waterinstallasies

’n Verbruiker moet verseker dat daar geen aansluitings is nie tussen—
(a)die waterinstallasie op sy of haar perseel en die waterinstallasie op enige ander perseel; of
(b)die waterinstallasies van woon- en sake eenhede, waar verskeie sodanige eenhede op dieselfde perseel is;
tensy hy of sy vooraf skriftelik goedkeuring van die ingenieur gekry het en voldoen aan alle vereistes wat gestel is.

22. Afsluit van verbindingspyp van waterinstallasie

Die ingenieur kan ’n waterinstallasie by die verbindingspyp afsluit en die verbindingspyp verwyder indien—
(a)die ooreenkoms vir watervoorsiening ingevolge artikel 6 beëindig is en hy of sy geen aansoek vir ’n verdere watertoevoer aan die perseel, wat deur die pyp bedien word, binne ’n tydperk van 90 dae na sodanige beëindiging, ontvang het nie; of
(b)die gebou op die betrokke perseel gesloop is of in die proses is om gesloop te word nadat toestemming vir sodanige sloping ingevolge die reg verleen is.

23. Aansluitings slegs deur raad

Niemand behalwe die ingenieur mag ’n waterinstallasie by ’n hoofwaterpyp aansluit nie; met dien verstande dat ’n verbruiker ’n waterinstallasie by ’n verbindingspyp mag aansluit of, in die geval van ’n meter wat op ’n perseel aangebring is, by die uitlaatpyp van sodanige meter.

24. Hoogte van toevoer

Die ingenieur kan bepaal op watter maksimumhoogte bo grondvlak of seespieël, water vanuit die watervoorsieningstelsel voorsien sal word.

25. Pype oor strate of openbare plekke

Niemand mag sonder die vooraf goedkeuring van die ingenieur en onderworpe aan sodanige voorwaardes wat hy of sy bepaal, ’n pyp of soortgelyke komponent op, in of onder ’n straat of openbare plek of enige grond wat by die munisipalitieit berus of onder die munisipaliteit se beheer staan, aanlê of bou met die doel om water afkomstig van welke bron ookal af te voer nie.

Deel 4 – Tydelike Toevoer

26. Watervoorsiening vanuit ’n brandkraan

(1)Die ingenieur kan onderworpe aan sodanige voorwaardes en vir sodanige tydperk wat hy of sy in die algemeen mag voorskryf of spesifiek bepaal, ’n tydelike watertoevoer vanuit een of meer brandkrane, wat hy of sy identifiseer, toelaat.
(2)Behalwe in ’n noodgeval moet ’n persoon wat ’n tydelike watertoevoer ingevolge subartikel (1) verlang, daarom aansoek doen.
(3)Die ingenieur moet, vir die doel om water vanuit ’n brandkraan te voorsien, ’n draagbare watermeter voorsien en dit moet by beëindiging van die tydelike toevoer aan die ingenieur terugbesorg word. Die draagbare meter en alle toebehore en apparaat wat gebruik is in verband met die aansluiting van die meter by die brandkraan bly die eiendom van die munisipaliteit.

Deel 5 – Meting Van Watertoevoer

27. Verskaffing van meters

(1)Die munisipaliteit verskaf alle meters benodig vir die meet van die hoeveelheid water wat dit voorsien.
(2)Die ingenieur bepaal die grootte van die meter wat op enige perseel aangebring word.
(3)Indien die grootte van ’n meter na die oordeel van die ingenieur onvoldoende is vir die hoeveelheid water wat aan ’n perseel voorsien moet word, kan die ingenieur ’n meter wat na sy of haar oordeel van voldoende grootte is, aanbring en die gelde vir die installasie of die meter wat vervang is van die eienaar van die betrokke perseel verhaal.
(4)Die ingenieur kan te enige tyd en op koste van die munisipaliteit enige meter ontkoppel en verwyder en kan na goeddunke enige meter in die plek daarvan aanbring.

28. Aanbring en posisie van meters

(1)Die ingenieur moet ’n meter aan elke verbindingspyp aanbring.
(2)Die ingenieur kan vereis dat ’n verbruiker binne die perseel ’n geskikte en veilige plek verskaf waar sodanige meter aangebring kan word en kan sodanige meter in sodanige plek aanbring.
(3)Die ingenieur moet alle onderhoudswerk aan daardie gedeelte van die verbindingspyp, wat van die straatgrens van die perseel van die verbruiker tot by die meter binne sodanige perseel strek, op koste van sodanige verbruiker verrig.

29. Verskaffing en posisie van afsluitkrane

(1)Die ingenieur moet ’n afsluitkraan vir die uitsluitlike gebruik van die munisipaliteit tussen elke meter en die hoofwaterpyp aanbring.
(2)Die verbruiker moet op eie koste vir sy of haar uitsluitlike gebruik ’n afsluitkraan verskaf en dit aan die verbindingspyp aanbring—
(a)in die geval van ’n meter wat op sy of haar perseel aangebring is, op ’n geskikte plek aan sy of haar kant van sodanige meter;
(b)in die geval van ’n meter wat buite sy of haar perseel aangebring is, op ’n geskikte plek net binne die grens van sy of haar perseel:
met dien verstande dat die ingenieur na goeddunke en op koste van die verbruiker sodanige afsluitkraan kan verskaf en aldus aanbring uitsluitlik vir sodanige verbruiker se eie gebruik.

30. Koste om meters aan te bring

’n Verbruiker moet alle koste om ’n meter in sy of haar waterinstallasie aan te bring, betaal soos bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening.

31. Eiendomsreg van meters

Elke meter wat ingevolge hierdie verordening deur die ingenieur verskaf en aangebring is, asook die toebehore daarvan, is en bly die eiendom van die munisipaliteit.

32. Bewaring van meters

(1)’n Verbruiker is verantwoordelik vir die bewaring en toestand van enige meter wat op sy of haar perseel aangebring is.
(2)’n Verbruiker is teenoor die munisispaliteit aanspreeklik vir alle skade aan ’n meter wat op sy of haar perseel aangebring is.

33. Bemoeiing met of beskadiging van meters

(1)Niemand, behalwe die ingenieur mag ’n meter of enige toebehore daarvan afhaal of hom of haar daarmee bemoei nie of iemand anders dit laat doen of toelaat dat iemand anders dit doen nie.
(2)Niemand mag ’n meter of die toebehore daarvan opsetlik beskadig nie.
(3)Niemand mag enige toebehore, masjien of toestel, wat skade aan ’n meter veroorsaak of na die ingenieur se mening waarskynlik skade daaraan sal veroorsaak, op enige waterinstallasie gebruik of toelaat dat dit aldus gebruik word nie.

34. Herstel van meters

Indien herstelwerk aan ’n meter nodig is, moet die ingenieur so gou as moontlik sodanige meter herstel.

35. Onderhouds- en herstelkoste van meters

(1)Die ingenieur moet, onderhewig aan gewone slytasie, ’n meter op koste van die munisipaliteit onderhou en herstel.
(2)Indien enige herstelwerk aan ’n meter, na die mening van die ingenieur, nie te wyte is aan gewone slytasie nie, is die verbruiker aanspreeklik vir die herstelkoste daarvan sowel as die koste vir die verwyderings-, herinstallering- en indien nodig, vervangingkoste.

36. Hoeveelheid water wat aan verbruiker voorsien word

(1)Vir doeleindes van meting van die hoeveelheid water wat gedurende enige tydperk aan ’n verbruiker voorsien word, en wat met ’n meter gemeet word, word dit geag dat—
(a)die hoeveelheid aangedui word deur die verskil tussen die metings wat aan die begin en einde van sodanige tydperk geneem is;
(b)die meter tydens sodanige tydperk akkuraat was; en
(c)die inskrywings in die boeke van die munisipaliteit korrek is,
met dien verstande dat indien water voorsien word aan, of geneem word deur ’n verbruiker sonder dat dit deur ’n meter vloei, die hoeveelheid sodanige water wat die ingenieur beraam, geag word korrek te wees.
(2)Waar ’n verbruiker water, wat aan enige perseel voorsien word, op enige wyse neem sonder dat dit deur ’n meter vloei, kan die munisipale bestuurder vir die doel om ’n rekening te lewer, volgens subartikel (3) ’n beraming maak van die hoeveelheid water wat voorsien is gedurende die tydperk wat die verbruiker die water aldus geneem het.
(3)Die beraming van die hoeveelheid water wat aan ’n verbruiker moet voorsien word ingevolge subartikel (2), word baseer op die gemiddelde maandelikse waterverbruik op die perseel
(a)gedurende die drie lesingperiodes na die datum waarop die onreëlmatigheid, gemeld in subartikel (2), ontdek en herstel is; en/of
(b)gedurende die tydperk voor die datum gemeld in paragraaf (a), maar wat nie twaalf maande oorskry nie.
(4)Geen bepaling van hierdie verordening moet so uigelê word dat dit ’n verpligting op die munisipaliteit plaas om enige meter wat op ’n perseel aangebring is, aan die einde van elke maand of enige vaste tydperk te lees nie, en die munisipale bestuurder kan die hoeveelheid water wat oor enige tydperk voorsien is, gedurende die tydperk tussen opeenvolgende lesings beraam en ’n rekening aan ’n verbruiker lewer vir die beraamde hoeveelheid water.
(5)Die ingenieur moet, by ontvangs van ’n skriftelike versoek van ’n verbruiker van nie minder nie as sewe dae, en betaling van die gelde, bepaal ingevolge die Tariefbeleidverordening, die hoeveelheid water wat aan die verbruiker voorsien is, op enige tydstip of op ’n dag waarop dit nie normaalweg gemeet word nie, meet.
(6)Die verbruiker moet by ’n oortreding van artikel 33 aan die munisipaliteit die koste betaal van sodanige hoeveelheid water wat na die mening van die ingenieur aan die verbruiker voorsien was.
(7)Totdat ’n meter vir die voorsiening van water aan ’n verbruiker aangebring is, word die beraamde verbruik van die verbruiker gedurende ’n spesifieke tydperk baseer op die gemiddelde waterverbruik in die spesifieke gebied waarbinne die verbruiker se perseel geleë is.

37. Alternatiewe meting

(1)Waar volgens die mening van die raad dit nie redelikerwys moontlik of koste doeltreffend is om water te meet wat aan elke verbruiker binne ’n bepaalde gebied voorsien word nie, mag die raad ’n basiese tarief of fooi ingevolge die Tariefbeleidverordening bepaal, wat elke verbruiker binne daardie gebied, ongeag werklike verbruik, moet betaal.
(2)’n Tarief of fooi bepaal ingevolge subartikel (1), word baseer op die beraamde gemiddelde verbruik van water wat aan daardie gebied voorsien word.

38. Foutiewe meting

(1)Indien ’n verbruiker rede het om te vermoed dat ’n meter foutief is, kan hy of sy skriftelik versoek dat die meter getoets word en moet terselfdertyd ’n bedrag geld, bepaal ingevolge die tariefbeleidverordening, by die munisipaliteit deponeer.
(2)Die ingenieur moet by betaling van die voorgeskrewe deposito reël dat die meter volgens ’n SABS goedgekeurde toetsmetode getoets word.
(3)Indien die uitslag van die toets aantoon dat die meter
(a)nie foutief is nie, behou die munisipaliteit die deposito en die verbruiker sal aanspreeklik wees vir enige ander uitstaande gelde;
(b)foutief is, sal die munisipaliteit die deposito terugbetaal en die gelde vir waterverbruik gedurende die drie maande voor die betwiste lesing ooreenkomstig die graad van die fout wat vasgestel is, aansuiwer; met dien verstande dat waar die die meter minder as ses maande tevore aangebring is, die aansuiwering vir die helfte van sodanige mindere tydperk moet wees.
(4)Voorts, indien bevind word dat die meter foutief is, moet die ingenieur dit herstel of ’n ander meter wat in goeie werkende toestand is aanbring, sonder dat die verbruiker daarvoor hoef te betaal, tensy die koste daarvoor van die verbruiker verhaalbaar is vanwee ’n oortreding van artikel 33(1).
(5)’n Verbruiker mag, nadat redelike kennis van sy of haar voorneme aan die ingenieur gegee is, teenwoordig wees wanneer ’n meter, waarby hy of sy ’n belang het, getoets word.
(6)Enige meter wat deur die ingenieur vir toetsing verwyder is moet ongestoord bewaar word en beskikbaar wees vir inspeksie vir ’n tydperk van 3 maande na toetsing.

39. Meters wat nie registreer nie

(1)Indien daar bevind word dat ’n meter opgehou het om te registreer of korrek te registreer, moet die ingenieur die meter herstel of vervang en die hoeveelheid water waarvoor die verbruiker moet betaal, beraam—
(a)op die grondslag van die gemiddelde maandelikse waterverbruik ten opsigte van die perseel wat deur sodanige meter bedien word, gedurende die drie maande voor die laaste lesing;
as dit nie moontlik is nie—
(b)op die grondslag van die waterverbruik ten opsigte van sodanige perseel gedurende die ooreenstemmende maand van die vorige jaar; of
as dit ook nie moontlik is nie—
(c)op die grondslag van die gemiddelde maandelikse waterverbruik ten opsigte van die sodanige perseel, gedurende ’n tydperk van drie maande na die datum van genoemde herstel of vervanging.
(2)Die tydperk waarvoor die verbruiker die hoeveelheid water, wat ingevolge subartikel (1) bepaal is, moet betaal, strek vanaf die datum van die laaste lesing van die meter voor dit opgehou het om te registreer of om korrek te registreer, tot die datum waarop dit herstel of vervang is.

40. Geen verminderde betaling as gevolg van vermorsing

’n Verbruiker is nie geregtig op enige verminderde betaling van die gelde as gevolg van water wat vermors is of wat in ’n waterinstallasie verlore gegaan het nie.

Deel 6 – Waterinstallasies

41. Verskaffing en onderhoud van waterinstallasies

(1)’n Verbruiker moet op eie koste ’n waterinstallasie verskaf en onderhou en moet toesien dat die waterinstallasie binne die grense van sy of haar perseel installeer is, tensy andersins toegelaat ingevolge hierdie verordening,
(2)’n Eienaar wat onderhoudswerk aan ’n gedeelte van sy of haar waterinstallasie, wat buite die grens van sy of haar perseel geleë is, wil doen moet eers die skriftelike goedkeuring verkry van die ingenieur of die eienaar op wie se grond sodanige gedeelte geleë is, na gelang van die geval.

42. Aansoek vir goedkeuring van installasiewerk

(1)’n Verbruiker wat installasiewerk wil laat doen moet eers die skriftelike goedkeuring van die ingenieur verkry; met dien verstande dat goedkeuring nie nodig is in die geval van waterinstallasies in wooneenhede of installasies waar geen brandinstallasie ingevolge enige wet nodig is nie, of vir die herstel of vervanging van ’n bestaande pyp of watertoebehore, uitgesluit ’n vaste waterverwarmer en verwante beskermingsmeganismes.
(2)’n Aansoek om goedkeuring ingevolge subartikel (1) moet vergesel wees van—
(a)die gelde indien van toepassing; en
(b)afskrifte van die tekeninge soos vereis deur die ingenieur;
(c)’n sertifikaat van ’n geregistreerde ingenieur of geregistreerde loodgieter waarin bevestig word dat die installasie ooreenkomstig die toepaslike SABS kode ontwerp is of, waar voldoening aan daardie standaard onprakties of onmoontlik is, ontwerp is ooreenkomstig ’n ander wyse wat vir die ingenieur aanvaarbaar is.
(3)Die bepalings van subartikels (1) en (2) is nie van toepassing op die vervanging van ’n vaste waterverwarmer of verwante beskermingsmeganismes deur ’n geregistreerde loodgieter nie.
(4)Enige goedkeuring wat ingevolge subartikel (1) verleen is, verstryk na verloop van 24 maande na die eerste dag van die maand wat volg op die maand waarin die goedkeuring verleen is.
(5)Waar goedkeuring ingevolge subartikel (1) vereis word, moet ’n volledige stel goedgekeurde tekeninge van die installasiewerk, te alle tye en totdat die werk voltooi is, op die perseel van die werk beskikbaar wees.
(6)Indien installasiewerk in stryd met subartikel (1) en (2) gedoen is, kan die ingenieur gelas dat die eienaar
(a)binne ’n bepaalde tydperk voldoen aan enigeen of beide subartikels, na gelang van die geval;
(b)die werk staak, indien dit steeds in aanvang is; en
(c)alle sodanige werk wat in stryd met die verordening gedoen is, verwyder.
(7)’n Installasiewerk wat ingevolge subartikel (1) goedgekeur is, mag nie in gebruik geneem word nie, tensy dit geïnspekteer is en ’n goedkeuringsertifikaat deur die ingenieur uitgereik is.

43. Persone gemagtig om installasies en ander werk te doen

Geen persoon wat nie ’n gekwalifiseerde loodgieter ingevolge regulasie A 18 van die NBR is, mag enige werk aan ’n waterinstallasie doen nie.

44. Tegniese vereistes vir ’n waterinstallasie

(1)Ondanks die vereiste dat ’n sertifikaat ingevolge artikel 42(2)(c) uitgereik moet word, moet alle waterinstallasies en vaste elektriese opgaarwaterverwarmers voldoen aan die toepaslike SABS kodes.
(2)Geen persoon mag sonder die vooraf skriftelike goedkeuring van die ingenieur ’n pyp of water toebehore in ’n waterinstallasie aanbring of gebruik nie tensy—
(a)dit die toepaslike merk van die SABS dra; of
(b)dit ’n sertifiseringsmerk uitgereik deur die SABS, wat sertifiseer dat die tipe pyp of water toebehore voldoen aan ’n SABS merkspesifikasie of ’n voorlopige spesifikasie uitgereik deur die SABS, dra : met dien verstande dat geen sertifiseringsmerk wat meer as twee jaar tevore uitgereik is geldig geag sal word nie.
(3)Alle waterinstallasiepype wat onder die grond gelê word moet ’n minimum bedekking van 400 mm hê, tensy die ingenieur anders bepaal.

Deel 7 – Waterbesoedeling, Beperkings en Watervermorsing

45. Verbruiker moet waterbesoedeling verhoed

’n Verbruiker moet doeltreffende maatreëls instel en in stand hou om te verhoed dat enige stof of voorwerp wat ’n gevaar vir die gesondheid inhou, of wat die drinkbaarheid van water nadelig raak, of die water se geskiktheid vir gebruik affekteer, of wat ’n beduidende nadelige effek op die algemene gehalte van water wat aan die verbruiker voorsien word sal hê—
(a)die watervoorsieningstelsel of werke; of
(b)enige deel van die waterinstallasie op sy of haar perseel; of
(c)enige waterbron of ondergrondse aar,
binnedring.

46. Waterbeperkings

(1)Die raad kan, wanneer daar ’n skaarste aan grootmaatwater vir verspreiding en voorsiening aan verbruikers is, of vir enige ander goeie rede, deur middel van openbare kennisgewing—
(a)waterverbruik in die munisipale gebied of ’n deel daarvan—
(i)in die algemeen of vir spesifieke doeleindes;
(ii)gedurende spesifieke tye van die dag of op spesifieke dae; en
(iii)op ’n spesifieke metode,
verbied of beperk en
(b)ondanks die bepalings van die Tariefbeleidverordening
(i)beperkings op die hoeveelheid water wat gedurende ’n gespesifiseerde tydperk verbruik mag word;
(ii)gelde bykomend tot daardie wat voorgeskryf is in verband met die voorsiening van water wat die perk bedoel in paragraaf (i) oorskry; en/of
(iii)’n algemene toeslag op die gelde in verband met die voorsiening van water,
bepaal en oplê en
(c)beperkings instel, of ’n verbod plaas op die gebruik of wyse van gebruik of die aard van toerusting deur middel waarvan water gebruik of verbruik word, of op die aansluiting van sodanige toerusting by die waterinstallasie.
(2)Die raad kan die toepassing van die bepalings van ’n kennisgewing bedoel in subartikel (1) tot ’n spesifieke gebied en/of kategorië van verbruikers, persele en aktiwiteite beperk en kan op redelike gronde afwykings, vrystellings en verslappings van enige van sodanige bepalings magtig.
(3)Die ingenieur kan gelas dat ’n verbruiker op eie koste sodanige maatreëls tref, waaronder die aanbring van meters en toestelle vir die vermindering van watervloei, wat volgens die ingenieur se oordeel nodig is om nakoming van die kennisgewing bedoel in subartikel (1) te verseker.
(4)Die ingenieur
(a)mag, wanneer ’n verbruiker versuim om te voldoen aan die bepalings van ’n kennisgewing bedoel in subartikel (1), die watertoevoer na enige perseel inkort of, vir sodanige tydperk wat hy of sy dit wenslik ag, beperk; en
(b)moet die watertoevoer wat ingevolge paragraaf (a) opgeskort is herstel slegs nadat die gelde vir die afsluiting en heraansluiting betaal is.
(5)Die bepalings van hierdie artikel geld ook ten opsigte van water wat die munisipaliteit direk aan verbruikers buite die munisipale gebied voorsien, ondanks enigiets tot die teendeel vervat in die voorwaardes van sodanige voorsiening, tensy anders bepaal in die kennisgewing bedoel in subartikel (1)

47. Vermorsing van water

(1)Geen verbruiker mag op sy of haar perseel toelaat dat—
(a)water opsetlik of doelloos vanuit watertoebehore verspil nie;
(b)pype of watertoebehore, wat deel van ’n waterinstallasie is, lek nie;
(c)wanaangepaste of foutiewe watertoebehore in ’n waterinstallasie gebruik word nie;
(d)water uit ’n waterinstallasie wegvloei nie; of
(e)’n onoordeelkundige gebruik van water voortduur nie.
(2)’n Verbruiker moet enige deel van sy of haar waterinstallasie, wat sodanig verval het dat dit ’n gebeurlikheid gemeld in subartikel (1) tot gevolg het of sal hê, herstel of vervang.
(3)Elke verbruiker moet verseker dat die toerusting of materiaal wat aan sy of haar waterinstallasie gekoppel is, water doeltreffend benut.
(4)Die ingenieur kan ’n verbruiker by skriftelike kennisgewing verbied om enige toerusting in ’n waterinstallasie te gebruik, indien die benutting van water daardeur, na sy of haar oordeel, nie doeltreffend sal wees nie. Sodanige toerusting sal nie weer in gebruik gestel word nie totdat die doeltreffendheid daarvan herstel is en die ingenieur ’n skriftelike aansoek in die verband goedgekeur het.

48. Waterbesparingsmaatreëls

(1)Ondanks die bepalings van artikel 47(2), mag geen spoelurinaal wat nie deur die gebruiker aktiveer kan word nie, aan ’n waterinstallasie gekoppel word of toegelaat word om as deel van sodanige installasie te funksioneer nie.
(2)Alle spoelurinale wat nie deur die gebruiker aktiveer kan word nie en wat installeer is voor die inwerkingtreding van hierdie verordening moet, binne drie jaar na die inwerkingtreding van hierdie verordening, omgeskakel word na urinale wat deur die gebruiker aktiveer kan word.
(3)Enige kommersiële voertuig- of klere wassery wat na die inwerkingtreding van hierdie verordening opgerig is, moet sodanig opgerig en bedryf word dat 50% van die waterverbruik vir eie gebruik herbenut word.
(4)’n Spoelbak wat ontwerp is om saam met ’n toiletpan gebruik te word mag slegs installeer word indien die inhoudsmaat daarvan minder as 6 liter is en elke spoelbak moet ’n dubbele spoel meganisme hê.
(5)By enige waterinstallasie waar die loodgieterswerk ontwerp is om die waterdruk van die warm en koue watertoevoer by die stortklep te balanseer, mag geen stortkop met ’n vloeikoers van meer as 10 liter per minuut teen ’n drukking van 200 kPa, installeer word nie.
(6)Alle krane aan handwasbakke wat vir openbare gebruik bedoel is, moet oor ’n metingsmeganisme beskik wat nie meer as 2 liter water per keer vrystel nie.
(7)Enige besproeiïngsstelsel wat water afkomstig van ’n watervoorsieningstelsel gebruik, en wat ’n maksimum ontwerpte vloeikoers van meer as 60 liter per minuut het, moet toegerus word met ’n gepaste instrument wat die hoeveelheid water meet.

49. Wateroudit

(1)Elke persoon, uitgesluit persone in meervoudige wooneenhede, wat meer as 3 650 Kl per jaar, gebruik moet teen nie later nie as 1 Augustus van elke jaar ’n jaarlikse wateroudit op eie koste doen.
(2)’n Kopie van ’n wateroudit moet beskikbaar wees vir insae deur amptenare van die munisipaliteit.
(3)Die oudit moet besonderhede vervat van—
(a)die hoeveelheid water verbruik tydens die munisipale finansiële jaar;
(b)die getal persone wat op die perseel woon;
(c)die getal persone wat voltyds op die perseel werk;
(d)die seisoenale verandering in aanvraag uitgedruk in maandelikse verbruiksyfers;
(e)die metodes om waterbesoedeling te moniteer;
(f)die huidige inisiatiewe om wateraanvraaag te bestuur;
(g)die planne om wateraanvraaag te bestuur;
(h)’n vergelyking van al bogenoemde faktore met daardie wat aangeteken is vir elk van die voorafgaande drie jare (waar beskikbaar); en
(i)geskatte verbruik ten opsigte van die verskillende gebruike.

Deel 8 – Gebruik van Water Afkomstig van Ander Bronne

50. Gebruik van water afkomstig van ander bronne as die watervoorsieningstelsel

(1)Behalwe met die vooraf goedkeuring van die ingenieur en onderworpe aan sodanige voorwaardes wat hy of sy mag bepaal, mag geen persoon water vir huishoudelike, sake of nywerheidsdoeleindes gebruik of toelaat dat dit gebruik word nie, as dit van ’n ander bron afkomstig is as—
(a)die watervoorsieningstelsel, of
(b)reënwatertenks wat nie aan die waterinstallasie gekoppel is nie.
(2)Die bepalings van subartikel (1) stel nie ’n persoon wat goedkeuring verlang vry van die verpligting om die goedkeuring ingevolge enige wet van enige ander owerheid te verkry nie.
(3)Enige persoon wat goedkeuring ingevolge subartikel (1) verlang moet, op eie koste, bewyse tot bevrediging van die ingenieur voorlê dat die water afkomstig van sodanige ander bron voldoen aan of sal voldoen aan die vereistes van die toepaslike SABS Kode vir drinkwater en enige ander vereiste ingevolge hierdie verordening of enige ander wet van toepassing op die verbruik van water of dat die gebruik van sodanige water nie ’n gesondheidsgevaar inhou of sal inhou nie.
(4)Die ingenieur kan watermonsters afkomstig van ’n ander bron as die watervoorsieningstelsel neem en dit laat ontleed om te bepaal of dit voldoen aan die vereistes gemeld in subartikel (3).
(5)Die gelde verbonde aan die neem en toets van monsters gemeld in subartikel (4) is betaalbaar deur die persoon aan wie goedkeuring verleen is om water van sodanige ander bron te gebruik.
(6)Die ingenieur kan enige goedkeuring wat ingevolge subartikel (1) verleen is, terugtrek indien na sy of haar oordeel—
(a)’n voorwaarde wat ingevolge gemelde subartikel opgelê is, nie nagekom word nie; of
(b)die water nie meer voldoen aan die vereistes gemeld in subartikel (1) nie.

51. Boorgate

(1)Die ingenieur kan deur middel van openbare kennisgewing vereis dat—
(a)die eienaar van enige perseel waarop ’n boorgat is of, as die eienaar nie sodanige perseel bewoon nie, die bewoner daarvan, die munisipaliteit inlig oor die bestaan van ’n boorgat op sodanige perseel en om sodanige inligting daaroor te verstrek as wat die ingenieur mag verlang; en
(b)die eienaar of bewoner van enige perseel wat voornemens is om ’n boorgat op sodanige perseel te sink, die munisipaliteit inlig oor sodanige voorneme voor enige werk in verband daarmee begin en om enige ander goedkeurings ingevolge die Omgewingsimpakstudie Regulasies en enige ander wetgewing te bekom, indien van toepassing.
(2)Die ingenieur kan vereis dat die eienaar of bewoner van enige perseel, wat voornemens is om ’n boorgat te sink, ’n omgewings impakstudie ten opsigte van sodanige voorgenome boorgat tot sy of haar bevrediging onderneem, voordat die boorgat gesink mag word.
(3)Elke eienaar of bewoner wat voornemens is om ’n boorgat te sink of in werking te stel, moet die munisipaliteit vrywaar van enige skade wat mag ontstaan, ongeag die oorsprong, as gevolg van die sink of werking van die boorgat.
(4)Die ingenieur kan, na kennisgewing aan die eienaar of bewoner of deur middel van ’n openbare kennisgewing, vereis dat eienaars en bewoners, wat bestaande boorgate vir huishoudelike, industriële of handelsdoeleindes gebruik—
(a)die goedkeuring van die munisipaliteit, ingevolge artikel 49(1) om ’n boorgat te gebruik, verkry;
(b)voldoen aan enige algemene of spesifieke voorwaarde wat in verband met die gebruik van ’n boorgat opgelê is; en
(c)die gelde verbonde aan die gebruik van ’n boorgat betaal.
(5)Die bepalings van hierdie artikel stel niemand daarvan vry om te voldoen aan die toepaslike bepalings van die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) of enige ander toepaslike nasionale wetgewing nie.

Deel 9 – Brandinstallasies

52. Goedkeuring van brandinstallasies

Aangesien brandinstallasies deur Deel W van die NBR reguleer word, kan die ingenieur na oorleg met die beampte in beheer van branddienste enige voorwaardes en vereistes ingevolge Deel W stel wat na sy of haar oordeel nodig is.

Deel 10 – Regsaangeleenthede

53. Nie-aanspreeklikheid

Die raad is nie aanspreeklik vir enige skade aan eiendom wat veroorsaak word deur water wat, na die herstel van die toevoer, as gevolg van ’n onderbreking vir welke rede ookal, uit oopgelate toebehore vloei nie.

54. Verhaal van koste en gelde

Enige persoon wat ’n bepaling van hierdie verordening oortree is aanspreeklik om enige verlies of skade wat die munisipaliteit as gevolg van sodanige oortreding ly, te vergoed.

55. Delegasie

Die munisipale bestuurder en die ingenieur kan enige bevoegdheid of plig wat ingevolge hierdie verordening aan die munisipale bestuurder of die ingenieur verleen of opgelê is, skriftelik aan enige amptenaar van die munisipaliteit delegeer.

56. Strafbepaling

Iedereen wat—
(a)’n bepaling van hierdie verordening oortree of versuim om daaraan te voldoen;
(b)versuim om te voldoen aan ’n kennisgewing wat ingevolge hierdie verordening uitgereik is; of
(c)versuim om te voldoen aan enige wettige opdrag wat ingevolge hierdie verordening gegee is; of
(d)’n gemagtigde verteenwoordiger of werknemer van die raad in die uitvoering van sy of haar pligte ingevolge hierdie verordening, hinder of dwarsboom is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete.
▲ To the top